Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
31 December 2023

Resensie: Rumi: Liefdesverse en aanhalings

 

 

 

Resensie: Rumi: Liefdesverse en aanhalings. Vert. deur Dietloff van der Berg. Naledi, 2023.

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie pragvertalings is ‘n leeservaring wat elke leser wat belangstel in spiritualiteit moet ervaar en aankoop.

Rumi: Liefdesverse en aanhalings is ’n keur uit Jalāl al-Dīn Rūmī, die Midde-Oosterse Shakespeare soos hy genoem word, se omvangryke digkuns. Dit is uitgesoek en vertaal deur Dietloff van der Berg. Van der Berg is deeglik bekend met sy werk en het verskeie kere sy leefruimte besoek. Veral in die sestigerjare het Rumi besonder gewild geraak. In 2007 het UNESCO dit as die Rumi-jaar verklaar. Rumi is in 1207 gebore en sterf in 1273. Sy werk is in Persies geskryf, maar ook in Arabies, Turks en Grieks. Musiek, die digkuns en dans was vorme wat ons na God kan lei, was hierdie mistikus se geloof en hieruit het die Derwiese dansers se beroemde ritueel ontwikkel.

Hierdie mistikus het onder andere kwatryne (rubayat) en odes (ghazal) beoefen. Laasgenoemde ‘n uiters ingewikkelde vorm met ‘n koeplet wat met dieselfde woord (radif) eindig. Die laaste koeplet het selfs ‘n verwysing na die skrywer se naam. Die gedigte word gekenmerk deur liefdesverlange en mistieke besinning.

Van der Berg se boek het belangrike aantekeninge wat begrippe verklaar soos baqá (ewige lewe) of āyāt (verse in die Koran). Daar is selfs ‘n register wat die temas vir die leser weergee. En ‘n uitgebreide bronnelys wat die vertaler uiteraard besoek het soos F.D. Lewis, J.R. Osborne en R.A. Nicholson. En die Nederlander S.A. den Boer se Liefde is de weg (2007). ‘n Titel met vertalings heet tereg Swallowing the Sun.

Om ‘n vertaling te laat dans is altyd ‘n prestasie. Om ‘n gedig te vertaal uit ‘n totaal vreemde of onbekende taal is nog ‘n groter oorwinning.

En die groot lakmoestoets: klink dit na ‘n vertaling of klink dit na ‘n oorspronklike gedig? Laasgenoemde is waarskynlik by implikasie die groot toets, want ‘n goeie vertaler steek die drade en garing en spelde weg. En as Uys Krige gemeen het ‘n vertaling is soos om ‘n ander man se bruid deur ‘n sluier te soen, sal die leser weet wat ek met die verwysing na drade, garing en spelde bedoel.

Van der Berg volstaan met die volgende besinnings oor die vertaalproses:

“Reëlverwysings gegee, is volgens Nicholson (1926-40) se vertaling, wie se werk geredelik beskikbaar is vir nagaan van die getrouheid van my weergawe.”

Die vertaler bely dat hy telkens gewerk het met brontaalkenners en sy kommunikatiewe benadering tot ‘n mistieke teks. Uiteraard sal daar verskillende weergawes bestaan van ‘n Rumi-teks. Die vertaler is ook bekend met die Soefi-denke. Hy verwys ook na die spore van hierdie digter in Afrikaanse skrywers se werk soos Breytenbach, Hambidge, Harry Kalmer, Marlene van Niekerk en Winterbach (12).

Die vertaler wys ook op die verskillende stemme in Rumi se werk (19). As beeldende en dus konkrete digter praat sy verse ‘n universele taal.

Die metafore van klank en lig; die siel as ‘n flitsende spieël waarin God hom openbaar. Die gebruik van die fluit en waterbeelde. Ook die oester en pêrel vind ons in hierdie gedigte.

Daar is vele juwele:

 

29 Sielspieël

As jou bors vry is van jou inperkende ego,

dan sal jy die tydlose Geliefde sien.

Jy kan jouself nie sonder ‘n spieël sien nie.

Kyk na die Geliefde. Hy is die helderste spieël.

(186)

 

VI: 2505

Weet ware kennis is vuur helder raaksien,

nie klets oor rook wat bewys daar is vuur nie.

(137)

 

VI: 697

In stilte word ons gesprek meer klaarblyklik,

want begeerte word vergroot met onderdruk.

(133)

 

V: 1313

Kom Ewige, is tydelike nietig:

wat sou tydelike van Ewigheid weet?

(122)

 

Die gedigte moet binne die konteks gelees word as “wegmerkers”. Die leser, soos in die Koran, moet luister na die stem van die meester.

Hierom wegmerkers en ‘n waarskuwing teen aandagsoekers.

Die leser is deurgaans bewus van die monnikearbeid. Vertaling hier is ‘n liefdestaak.

 

II

Moderne digters het ook die vorm al aangewend.

So klink Late Ghazal van Adrienne Rich:

 

Footsole to scalp alive facing the window’s black mirror.
First rains of the winter     morning’s smallest hour.

Go back to the ghazal then     what will you do there?
Life always pulsed harder than the lines.

Do you remember the strands that ran from eye to eye?
The tongue that reached everywhere, speaking all the parts?

Everything there was cast in an image of desire.
The imagination’s cry is a sexual cry.

I took my body anyplace with me.
In the thickets of abstraction my skin ran with blood.

Life was always stronger . . . the critics couldn’t get it.
Memory says the music always ran ahead of the words.

Reprinted from Dark Fields of the Republic, copyright © 1995 by Adrienne Rich. With the permission of the publisher, W.W. Norton & Company, Inc.

https://shenandoahliterary.org/blog/2012/01/late-ghazal-by-adrienne-rich/  Besoek 27 Desember 2023

 

En die digter John Hollander maak ‘n grap met die vorm:

 

Ghazals on Ghazals

For couplets the ghazal is prime; at the end
Of each one’s a refrain like a chime: “at the end.”

But in subsequent couplets throughout the whole poem,
It’s this second line only will rhyme at the end

One such a string of strange, unpronounceable fruits,
How fine the familiar old lime at the end!

All our writing is silent, the dance of the hand,
So that what it comes down to’s all mime, at the end.

(…)

 

https://poetry-revolution.tumblr.com/post/40934442371/ghazals-on-ghazals-john-hollander Besoek 27 Desember 2023

 

III

Een van die hoogtepunte van my lewe was ‘n ervaring om Derwiese dansers te beleef. Hieroor het ek verslag gelewer:

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=derwiese+dansers  Besoek 22 Desember 2023

 

Derwiese dansers

 

Op ’n keer sien ek

Derwiese dansers

in ’n sirkelgang

soos ’n sissende slang

met rokke wat swaai

in selfhipnose

amper nes ’n trans . . .

Op ’n keer eenmalig

Derwiese dansers

dansend ’n dáns

op ’n sewe maatslag,

tollend weg van die ek.

 

(Opgeneem in Vuurwiel. Human & Rousseau. 2009)

 

Goddelike genade weet ons uit Rumi is vir die mistikus soos water vir die vis; die dors kan helaas nooit geles word nie …

 

Vir vorige vertalings deur Van der Berg:

https://versindaba.co.za/2023/07/03/dietloff-van-der-berg-rumi-vertalings/ Besoek 29 Desember 2023

 

Daar word dikwels na Jalāl al-Dīn Rūmī, wat nou in die Weste bloot bekend staan as Rumi, verwys as die Shakespeare van die Midde-Oosterse wêreld. Sy werk het in vertalings ‘n geweldige aanklank by lesers gevind en word as die topverkoper van alle digkuns in Amerika bestempel. My vertalings uit die Mathnawí hier aangebied is hoofsaaklik in die ghaselstyl met 11 lettergrepige pare soos die oorspronklike volgens my kommunikatiewe benadering tot ’n mistieke teks wat uiteengesit is in LitNet 15:1, 2018. Reëlverwysings gegee, is volgens Nicholson (1926-40) se vertaling, wie se werk geredelik beskikbaar is vir nagaan van die getrouheid van my weergawe.

 

 

Uit die Mathnawí

Die Rietfluitlied

I:1-181

Kom luister nou na die riet2 se hartseer klag

oor die pyn, na die skeiding, in elke dag:

“Vandat hul my uit die bed ontwortel het,

fluit my klaaglied elke mens se smeekgebed.

Ek soek na nog ‘n in twee geskeurde hart

wat ook kan deel in my verlangesmart.

Elkeen so ver weg van hulle bron geneem

verlang terug om weer daar te wees as een.

Ek kla my lot uit tussen skares alleen,

meng met hulle wat lag en hulle wat ween.

Dat ons vriende was, stel hulle tevrede,

nie een vra uit na my geheime rede.

My geheim lê digby wat my weeklag bring,

maar oog en oor kan nie deur die sluier dring.

Lyf en siel is nie van mekaar geskei nie,

tog mag niemand nou die siel te sien kry nie.”

Die geruis van die riet is vuur, nie wind nie:

mag wie sonder hierdie vuur is, wees soos niks!

Dis die Liefde se vuur wat in die riet is,

dis die Liefde se drif wat in die wyn is.

Die riet troos geliefdes van mekaar geskei,

sy toon het skerp deur ons sluier ingesny.

Wie het gif of teengif soos die riet ervaar?

Wie soos die riet medelyer of minnaar?

Die riet fluit oor die pad vol bloed wat voorlê

en wat mal Majnûn3 se liefdespassie sê.

Slegs sinneloses is dié sin beskore:

dié tong ken slegs die oor wat mistiek kan hoor.

Met ons smagting word die dae soos nagte:

ons dae reis saam met koorsige klagte.

Gaan ons dae verby, kan hul maar gaan.

U, die heiligste van almal, bly bestaan.

Elkeen word vol van water behalwe vis4;

elkeen sonder brood vind dat die dag lank is.

Groenes verstaan nie rypes in Gods bestel,

daarom moet my toespraak verkort word. Vaarwel!

 

  1. Die ghasel bestaan gewoonlik uit 3 tot 17 tweereëlige strofes of “beits” (Persies) met die rymskema aa, ba, ca, ens., maar Rumi gebruik paarrym.
  2. Die Persies ‘ney’ dui sowel die riet as die musiekinstrument, die fluit, aan.
  3. Majnûn, letterlik ‘die malman’, is die naam in die Persiese letterkunde wat Qays, Layla se minnaar, gekry het na hy smoorverlief op haar geraak het.
  4. Die goddelike genade is vir die mistikus soos water vir die vis, maar sy dors kan nooit geles word nie.

 

Gebod

II:1770

Liefdesgodsdiens verskil, het slegs een gebod;

vir minnaars is al godsdiens en credo – God.

 

Fases

III:527-30

Waarlik, van elke mens is vorm, fase een;

daarna kom die gees, mooi ingestel, se seën.

Als is eers vorm, dan kom die heerlike smaak

wat die ware betekenis daarvan maak.

Eers maak of koop hul ’n tent wat hulle pas;

daarna bring hulle die geliefde as gas.

Ag jou vorm as tent, jou wese die geliefde.

ag jou wese as piloot, jou vorm as boot.

 

Pêrels

IV:341–344

My woorde kom gebroke uit, hart gehaal;

dis pêrels en Gods jaloesie wat dit maal;

al is die pêrels klein gefragmenteer

word dit oogwater vir die geestesoog se seer.

O pêrel treur nie omdat jy gebreek word,

want deur gebreek te wees, sal jy ligstraal word.

Die woord moet so gebroke, in pleisters kom;

God, selfgenoegsaam, maak dit eindelik heel deur hom.

 

Sintuie

IV:425-33

Snags word elke huis met ’n lamp verlig

dat in sy lig mense duisternis ontvlug.

Die lamp is dié lyf, soos die dieresiel sy lig;

dit het dit en dat en ook ’n pit nodig.

Daardie lamp met ses pitte, ons sintuie,

is heeltemal gebaseer op slaap en kos.

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Joan Hambidge. Om ʼn stad te verbeel(d)
Joan Hambidge. Klimaks en denouement in ‘n gedig →

7e gedagtes oor “Resensie: Rumi: Liefdesverse en aanhalings”

  1. Ina Pretorius Pretorius says:
    9 January 2024 at 13:37

    Uitmuntend!

    Reply
    1. Dietloff van der Berg says:
      10 January 2024 at 14:52

      Baie dankie, Ina

      Reply
  2. Bester Meyer says:
    4 January 2024 at 13:43

    Baie geluk Dietloff! Ek het die bundel aangeskaf maar nog regtig daar by uitgekom nie, het die inleiding en paar verse gelees. Dit lyk sowaar wonderlik en kan nie wag om die res te lees nie. Die verg iemand met insig om Rumi te vertaal. Ek hoop die reis was, soos dit maar net kan wees, besonders. Dankie ook aan die resensent.

    Reply
    1. Dietloff van der Berg says:
      5 January 2024 at 16:52

      Baie dankie, Bester. Soos Joan Hambidge dit so mooi gestel het: ““Die gedigte moet binne die konteks gelees word as “wegmerkers”. Die leser, soos in die Koran, moet luister na die stem van die meester. Hierom wegmerkers en ‘n waarskuwing teen aandagsoekers. Die leser is deurgaans bewus van die monnikearbeid. Vertaling hier is ‘n liefdestaak.” Hoop jy geniet die lees.

      Reply
  3. Clarence Botha says:
    2 January 2024 at 12:29

    Van my kant ook, baie geluk, Dietloff – eerstens met bykans tien jaar se vasbyt en geduld om hierdie uitdagende onderwerp te pak, en sistematies en verantwoordelik die bundel saam te stel. En tweedens, met ‘n insiggewende en positiewe resensie deur een van ons top akademici, wat self ook bekend is met, en self ook die vereistes van digkuns ken. Die aangehaalde reëls uit die vertaling vloei lekker, en is ‘n goeie voorsmaak om die bundel self te bekom.

    Reply
    1. Dietloff Van der Berg says:
      2 January 2024 at 18:15

      Baie dankie Clarence. Ek waardeer veral ook die positiewe reaksie op die vloei van die verse.

      Reply
  4. Mellet Moll says:
    31 December 2023 at 19:36

    Baie geluk, Dietloff, met die uitstekende resensie! Welgedaan ook aan die resensent wat oudergewoonte nie teleurstel met haar ontleding en inskatting nie.

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: "Kinderlê" deur Lynthia Julius
  • Resensie: "Miniatuur". (Johann de Lange)
  • Boekbespreking: “Taboek” (Riku Lätti)
  • Resensie: “Stil gesprek” (Jan Pretorius)

Nuutste bydraes

  • AVBOB Persverklaring
  • Joan Hambidge. Die dood as solesisme
  • Onderhoud met Marthé McLoud oor “Ontbloot”
  • 100 Duitse Bestes: Rainer Maria Rilke (1875-1926) (II)
  • Joan Hambidge. Oosterse digkuns  Deel I

Nuutste kommentaar

  1. Ilse on 100 Duitse Bestes: Rainer Maria Rilke (1875-1926) (I)9 June 2025

    Dankie vir die lieflike vertalings!

  2. Heleen Louw on Jacobus Swart. Franz Kafka4 June 2025

    Treffend uitgebeeld. Jou vermoe om die essensie van 'n lewe' te omskryf is iets besonders vir my. En dan jou…

  3. Caren Kearley on Resensie: “Dawerende stiltes” (Caren Kearley)4 June 2025

    Dankie Maria, jy is welkom om my te kontak as jy een wil bestel. carenkearley@gmail.com. Ek is Ninni ewig dankbaar…

  4. Joan Hambidge on Ilse van Staden. Deursigtige oggend3 June 2025

    Beeldskoon hoe hierdie gedig vloei.

  5. Charl-Pierre Naude on Charl-Pierre Naudé. Mymering28 May 2025

    Hierdie is 'n interessante kommentaar deur jou, Hans. Dankie. Ek kou nog daaraan ... Ek moet nog jou opstel waarna…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d