Margaret Cordier
Feesmaal
Here bring vir ons U goue son
antwoord ons gebede wat wierook brand
in die mirre van duisternis
oor elk verskroeide land
laat wyses U ster weer sien
reisigers ‘n blyplek vind
die wat ver is van die fees
nader kom deur die Gees
dek vir ons ‘n tafel in die woestyn
waar almal en alleen, saamgetrek
in families vreugde vind –
verkwik word met U brood en beste wyn
*
Hennie Maartens
die heiland kom
skaapwagters en skape het dit gehoor
die heiland kom die heiland kom
die blye boodskap is oorgedra deur die enegele koor
die heiland kom die heiland kom
sterrekkykers het stip na die lug gekyk
die middelster het hulle oog gevang
hulle kon nie van die teken wegkyk
hulle hoorders het aan hulle lippe gehang
reg bo op ‘n stal in Bethelehem het die ster bly hang
tot almal se verbasing is ‘n kindjie daar gebore
tussen die strooi en skape is daar na ‘n bedjie verlang
sonder die geboorte is die mensdom verlore
die heiland kom die heiland kom
die heiland het ook vir jou en my gekom.
*
Anne-Marie Bartie
Kersfees op Noordhoek
die gemésde ooi is dae voor die tyd bewerk
saaltjoppies gesaag, ʼn sóg geslag vir wors
sorgvuldig, netjies gepak, gemerk
in die parafienkoelkas in die buitespens
heel kumkwart preserve sóét koerkoer-stukke
van die spensrak afgestof met soveel liefde
álles vir die geleerde broer uit die Kaap
ek, die broer se kind, ʼn vierdegeslag Van der Merwe
kleinste, jongste, vir wie die volkies op oukersaand
spesiaal voor die deur kom sing
Stille Nag met pláásneefs
een van landbouskool, een op pas
(met vergunning van Youngsfield)
ék, vyfuur Kersoggend, wat in die koeistal
tussen hooibale vir Maria en Jesus soek
niggie-dorp met haar uitklokrok
en nefie-dorp, ʼn skraal netjiese gentleman
ons wat sit-lê op plate skaapplaatsgras
op Kersdag, onder koel akkerbome
op Noordhoek se werf
Olifantsrivier se ruis ‘n ent pad-af
oompie se Joseph Rogers wat waatlemoen slag
soet rooi kroonstukke vir grootmense
Citrusdal-vrede in my kinderhart
my pa se laggie onder sy hoed
my má se trifle in laterjare
my eíe trifle daarna
my dogters se trifle vanjaar
my kleinseuns wat om my klóék
pláásfees nou n spóóknoot in my Onse Vader

Die gedig wek nostalgie en emosies van jare gelede wat met vandag se pen ingekleur word.