heilige koeie
flink en kiertsregop in gelid sit die koppe in die diakenbank
riche nuveau maatskappydirekteure
met johnny bravo hare blink, mooi oor die ore, kaalslaap geskeer
en die ou ooms vooroorgebuig deur sonde en skuld
suig verwoed aan peppermente om brandewyn pypasem te verbloem
hier sit die judge en jury
regter assessore en gehoor
wat gedweë luister na die predikant se eentonige geteem
in ou houtbanke met bybel en psalmboekgleufies
hier, waar morele waardes nou doofstom is
eendag sal God kom en balju speel
beslag lê op heilige koeie, hulle uit slote grawe
die jonges wat net voor diens vinnig stripklubglitter van die skouers afstof
die aan wie die stank van wellus nog kleef
Hy sal die vrugte van die boom van kwaad aan hulle stamme laat vrot
Hy sal die edelbedoelings wat in euwel ontaard het, vergeld
Hy sal die som van reg en verkeerd bereken
alles wat vedoesel is openbaar
Hy sal die eis teen die mensdom indien
die straf in siele vereffen
en die wat geregtigheid ken, sal deur die poorte van die paradys loop
© Anne-Marie Bartie, 2023
Remember that the AVBOB Poetry Competition reopened on 1 August 2023. Visit our website regularly at https://www.avbobpoetry.co.za/ for editing tips and advice as well as updates about upcoming workshops.