Resensie: Weerskyn deur Alwyn Roux. Protea, 2024. ISBN 978-1-4853-1543-8
Resensent: Neil Cochrane
Ná die lees van Weerskyn, die debuutdigbundel van Alwyn Roux, bly my brein op één woord hamer, naamlik afgerondheid. Die bundel is met Eybersiaanse dissipline versorg en die plasing van gedigte is behoorlik deurdink. Debutantdigters kan Roux se bundel as ’n teksboekvoorbeeld gebruik van hoe deeglike bundelkoherensie en funksionele newetekste (soos die bundelomslag en motto’s) moet lyk.
Hulle kan ook baie wys word oor geduld en digterlike gestasie – skaars eienskappe in vandag se kitsbestaan. Dit is nou al meer as ’n dekade gelede wat Roux sy eerstelinge in Nuwe Stemme 5 (2013) publiseer en die tyd was ryp vir ’n solobundel. Roux is nou een van ses digters wat aanvanklik in Nuwe Stemme 5 publiseer en sterk debuutbundels die lig laat sien. Dit is jammer dat Nuwe Stemme-projek gesneuwel het, want dit was ’n goeie slypskool vir belowende digters.
Die volgorde van die drie bundelafdelings en gedigaanbod in Weerskyn weerspieël die spreker se outobiografiese reis. Die gedigte fokus breedweg op die volgende lewensfases: jong laerskoolkind, tiener, jong volwassene en gesinsman. Die spreker se outobiografiese trajek strek dan ook oor drie periodes, naamlik die apartheidsjare (1977-1994), die tydperk ná die politieke omwenteling (1994-2018) en die Covid-19-inperkingstydperk (2019-2021).
Duidelike tematiese en verstegniese raakpunte bestaan tussen die openingsgedig (“Teken”, p. 9) en die slotgedig (“Weerskyn”, p. 88). In “Teken” gaan dit om hoe die digter heeltyd besig is om verbeelde wêrelde te konstrueer tydens die digproses:
[…] Dit wat soos digters om woorde
soek na geheime en digter sluit. Wat bly oor van voëls
in nabootsing? Ek seël die woorde dig en droom
van voëls wat kennelik vermom as voëls gesing het.
Hierteenoor handel “Weerskyn” oor ’n terugkaatsing (of weerskyn) van die konkrete werklikheid as spieëlbeeld van die gekonstrueerde/nagebootste werklikheid. Die klem val veral op die digter se ongemedieerde en teenswoordige belewing van sy reële werklikheid:
[…] Dit wat soos digters om sinne
speur na waarheid en digter sluit. Wat bly oor van beelde
in weerkaatsing? Ek sit die skryfboek weg en kyk
hoe wolke kennelik as wolke oor die breë rivier
beweeg.
Benewens ’n koherente bundelstruktuur, getuig Roux se debuut ook van goeie verstegniese beheersing veral in terme van onkonvensionele versvorme soos die haikoe, pantoen, cinquanin en villanelle. Hy demonstreer sy vaardige hantering van die villanelle in gedigte soos “Onthou jy nog die see se blou?” (p. 75) en “die dodemis van Neptunus” (p. 79). Die villanelle is ’n komplekse versvorm wat maklik geforseerd en lomp in onbekwame hande kan voorkom. Dit is veel moeiliker om die kenmerkende refreinstruktuur en rympatroon van die villanelle in ’n vraag-en-antwoord-vorm te giet, maar dit is presies wat in “Onthou jy nog die see se blou?” gebeur. Dié spesifieke werkwyse aksentueer die ervaring van verdwaasdheid en verlies tydens die Covid-19-pandemie en bewerkstellig nog hegter eenheid tussen strofes:
Onthou jy nog die see se blou?
Iets vorm strak in die geheue.
Van blou onthou ek net die rou
Wat oorbly tussen my en jou?
Skakerings lug van berg en see.
Onthou jy nog die see se blou?
Van blou onthou ek net die rou.
Die Covid-19-pandemie vorm ook die tematiese spilpunt van ander gedigte in die derde afdeling. Die gedig “’n asemteug is lewe asem” (p. 67) is ’n naskrywing van Lucebert se “er is alles in de wereld”. Die deurlopende verwysing na “asem” en “lug” in die Roux-gedig sluit assosiatief aan by die tematiese klem op die Covid-19-krisis. In ander gedigte soos “Ten gronde” (p. 68), “dofverligte poort” (p. 80), “die sorge van die lewe” (p. 81) en “Skielik is daar minder oor van my as vroeër” (p. 82) verskuif die fokus na die intens persoonlike belewing van die pandemie veral in terme van die dood van die spreker se vader aan Covid-19-verwante oorsake. Een van die beste lykdigte in die slotafdeling is “Skielik is daar minder oor van my as vroeër” waarin die spreker sy ervaring van destabiliserende verlies eerlik verwoord:
Skielik is daar minder oor van my as vroeër
dit vermoed ek ná my pa se dood
dat hy in lewe ook aan my behoort het
soos elke ander ding op aarde: skemer,
sterre, wolke, genade […]
Die lykdigte oor die spreker se afgestorwe vader vorm ’n tematiese skakel met ander gedigte in die bundel oor die vaderfiguur soos “diensplig” (p. 24), “opdraandes is jou kos” (p. 25), “saalopening” (p. 27), “doodsberigte” (p. 28) en “voor 1994” (p. 29). In dié gedigte is die toonaangewende invloed van die vader prominent en is dit veral die spreker se begrip en agting vir sy vader (’n kapelaan) wat uitstaan. Soms grens dit byna aan ’n soort heldeverering:
ek onthou nie die teksvers nie,
maar vermoed dit het gegaan oor die kerk
as die liggaam van Christus
ek was tien jaar oud en in standerd twee,
en my oë was vasgenael op hom
net hom (p. 27)
In “voor 1994” word die vader se bevooroordeelde en meerderwaardige houding teenoor ander rasse wel ontbloot, maar in ’n groot mate kom die uitbeelding van die vader-seun-verhouding telkens op liefdevolle toegeneentheid neer. Dit kontrasteer skerp met ander representasies van dié verhouding in die Afrikaanse poësie, want in die meeste hiervan is sprake van verwonding, konfrontasie en ontnugtering. Ek dink hier in die besonder aan die werk van manlike en oorwegend queer digters soos Johann de Lange, Loftus Marais, Fourie Botha en Jaco Barnard-Naudé. Afwesige vaders is ook ’n sterk tematiese kern in die digkuns van Ronelda Kamfer.
Die gedigte oor die vaderfiguur sluit op ’n interessante wyse aan by die vaderskapsgedigte in die slotafdeling, naamlik “wiegeliedjie vir Sebastian” (p. 86) en “gesinsbeplanning” (p. 87). Dié twee gedigte plaas die klem op kontinuïteit, omdat die spreker nou self ’n vader is. Verder word die idee van voortgang versterk deur die plasing van die vaderskapgedigte ná die lykdigte oor die oorlede vaderfiguur.
Die insluiting van wiegeliedjies en die verwoording van selfopofferende liefde vir kinders kom selde in die werk van Afrikaanse manlike digters voor. Trouens, vaderskapsgedigte in enige vorm is ’n rariteit in vergeleke met die beduidende korpus moederskapsgedigte in die Afrikaanse poësie (dink maar aan Eybers, Krog, Jonker en Castelyn). Derhalwe is die representasie van vaderskap in Roux se debuut op sigself ’n ondermyning van die literêre status quo en stereotipiese beskouings van ouerskap.
Dit is opvallend hoe nou “wiegeliedjie vir Sebastian” tematies en verstegnies aansluit by bekende wiegeliedjies soos “Twinkle, Twinkle, Little Star” van Jane Taylor, “Lamtietie, damtietie” van C.J. Langenhoven en “Wiegelied van Brahms” wat deur Jan F.E. Celliers vertaal is as “Slaap, my kindjie, slaap sag”. Roux se wiegelied hoort beslis in ’n volgende uitgawe van Afrikaanse kinderverse.
In “gesinsbeplanning” is die spreker in ’n tweestryd gewikkel oor die moeilike besluit “om vir ’n tweede kind te probeer”. Die belangrikste rede vir sy vertwyfeling is ironies genoeg sy onbaatsugtige liefde vir sy eersteling wat terselfdertyd ook as “beweegrede” dien om wel ’n tweede kind te kry. Dié teenstrydigheid word op ’n direkte wyse in die tweede en derde strofe verwoord:
jy wil jou nie die swaarste indink nie
waag nie eens om die woorde oor jou lippe te neem nie
swyg by die beweegrede
waarom ’n tweede kind ’n goeie idee kan wees
want jy het lief buite jouself
het jou te buite gegaan
jouself verloor
in die grootmaak van ’n eerste
Roux betrek nie slegs die wêreld van vaderskap nie, maar put ook digterlike inspirasie uit die fisieke omgewing. Landskapsgedigte soos “reis deur die landskap” (p. 44), “Knersvlakte (p. 53) en “onrus” (p. 60) is volop in die bundel. Konkrete beelde word telkens goed en spaarsamig gekies om die essensie van ’n spesifieke landskap te ontsluit. Die spreker se perspektief op “landskap” is egter verwikkeld en behels meer as woordprente en ’n estetiese waardering of sensoriese verplasing. In Weerskyn sluit landskaprepresentasies ook aktiwiteite van mens, dier en objek in – ’n dinamiese soort habitat wat belééf word. Dié aspek word goed in “gewaarwording” (p. 54-55) belig – ’n reeks kort verse oor die Wakkerstroom-landskap in Mpumalanga:
windstil dakkraakmiddag die reuk
van tuinslangwater ’n gebrom van ’n vlieg
’n bakkie ver op die ritme hark die buurman
onder bome waar hy die perskebome snoei
hier waar die weiding meer as genoeg
voor die berg se voet uitstrek versamel
twintig skape kopomlaag
gesien deur die kamerdeur wyd oop
geraam terwyl jy op die stoep bene-opgetrek
by die tafel onder ’n kombers lees aan ’n boek
Twee gedigte in die bundel verdien spesiale vermelding, naamlik “kelp” (p. 34) en “swanemeer” (p. 78). In beide gedigte staan lyflike ervaring voorop en gaan dit spesifiek om die wêreld op ’n beliggaamde wyse te ervaar. In “kelp” dra die vloeiende en inkantererende struktuur van die pantoenvorm asook konkrete beelde uit die mariene lewe by tot die skep van ’n sensuele vers oor outoërotisme:
die kelp wat uitspoel ruik na see
jy voel oor die gladde huid
die streling neem jou mee
soos die branders se geluid
jy voel oor die gladde huid
onthou die eerste keer
soos die branders se geluid
toe jy masturbeer
Die uitmuntende “swanemeer” handel oor die gewilde YouTube video (https://www.youtube.com/watch?v=IT_tW3EVDK8) wat gedurende die deprimerende Covid-19-tydperk in 2020 aan miljoene mense ’n bietjie oplugting gebied het. Die spreker verwoord hoe die bejaarde ballerina en alzheimers-lyer, Marta Cinta González Saldaña, opnuut deur haar afgetakelde liggaam transformeer na prinses Odette. Ons het hier te doen met ’n beliggaamde verplasing na ’n wêreld wat in die verlede lê en slegs deur die ballerina se liggaamlike/kinetiese geheue bereik kan word. ’n Uitstekende vers oor die oorskryding van liggaamlike grense, ouderdom en siekte:
sy word verplaas na daardie sfeer
soos haar hande
bo haar kop uitvleuel
en word ’n swaan
asof uit die stram korset
van ouderdom beweeg
Roux is ’n meester van suggestie en onderspeling. In sommige gedigte moet die leser inderdaad tussen die lyne lees om agter die kap van die byl te kom. Goeie voorbeelde hiervan is “trappe van vergelyking” (p. 26), “Huiwering” (bl. 31) en “alge” (bl. 33). Laasgenoemde lyk oënskynlik na die niksseggende uitbeelding van ’n voorstedelike toneeltjie, maar as mens dieper delf kom jy agter dat dit eintlik hier gaan om ’n teer moment tussen vader en seun asook ’n tong-in-die-kies-uitbeelding van ontluikende seksualiteit:
ek skuur drooggeworde alge in ’n leeggetapte swembad af
en dink aan niks behalwe skuur van roesbruin flodder nie
flenter swamvlok tot in die modderwater af (die bietjie
wat ons nie kon uitskep met die emmer op die bodem nie)
soos die oggendson al strawwer in die Oos-Rand-hitte bak
kom skimmelspore makliker met growwer skuurders af
wys Pa na alge wat soos sperm lyk ek lag
“Vlieër” (p. 65) en “Klimmer” (p. 66) is onderskeidelik naskrywings van Van Wyk Louw se “Renboot” en Opperman se “Digter”. Beide naskrywings is voortreflik, omdat dit dui op aansluiting én uitbreiding. Dit sluit enersyds aan by tradisie van die gestaltevers; andersyds ontstaan nuwe betekenismoontlikhede deur die intelligente aanwending van alternatiewe beelde. Die invloed van Breytenbach is ook plek-plek in die bundel te bespeur veral in terme van verwysings na voëls, drome, ontbinding en landskappe. Dit is duidelik dat Roux literêre tradisies goed ken en op ’n innoverende wyse put uit die werk van literêre genote. Die klompie naskrywings en vrye vertalings van onder meer Les Murray, Edward Thomas en Louise Glück dien as bewys hiervan.
Benewens “Teken” en “Weerskyn” waarna vroeër verwys is, handel heelparty gedigte oor die digproses en die ervaring van digterskap. Goeie voorbeelde is “’n Vreemdeling se graf” (p. 10-11), “ars poetica” (p. 76), “ongekaart” (p. 84).
Met Weerskyn handhaaf Roux oorwegend ’n konvensionele inslag en die perspektief is behoudend, eerder as subversief en ontsluierend. Die bundel bevat dalk te veel naskrywings en die gedigte oor filosofiese beskouings (veral die Heidegger-naskrywings) raak verstrik in intellektualistiese en abstrakte metakommentaar. Die liefdesgedigte soos “fantoom” (p. 57), “lief” (p. 57) en “chanson” (p. 57) is beduidend analities sonder ’n emosionele en liriese impuls. ’n Ernstige en afstandelike toonaard domineer in die meeste gedigte en word selde afgewissel met ’n meer ironiese, satiriese en speelse alternatief. Sommige gedigte dui te veel op gemedieerde digterskap. Ek sou ’n groter mate van onbevange praktyk wou sien.
Afgesien van dié voorbehoude, beskou ek Weerskyn as ’n oortuigende debuut waarin verstegniese vernuf en tematiese verryking op ’n weldeurdagte wyse byeengebring word.
Ek het verskeie kommentare op hierdie en ander onlangse plasings verwyder aangesien dit nie voldoen aan Versindaba se beleid dat negatiewe kommentaar gemotiveer moet wees aan die hand van erkende literêre teorie en/of poëtiese praktyk nie. Sien by https://versindaba.co.za/2024/04/15/versindaba-kommentaar-fasiliteit/
– Marlies Taljard (Inhoudsbestuurder)
Ons dink ook aan die digkuns van Pieter Odendaal waarin die verwonding sterk verbeeld word in albei bundels.
Geluk ook aan die digter met sy onlangse bekroning deur die Akademie.
Lieflike bundel.