mosaïek
my lief, ek wil vanaand met jou praat
oor my hande wat die pen van my woorde vashou
oor die labirint waarin ek verdwaal
ek wil met jou gesprek voer oor
hoe agterlosig lief ek jou steeds het
hier tussen kastrolle vol appelkose in warm stroop
vadoek oor die skouer
ruik jy die steranys
die naeltjies, die bas van kaneel
weet jy, lief, hoe ek jou onthou
as die wit vlieswolkies in geskroeide somerlug
heilig en rein rustig roer
ek sleep werktuiglik die metaallepel deur die vrugte
my hart in my, ‘n kinderlose baarmoeder
bar en leeg
sien jy, lief, oor die onderdeur
hoe ‘n mosaïek van gekleurde trane
‘n reënboog breek
© Anne-Marie Bartie, 2023

Weereens raak Anne-Marie Bartie aan ons hartsnare met haar gedig van n liefde wat nooit tot voltooiing gekom het nie. Met haar gedig Mosaïek ervaar ons saam met haar die hunkering na die liefde wat was, maar ook nogsteeds is. Weereens finominale skryfvaardigheid.