Aksent
My vriend se stem
is ‘n Sondagmiddagslapie
– heel gemaklik
as hy Afrikaans praat
en hy is trots as hy grap
hy is van die Vrystaat,
die enigste staat, af
‘n feit wat hy verklap
wanneer hy met sy aksent
as Khaki moet aanmeld
want dan word sy mond ‘n slagveld
waar die spoeg van harde r’e en t’s spat:
‘Rite, hoes got a lite?’
sê hy as hy sy pyp wil aansteek.
Dit klap teen sy verhemelte
soos ou Sanna’s en mot-mausers
wat die engelse probeer afweer
maar daar is geen keer
aan die konstante konflik
tussen die vyandige twee.
Hy sê nie ‘yes’ nie, hy sê ja-nee.
Sy ‘now now’ is nie nou nie, dis eers later
en die verskil tussen ‘is’ en ‘are’,
tussen ‘their’ en ‘there’
sal iemand hom eendag nog moet leer.
Ja, my vriend se mond is te platteland,
sy asem te oop soos die Groot Karoo
en al is sy aksent vir ander ‘n klug
tussen sy tande bly lekker juis dit:
lekker!
Al koeksister sy tong ook al hoe
sal hy altyd weet
dat moerkoffie en mosbeskuit
saam bittersoet moet proe,
en sou hy homself ooit
in ‘n vreemde land
met ‘n vreemde taal bevind
bly sy tong ‘n mikstok, rooi gepunt
wat die kind binne hom
soos ‘n wiggelaar wys
waar lê boorgatwater op die plaas,
duskant die opstal,
agter sy huis.
© Eduan Naudé, 2023.

Ag dankie Nini 😉
Wat ‘n heerlike gedig, Eduan!