Outisme
‘n Foto is die wêreld vasgevang,
werklikheid in ‘n geraamde tydstip.
Maar hý is konstante sensoriese kontinuïteit,
voortdurend intyds, hulpeloos behep:
As sy hand teen die deur tik
saam met die buurman se grassnyerritme,
weerklink die vibrasies van die by
wat om kelkkleure op die vensterbank
dans, deur die swoel van hitte
wat ma se alomteenwoordige skadu
oor die vloer laat val en vloeibaar
die blootstelling dam op teen die muur,
loop uit deur die gang; hy wag
oorbewus bot met oop sluiter-oë
‘n mens as neurologiese negatief, oorbelig
vir altyd heilig wit gebrand.
© Eduan Naudé, 2024
Vaardig. Knap!!