logos (grieks- meervoud logoi)
logos die plek waar woorde woon
woorde wat soos frangipani ruik in die somer
as asblou lug lou om jou voete vou
– gekoesterd teen jou bors aan die slaap raak.
logos is die plek waar woorde statig, geboë loop
agter op jou tong lê, skerp soos leiklip teen jou mondholte skuur
daar waar woorde geen terugkeer het nie
geen omkeer, weerkeer of nakeer nie
waar woorde ʼn eenkeer is
wat smelt soos ysbloed in die reën
logos is die vesting waar ek woon
semantiek wat soms gaan rus teen
die vreemdheid van my eie rug
woorde is waar ek veilig voel
sinne, frases suiwer my, vernuwe my
woorde is al wat ek oorhet
dit
wat bibberend verfrissend
ylend in flagrante eerlikheid
soos nageboorte met ʼn kloppende naelstring aan my lippe hang
© Anne-Marie Bartie, 2023
Anne-Marie Bartie Logos is n pragtige gedig.
Die digter betrek ons op alle emosionele vlakke by die gedig ,van die blydskap wat ervaar word deur soete gedagtes wat soos frangipani ruik en troos bring tot die verligting en vryheid wat ervaar word deur uiting te gee aan wrang woorde wat vlymskerp op die tong lê. Die verwysings na die woorde wat smelt soos ysbloed in die reën sê so baie.