Daar is ’n bekende meem wat die rondte doen:
You’re not deep
You’re not an intellectual
You’re not an artist
You’re not a critic
You’re not a poet
You just have internet access
Ongeveer ’n jaar gelede het LitNet se gesiglose metaresensent, Crito, lelik deurgeloop toe hy/sy in ’n blog verwys het na die sogenaamde boekbeïnvloeders (“book influencers”) as “snotjantieties”. Crito se beswaar was dat elke tweede “resensent” op die sosiale media ’n mening het oor boeke, met die geïmpliseerde kritiek dat boekbeïnvloeders die rol van literêre kritici uitdaag en marginaliseer.
“Kom ons kyk na sogenaamde influencers. Mense aan wie uitgewers deesdae ’n boek gratis stuur met die versoek om die boek iewers te probeer resenseer of op sosiale media daaroor te skryf. Als binne die konteks van vandag se aktiewe sosiale media. Voorheen het sosiale media nie bestaan nie. Is dit nie slim van die boek se uitgewer om die boek in lesers se hande te plaas en dan vriendelik te versoek dat hulle daaroor skryf nie? Wat is nou juis oneties daaraan? Neem jy uitgewers dit kwalik? Indien wel, waarom?” vra die naamlose persoon, wat ’n onderhoud gevoer het met Crito op die LitNet-blog, “Crito antwoord kritici”. Sedertdien is Crito oor die kole gehaal, veral oor die skeldnaam wat hy/sy aan die boekbeïnvloeders gegee het: “snotjantieties”. Met Crito se beskouing is daar geen fout te vind nie: die skeldnaam kon wel gebly het. Crito se beswaar is dat die standaard van resensies afgeneem het en dat boekresensente soos paddastoele opskiet. In ’n vorige blog in 2021 het ek verwys na die groot toename in Facebook-resensente: https://versindaba.co.za/2021/11/24/nini-bennett-facebook-resensies-en-ander-vreemde-verskynsels/?fbclid=IwAR0969wAZFmvlIg1V2AwYHQC98gbadnCyH3v-Cuum3yXrSiPmVPEJPu_hYo
Maar nou, in lyn met aanlyn praktyke in lande soos die VSA en UK, is daar toenemend meer boekbeïnvloeders wat resenseer. Crito beweer: “Die probleem is nou net dat wanneer Jean Meiring die tyd en energie opsysit om ’n boek behoorlik te resenseer, daardie resensie met dieselfde gesag by die koerantleser aankom as ’n resensie deur Snotjantietie.” Crito het die verwysing na snotjantieties teruggetrek en ’n maand later is die Crito-prys vir die beste maandelikse lesersindruk op LitNet ingestel. Crito het ook bevestig dat hy/sy ten gunste van gesonde en sinvolle gesprekvoering en resensies is – en die hoop uitgespreek dat meer akademici in die toekoms gaan resenseer.
Inderwaarheid verwys Crito na die verskille tussen literêre kritici en boekbeïnvloeders, of selfaangestelde boekresensente. Ek het nooit voorsien dat dit nodig sou wees om die nodige semantiek by te haal in ’n gesprek soos hierdie nie. ’n Literêre kritikus (ook ’n resensent genoem), is ’n opgeleide literator wat beskik oor jare se studie in die lettere, ’n bewese belesenheid en kennisveld in literatuurstudie. Maar met die groeiende aantal boekresensente blyk dit dat enige persoon nou resenseer. Jan Alleman kan nie onderskei tussen ’n “regte” kritikus en ’n selfaangestelde resensent se resensies nie; en waar ’n kritikus ’n professionele loopbaan volg, skryf boekbeïnvloeders resensies as ’n stokperdjie, dikwels in opdrag van ’n uitgewer. (Dit is so goed mens gaan spreek ’n dokter sonder die nodige kwalifikasies, om dié metafoor te betrek.) Binne die literêre sisteem posisioneer boekbeïnvloeders hulle aan die kant van bemarking en is hulle sigbaar en herkenbaar aan hulle teenwoordigheid rondom uitgewers, asook die talle hutsmerke by hulle plasings.
So: wat is die verskille tussen kritici en boekbeïnvloeders?
Boekbeïnvloeders is individue wat hul aanlyn platforms gebruik om boeke aan hulle volgelinge aan te beveel, te bevorder en te bemark. Hulle plaas graag blogs op die sosiale media, deel video’s op YouTube of Instagram, of doen herplasings van bestaande literêre of ander boeknuus, soos die verskyning of bekendstelling van nuwe boeke. Hulle is tipies ywerige lesers, verwys na hulself as “boekwurms”, dat hulle “’n passie” het vir lees en dat hulle hul liefde vir boeke met ander wil deel. ’n Boekbeïnvloeder kan ’n sterk persoonlike handelsmerk bevorder en geïndividualiseerde aanbevelings van boeke doen, gebaseer op persoonlike smaak en voorkeur. Hulle tree in persoonlike gesprek met hulle volgelinge: interaksie met die gevolg (“following”) is van belang. Die sukses van ’n boekbeïnvloeder word onder meer bepaal deur die grootte van die gevolg. Bemarking en promosie speel ’n rol in boekbeïnvloeders se uitsette: hulle werk byvoorbeeld saam met uitgewers of skrywers om boeke te bevorder, soms in ruil vir betaling of vir gratis kopieë, soos reeds genoem. Hulle gebruik hul invloed om verkope te bevorder en ’n gees van belangstelling en opwinding rondom die aankoop of lees van boeke te skep. Daar word gedagtes, menings en aanbevelings oor boeke geruil. As digitale skeppers is boekbeïnvloeders chronies op soek na geskikte inhoud (“content”) rondom nuwe boeke: inhoud wat hulle óf self genereer, óf deel van ander webwerwe af. Die skep of deel van hierdie inhoud kan visueel aantreklik of prikkelend wees, en uiteindelik is dit die sukses of blote gewildheid van ’n outeur wat die deurslag gee.
Literêre kritici, aan die ander kant, is opgeleide professionele letterkundiges wat literatuur analiseer en evalueer. Hulle het ’n diepgaande begrip van literêre teorie of literatuurwetenskap en hulle gebruik hul kennis om nuwe werk te evalueer en te beoordeel. Literêre kritici kan resensies, essays, akademiese artikels en literêre boeke, soos literêr-teoretiese handleidings of literatuurgeskiedenisse skryf. Hulle werk word dikwels in akademiese tydskrifte, koerante, tydskrifte of op webwerwe gepubliseer. Dagblaaie se resensies/kunskritiek vorm ’n onderafdeling van hierdie kunsjoernalistiek. Die begronding van literêre resensies berus op resensiekunde en literêre teorie.
’n Kritikus sal ’n nuwe werk posisioneer binne die bestaande literêre sisteem en tradisie, in diskoers tree oor so ʼn werk, byvoorbeeld die impak daarvan op die groter literêre landskap, en insigte bied wat nie (net) op individuele voorkeure gegrond is nie. Kritici se resensies vorm deel van die korpus kanonieke gesag wat ’n rol speel in die toekenning van pryse en die plek wat dit binne literatuurgeskiedskrywing inneem. Die verantwoordelikheidsfunksie van die kritikus in die kanoniseringsproses behels dat hy as beskermer van die/’n tradisie optree. Die vernaamste vereiste wat aan ’n kritikus gestel word, is dan die vermoë tot estetiese beoordeling. Volgens Greer in Kleyn (2013) verskaf “die ware kritikus se oordeel ’n objektiewe aanduiding van sowel die artistieke gehalte van die werk as van die kommersiële waarde daarvan.” Jan Publiek het nog altyd ’n ambivalente verhouding jeens kritici gehad: Wanneer die resensie goed is, word dit opgehemel as die hoogste lof: “die resensente sê.” Maar wanneer die resensie minder gunstig is, dan verstaan die resensent nie die boek nie en word so ‘n persoon maklik “’n idioot” genoem.
Volgens Kleyn (2013: 84) word daar van die literêre kritikus verwag om ’n waardeoordeel oor ’n literêre werk te vel: “As daar geen waardeoordeel uitgespreek word nie, voldoen die resensie nie aan die eise wat gestel word aan die literêre kritiek nie.” Sy verwys voorts na Joan Hambidge se beskouing dat dit nie die resensent se verantwoordelikheid is om bemarking vir die boek te hanteer nie, en dat dit ’n onredelike verwagting van die uitgewer sou wees.
Inderdaad so – maak hoe gemaak as bemarking paradeer as literêre kritiek?
Sommige kritici voer aan dat boekbeïnvloeders nie gekwalifiseerd is om literatuur te evalueer nie, terwyl ander weer glo dat hulle ’n waardevolle rol kan speel om ’n groter verskeidenheid boeke aan ’n wyer lesersgehoor te bevorder. Peter Stothard, voormalige voorsitter van die beoordelaars van die Booker Prize, het jare gelede reeds gewaarsku dat die stortvloed aanlyn boekbloggers potensieel literêre kritiek kan benadeel. Hy beweer:
The main difference is, that a critique is written by an expert in the field, who will assess the piece of work much more objectively and usually from a more technical viewpoint, often with the aim of offering constructive advice and suggestions, while a review is often written by a layperson, which isn’t meant in a negative way, but simply describes that the person hasn’t had any formal training in the field, and a review is often more subjective and often results in an overall summary of the piece of work, usually a grade or rating of some sort. […] If we make the main criteria good page-turning stories – if we prioritise unargued opinion over criticism – then I think literature will be harmed. Someone has to stand up for the role and the art of the critic, otherwise it will just be drowned – overwhelmed. And literature will be worse off. […] If the mass of unargued opinion chokes off literary critics … then literature will be the lesser for it. […] There is a great deal of opinion online, and it’s probably reasonable opinion, but there is much less reasoned opinion.
Stothard is ’n groot puris en het selfs literêre blogruimtes met suspisie bejeën – alhoewel hy toegegee het dat daar enkele goeie literêre bloggers is. (Hy, Stothard, inkluis.)
Dit is inderdaad ’n bloeitydperk vir boekbeïnvloeders. ’n Paar moontlike redes is die volgende: (1) Met die uitbreek van Covid-19 en gepaardgaande inperkings het mense meer begin lees en het aanlyn interaksie toegeneem. Daar was ’n ontploffing in Booktok, ’n subafdeling van TikTok, veral onder generasie Y en Z – met die gevolg dat jongmense die pas begin aangee het vir wát om kwansuis te lees of nié. Enkele van die hierdie beïnvloeders het duisende of selfs miljoene volgelinge; en ’n nuwe plasing kan gekenmerk word deur ’n miljoen of meer trefslae, wat uit ’n bemarkingsoogpunt ’n groot invloed op die uitgewerswese en boekverkope kan uitoefen. BookTok het deurgesuur na die hele sosiale- en multimedia, wat momentum gegee het aan ’n ‘nuwe’ leeskultuur en aankope van boeke. (2) Uitgewers was genoop om feller as voorheen te bemark, en die internet was uiteraard die aangewese plek. Met die groeiende gevolg van boekbeïnvloeders is dit ’n logiese keuse van bemarking. (3) In solidariteit met skrywers, wie se boeke onwettig in.pdf-formate omgeskakel en rondgestuur word, het die leserspubliek meer boeknuus as voorheen begin deel en openlik hulle steun aan (Suid-Afrikaanse) skrywers getoon. Of hierdie lesersentiment bygedra het tot groter verkope, sal slegs ’n uitgewer se finansiële state kan wys.
Daar is boekresensente wat roem op die “honderde” resensies en artikels wat hulle geskryf het, maar op die keper beskou, is dit subjektiewe uitflertsings op Facebook. Álle boeke is goed of genietlik, en sodanige beïnvloeder herinner aan die Page of Cups in ’n pak Tarot-kaarte wat die blye estetiese tyding bring – en die ry hutsmerke onder die plasing word ál langer. Mense sonder enige literêre agtergrond of opleiding; hulle bedoelings is waarskynlik goed, maar hierdie praktyke skep onrealistiese verwagtinge ten opsigte van die (werklike) posisie van ’n werk binne die literêre sisteem.
Tipiese clichés wat in boekbeïnvloeders se skrywes voorkom, is “ek kon die boek nie neersit nie”; “my tone het omgekrul van lekkerkry”; “ek kon nie vinnig genoeg omblaai nie”; “die boek het my op die punt van my stoel gehou”; “dit is goed geskryf”; “lees die eerste proesel”; “daar is niks soos die reuk van vars ink nie”, en die “boek is ’n moet lees.”
Boekbeïnvloeders gebruik elke denkbare forum om nuwe boeke bekend te stel, te bemark, te resenseer of te gradeer. In teenstelling met hierdie innoverende bemarkingsmetodes het literêre kritiek ’n stowwerige, boekerige en argaïese bedryf gebly wat minder gelees word. Klagtes dat literêre resensies of kritiek soms te “moeilik” of selfs “elitisties” is, word afgespeel teen die blitsvideo’s op BookTok wat die voornemende leser in ’n japtrap – moeiteloos, sonder inspanning – inlig oor ’n nuwe boek. (Ter plaatse word kritici gestereotipeer as verhewe suurknolle wat pinkie-in-die-lug met hulle kelkies rooiwyn by ’n wynproe in Stellenbosch rondstaan.) Die gevoelswaarde, voorkeure en smaak rondom ’n onlangs gepubliseerde boek gee die pas aan vir boekbeïnvloeders. Die voornemende leser stel belang of die boek die moeite werd is: om tyd daaraan af te staan en of dit ’n aangename leeservaring sal bied. Spoedig het die kompetisie tussen die Booktokers in veral die VSA en UK begin – boekbeïnvloeders met hulle duisende of miljoene volgelinge het gelei tot ’n vólgende tsunami van boekbeïnvloeders. En BookTok ís ’n kragtige bemarkingsmiddel: by die bekendstelling van opwindende nuwe boeke oorsee word #BookTok-plakkate op die uitstaltafel met die nuwe boeke geplaas – ’n kits-kondonering – of is dit kanonisering? Verbeel ek my, of raak sosialemediagebruikers se aandagspan al korter?
Daar is, oorhoofs beskou, vier soorte boekbeïnvloeders:
’n Mega-boekbeïnvloeder het 1 000 000 of meer volgelinge. ’n Makro-boekbeïnvloeder het 100 000 – 1 000 000 volgelinge. ’n Mikro-boekbeïnvloeder het 1 000 -100 000 volgelinge. En die nano-boekbeïnvloeder het minder as ’n 1 000 volgelinge.
Dit sal mens ook nie verbaas as die invloed van BookTok groter word as dié van een van die grootste meningsvormers in die wêreld wanneer dit by boeke kom nie – Oprah Winfrey se Oprah’s Book Club het in die verlede onbekende debutante se verkope gelig van 500 000 tot 1 000 000 of meer. Om “Oprah se lys” te kon haal, was enige skrywer se droom. En ons almal weet dis nie Winfrey self wat die boeke lees en persoonlik met die hand uitsoek nie, dit is ’n span kenners wat dit vir haar doen, mense wat hulle storie kén.
Die skryf van produkresensies op die sosiale media en aanlyn winkels is lankal reeds ’n ingeburgerde kultuur. Enige persoon kan ’n resensie skryf oor ’n produk, diens, besigheid, en dies meer – en ’n gradering daarvan op ’n vyf punt-skaal doen. Ook die reuse webwerwe, Amazon en Goodreads, se verbruikersresensies is niks nuut nie. Die demokratisering van literêre meningsvorming het inderwaarheid jare gelede reeds begin. Jan Alleman kan nou die keuse van ’n boek resenseer en ’n ster-gradering gee. Maar hierdie graderingsisteem het in die verlede heelwat probleme opgelewer. Skrywers en uitgewers sou die uitkoms van die gradering kunsmatig probeer manipuleer, en die laaste strooi was dat resensies, wat deur kunsmatige intelligensie geskryf is, begin deursypel het na Amazon. Tans word Amazon se boekresensies deur masjienleerprogrammatuur bereken; dis nie net ’n blote gemiddeld van al die resensies wat ’n boek ontvang nie – sommige resensies word uitgegooi omdat dit nie outentiek is nie. Tog bly ’n leser maar kopsku oor produkresensies wat deur algoritmes voortgedryf word.
Binne hierdie klimaat, om nuwe boeke te gradeer aan die hand van ’n vyf ster-model, het boekbeïnvloeders begin om dié model na te boots en self, op die sosiale media, ’n gradering van nuwe boeke te doen. Dit is jammer, want die mentaliteit van verbruikersresensies vertroebel nou die waardeoordeel oor ’n werk (wat myns insiens die rol van literêre kritiek moet wees). En wat meer is: Om ‘n werk te gradeer, is om ’n stap verder te gaan as ’n literêre kritikus. Die boek word nie net gekwalifiseer nie, maar ook gekwantifiseer, wat lei tot die reduksie van boeke in vyf stereotipes. Sommige boekbeïnvloeders gradeer feitlik elke nuwe boek op hulle radar en op Facebook as 4/5 of 5/5: dit is ongeloofwaardig en die bemarking se onderrok hang lelik uit (hutsmerk: die uitgewer). Die speelveld tussen ontspanningsfiksie en literêre werk, soos poësie, is ongelyk – dis verstommend dat een van die beste bellettristiese digbundels van 2023 ’n 4/5-gradering kry, maar geklop word deur krimi’s, oftewel misdaadromans (5/5). Die grense tussen hoog en laag vervaag; nóg ’n kenmerk van boekbeïnvloeders se bemarkingsmaneuvers. (Literêre kritiek beweeg, in die reël, in ’n grys area.) Hierdie komieklike nabootsing van onder meer Goodreads skep ongefundeerde waardeoordele. In boekbeïnvloeders se resensies word die stem van die literêre kritikus nageboots, maar dié mense duik in die hek wanneer dit by poësie kom. Om poësie te resenseer vereis kritiese vaardighede, teoretiese begronding, belesenheid en ’n ruim kennis van poësie en haar tradisies – ’n kennisveld wat deur jare se studie verwerf en veredel is. Daar bestaan literêre tekste en teorieë wat buite die Johari-venster van die deursnee boekbeïnvloeder val.
In die blog, “Reader Haven” vertel ’n skrywer met die naam Taylor wat die vereistes is om ’n boekbeïnvloeder te word:
A book influencer (sometimes also known as a content creator or book reviewer) is someone who shares their favorite – or not so favorite – reads with others, essentially ‘influencing’ them on which books they may want to pick up.
An influencer’s audience may find that they have a similar taste in books, and come to trust that influencer’s judgement.
Sometimes, influencers will focus on reviewing new or upcoming book releases, but that’s certainly not a requirement to be a book influencer! In fact, there aren’t any requirements at all – other than just sharing your thoughts about a book with someone else. That’s it!
– Ja: daar is dit. Jy benodig net lugtyd. En ’n profiel op forums soos Bookstagram en BookTube sal baie help.
‘Outydse’ leeskringe, wat verantwoordelik was vir “edutainment” (opvoedvermaak), het aansienlik afgeneem en bestaan voort in die gedaante van privaat boekklubs en aanlyn leesgroepe. Boekbeïnvloeders is ook aktief op leesgroepe waar boeke en nuwe bekendstellings bespreek word. Alhoewel hierdie groepe ’n liefde vir lees mog bevorder, is dit ongelukkig ook so dat ’n negatiewe plasing oor ’n skrywer se werk ongefundeerd, en sonder konteks, kan geskied. Omdat ek nie ’n boek verstaan nie, hou ek nie daarvan nie / of is dit swak. Mense is lief daarvoor om dít te kritiseer wat hulle nie verstaan nie. Dit is jammer dat daar nie literêre advokate vir diesulkes kan opstaan nie; omgekeerd word swakker werk op hierdie leesgroepe oormatige lof toegeswaai.
Volgens Hambidge, aangehaal deur Kleyn (2013: 94-95) het elkeen ’n reg tot ’n mening. Dié situasie is dan “juis tekenend van ’n postmoderne era dat almal stemhebbend geword het”. Die sosiale media speel toenemend ’n groter rol in die bevordering van boeke en die uitgewersbedryf. “Social computing has created a shift from consumer culture to a culture of participation […]. This allows consumers to contribute to social collaboration and production instead of, simply, passively consuming products.” (Erasmus-Alt: 2019:96-97). In hierdie era van globalisering, met die ruim speelveld wat die internet en multimedia bied, moet outeurs en uitgewers aanpas en van hierdie sosiale kapitaal gebruik maak om hulle boeke te bemark. Die grense tussen sogenaamde “hoog” en “laag” in literêre werk (en boeke in die algemeen) begin verdwyn. Só deel PEN Afrikaans in hulle maandelikse nuusbrief alle gesaghebbende resensies wat tydens die voorafgaande maand verskyn het. Interessant genoeg word LitNet se lesersindrukke saam met hierdie resensies gedeel – is lesersindrukke nou ’n deelgenoot aan literêre kritiek? Enkele van die skrywers van hierdie lesersindrukke verwys na hulself as “resensente”. Wat mens weer laat met die semantiese dilemma: resensent; kritikus; skrywer van lesersindrukke. Met die instelling van die Crito-prys verlede jaar het lesersindrukke waarskynlik meer kanonieke gewig begin dra. Maar let wel: die subskrif, “Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur”, dra nie veel by tot ’n kritiese onderskeid nie, maar bevestig die beskouing dat die demokratisering van literêre kritiek ’n realiteit geword het.
Die literêre wêreld – of eerder: boekbedryf – het onherroeplik verander. Op talle multimedia platforms word boeke geesdriftig bemark, en van hierdie bemarking, soos die skryf van resensies deur boekbeïnvloeders, word gretig deur Jan Publiek opgeslurp as egte literêre kritiek. Wat sou die toekoms inhou? Dat die stem van literêre kritikus gemarginaliseer word, dat alle “boeknuus” in die vervaging tussen grense gelyk gemaak gaan word en generiese status sal geniet? Of sal ’n kritikus sy regmatige plek binne die literêre sisteem behou? Daar sal diegene wees wat ten gunste is van die behoud van die integriteit van die literêre kritiek; en ánder weer, wat die groeiende aantal boekbeïnvloeders met ope arms sal verwelkom, omdat daar moontlik ruimte vir almal in die boekbedryf is.
Maar dalk het T.T. Cloete die laaste sê.
Die kritikus
ek fanie vanderbag
is die maatstaf
al wie groter as ek is lag
ek tot formaat af
gee my ’n storie
wat vlot lees skryf net vir my soort
en vir my wat niks anders wil hoor nie
soos dit hoort
alle skrywers met pryse
en eregrade
al die wyse
literatore en rade
almal hoor hier is dwaas
vra my fanie vanderbag
koerantskrywer graphaas
ek het smaak met gesag
ek weet van klein en van groot
weet ek van eg en oneg
van wie vir kuns of brood
skryf wat goed is wat sleg
luister na my ek groot bee ek
daar moet tog goeie boeke wees
sê ek fanie vanderbag groot bee ek
soos van “Die skoenmaker en sy lees”
T.T. Cloete: Angelliera, p. 57
Verwysings:
Bennett, N. 2021. Facebook-resensies en ander vreemde verskynsels. https://versindaba.co.za/2021/11/24/nini-bennett-facebook-resensies-en-ander-vreemde-verskynsels/?fbclid=IwAR0969wAZFmvlIg1V2AwYHQC98gbadnCyH3v-Cuum3yXrSiPmVPEJPu_hYo (21 November 2023 besoek)
Cloete, T.T. 1980. Angelliera. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers Beperk.
Crito. 2022-10-31. Ongevraagd. LitNet. https://www.litnet.co.za/ongevraagd/ (19 November 2023 besoek.)
Crito. 2022-11-16. Crito Antwoord kritici. LitNet. https://www.litnet.co.za/crito-antwoord-kritici/?fbclid=IwAR1Ss5g24RbFX_ZQXU43LC6hc5QARryk2-Tk21MxLv5wNx7HVneTs6YBEuo (20 November 2023 besoek.)
Erasmus-Alt, J. 2019. Die bydrae van nie-artistieke praktyke tot die literêre sukses van eksemplariese Afrikaanse tekste. ’n Ondersoek na beeldvorming. Universiteit van die Vrystaat: Ongepubliseerde PhD-proefskrif.
Kinne, O. 2020. Critical Reviews – What’s the Difference Between a Reviewer and a Critic. There will be games. https://therewillbe.games/articles-essays/8018-critical-reviews-what-s-the-difference-between-a-reviewer-and-a-critic?fbclid=IwAR2ghF4DBtpSNnEsW8jZnzNU9f__to9i7umdhfr_oEeVzHKaUBG8vX-Zgn0 (21 November 2023 besoek.)
Kleyn, A.J.T. 2013. ’n Sisteemteoretiese kartering van die Afrikaanse literatuur vir die tydperk 2000–2009: Kanonisering in die Afrikaanse literatuur. Universiteit van Pretoria. Ongepubliseerde PhD-proefskrif.
Stothard, P. 2012. Books bloggers are harming literature, warns Booker prize head judge. The Guardian. https://www.theguardian.com/books/2012/sep/25/books-bloggers-literature-booker-prize-stothard?fbclid=IwAR3CzPRp9Jiht-nlrHeaxhnETv9sGx6h2RHLL9lBq759Efk5X5n48L4mY9U (20 November 2023 besoek.)
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.
Nini, ek het jou skrywe met aandag gelees en begryp nie waarom daar so ‘n storm losgebars het nie. Jy het net die blote feite nagevors en ter tafel gestel. Persoonlik sou ek verkies ek dat ‘n kundige ‘n werk beoordeel, want dan weet ek dat ek iets van waarde kan aankoop. Baie geluk hiermee!
Baie geluk met hierdie skrywe. Jy herinner mens weer wat die werklike verskil tussen lekemenings op Facebook en verantwoordbare resensies is. Jou essay het baie waarde. Dankie hiervoor.
Die ergste is dat so baie van hierdie stokperdjie- en leunstoelkritici op die keurpanele van die belangrikste literêre pryse dien. Sodoende word die kanon skeefgetrek.
Die onbedoelde gevolg van die prys wat Crito ingestel het, is natuurlik die feit dat dit die skrywers van lesersindrukke beloon, maar dat Crito in dieselfde asem kritiek uitspreek oor literêre kritici. Dit lei uiteraard tot ‘n verdere diskreditering van literêre kritiek, ten gunste van die groeiende aantal lesersindrukke.
Dankie vir ‘n besonders insiggewende en interessante artikel, Nini.