Luiperd
I.
Lê ek dooierus op ’n tak
wasig gespikkeld tussen stippels
lig deur blare en vlekke skaduwee
onsigbaar in my habitat gewaan
vermoed ek die eko-toeriste
het my mimiek ontmasker
hulle maak ’n fout om te dink:
Hy spin net soos die kietsie-kat
op die rusbank tuis
II.
Perd van ’n ander kleur
soggens; hy wieg paadjie af
in sy kitsch jas van luiperdvel,
’n swinkstappie op kantelende pote,
lippe om ’n verbeelde seroet.
Deur snorbaarde soos ’n gigolo-moestas
kom dit voor asof hy sou smaal:
Ontbyt gaarmaak, is tog so ’n schlep
my kos kom wild, rou en op die kloutjie.
© Anton Döckel, 2023