Hoe skryf ʼn mens oor ʼn stad? Hoe verbeel(d) jy ʼn stad? Stede verander soos mense, maar tog bly daar altyd iets herkenbaars oor. New York het hierdie skrywer in 1980 besoek vir die eerste keer. Hierna was daar verskeie ontmoetings voor en ná 9/11. Die stad se geweldige energie het met die aanval op die WTC bepaald verander.
Op ʼn keer reis ek óm die aarde; Hong Kong deur die VSA wat eindig in Istanbul. Dit was 2013.
Chicago bly ʼn baken. Die O’Hare-lughawe wat druk besig is met verskillende ingange en uitgange. Die stad van Saul Bellow, Mies van der Rohe met ʼn groter-as-lewensgroot standbeeld van Marilyn Monroe gebaseer op die 1955 film The seven year itch.
Billy Wilder se satiriese cross-dressing rolprent Some like it hot (1959) speel ten dele hier af. Met Jack Lemmon, Tony Curtis en Monroe. Die stad van die mafia en bootleggers.
Die stad van Wind. Vernoem na wilde knoffel, oftewel shikaakwa in Indiaans. Ook geroep die Modderstad. Die winters is baie erg …
Ons hoor ook Frank Sinatra sing oor hierdie stad:
https://www.youtube.com/watch?v=NoKn7vkSMBc Besoek 25 November 2023
Chicago, Chicago that toddling town
Chicago, Chicago I will show you around
I bet your bottom dollar you’ll have some fun in Chicago, Chicago
The town that Billy Sunday couldn’t shut down
On State Street, that great street, I just like to say
They do things they don’t do on Broadway
You’ll have the time, the time of your life
I saw a man who danced with his wife
In Chicago, Chicago my home town
Chicago, Chicago that toddlin’ town
Chicago, Chicago
…
ʼn Stad wat ecotones aktiveer.
Die digter I.L. de Villiers verbeeld Chicago uitstekend in sy bundel Vervreemdeling (2008).
Droom van Chicago
Jy was ʼn somer van ʼn plek waar vreugde soos ryp takke perskes hang
oor elke straat; die Watertoring waak en Sears & Roebuck dag en nag bly wink.
Jy was my hele buurt. Eendag het ek seepblasies met kinders probeer vang:
Wij blazen bellen aan de afgrond… Sondae was daar die Chicago Symphony,
die kunsvendusies – Renoir, Dalí – vaarte op die meer, net om jou kimlyn te beleef:
dit het in son en kleure uitgevlam, Monet se Rue Saint-Denis – die fees van 30 Junie.
Hoe wáár was jy: ʼn stad waar moorde ook mooi name kry: Saint Valentine –
jy van die Bunny Girls, die olie-en-effektebeurs, die Sun Times en die brug wat lig,
romantiese rampokkers, ou Mayor Daley se klein huisie met die breë Stars & Stripes?
Nou is jy na die jare net ʼn manjifieke bouval van ʼn droom, my stad.
Ek weet ook dít sal alles wegkwyn in die wanhoop van die noordewind.
Ek hoor in nanagte die meer se kabbels fluister waar ek oor die kuspad stap;
die eggo’s klink al hoe gedempter in die woude van my winterhart.
Die treintjies ratel nog, maar dof, hoog oor die strate winkels, aan ʼn ysterspoor.
Graffiti op ʼn muur – Alice, please phone Daddy! – snik ʼn pa se smart.
Die aandverkeer kruip aan in rooi remligte, stringe soos ʼn Kersfeesboom.
Alarmklokke lui langs die rivierkanaal, ʼn boot seil op, die brug gaan oop.
Straatligte bewe dounat; ek slenter saam met ander anorakke langs die stroom.
(Daar was soms optogte: aborsie, doodstraf, pikante moelahs teen die sjah –
die sweet het in hul baarde afgetap, elk met sy tjips en Coke en hamburger,
en met een vuis gebal. Hoe ver, onwerklik, was Iran, Irak, Suid-Afrika.)
Het ek jou in my hart gebou? My vliegtuig het geluier op O’Hare se aanloopbaan.
Het ek jou toegedraai in blinkpapier? Waar is die glans, die perskes aan die tak?
Eenkant in ʼn verligte saal het ek-in-jonkheid vir myself gewuif én daar bly staan.
*
Die leser vra saam met die digter: Het ek jou in my hart gebou? En: Nou is jy na die jare net ʼn manjifieke bouval van ʼn droom, my stad.
Die stad op Lake Michigan met uitsonderlike argitektuur (wat jy met ʼn rivierboot kan bewonder). Chicago is iets om te beleef. In 1871 was daar ʼn slopende vuur wat groot gedeeltes van die stad verwoes het.
Met I.L. de Villiers se debuut Leitourgos (1972) tot die slotbundel Vervreemdeling (2008) is die leser deurgaans bewus van sy enorme vakbeheer.
Tussenin is daar Manna oor die duine (1974), Gelykenisse en ander verse (1975), Leviet en vreemdeling (1978) en Jerusalem tot Johannesburg (2005). Religieuse verse, lykdigte, herinneringsverse …
Só het ek indertyd oor Chicago gedig oor die paradokse van mitologie en handel; teenstand en oorwinning; die tarot teenoor verganklikheid.
En die argitektuur van die stad word ʼn soort skryfkode. ʼn Stad wat oorleef en praat met ander stede. Chicago is ʼn stad wat my aanspreek en is ook ʼn intellektuele ruimte. Universiteit van Chicago waar Bellow was. En Hannah Arendt, o.a.
Chicago, ʼn meditasie
Godin Ceres staan hier op ʼn gebou,
ʼn Handelsgebou nogal,
en Lake Point Tower ʼn huldeblyk
van Mies van der Rohe se studente
aan die meester en op 333 N. Wabash
wys Onse Mies hoe mens dit nou eintlik doen.
This is the American saga writ large.
Vertrou geen stad sonder ʼn ferriswiel,
ʼn wiel vir geluk, selfs te vinde in die tarot.
Chicago verwys so na Wene en Tokio.
Maar geld praat deesdae harder as geluk:
Donald Trump troon met sy toring,
maak van alle wandel handel…
Less is more, meen onse Mies,
in ʼn stad van oorvloed, oordaad
en die Tweede Stad is een van oorwinning
na verwoestende aanslae en vuur:
Godin Ceres vervang deur ʼn feniks.
Uit: Meditasies. Human & Rousseau: 2014.
Die digter Carl Sandburg (1978 – 1967) skryf knap oor die brutaliteit van Chicago. So begin sy vers:
Hog Butcher for the World,
Tool Maker, Stacker of Wheat,
Player with Railroads and the Nation’s Freight Handler;
Stormy, husky, brawling,
City of the Big Shoulders:
…
En die slot:
Laughing the stormy, husky, brawling laughter of Youth, half-naked, sweating, proud to be Hog
Butcher, Tool Maker, Stacker of Wheat, Player with Railroads and Freight Handler to the
Nation.
https://www.poetryfoundation.org/poetrymagazine/poems/12840/chicago Besoek 25 November 2023
Verdere gedigte:
https://theculturetrip.com/north-america/usa/illinois/articles/7-poems-that-capture-the-essence-of-chicago Besoek 25 November 2023
Dit is ʼn stad van dhutanga of harde praktyk in Boeddhistiese terme. Elke digter verbeeld ʼn stad anders vanuit sy of haar belewenisse. Die gemoedstoestand en kennis speel uiteraard ʼn rol.
I.L. de Villiers se gedig is besonders: ʼn reisbeskrywing, ʼn nostalgiese verlange terug as ouer mens na ʼn tyd van geluk.
Geskryf uit die woude van sy winterhart.
Joan Hambidge
Bronne:
De Villiers, I.L. 2008. Vervreemdeling. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hambidge, Joan. 2014. Meditasies. Kaapstad: Human & Rousseau.
Snelling, John. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.
Ecotones:
Ecotones are areas of steep transition between ecological communities, ecosystems, and/or ecological regions along an environmental or other gradient. Ecotones occur at multiple spatial scales and range from natural ecotones between ecosystems and biomes to human-generated boundaries.
(https://www.google.com/search?client=firefox-b-d&q=ecotones) Besoek 25 November 2023