WENNERS VAN DIE PLEK / LANDSKAP & SOMER- KOMPETISIE
Baie dankie aan elke digter wat deelgeneem het aan hierdie kompetisie. Daar het heelwat goeie gedigte ingekom en die keuse wat beoordelaars moes maak, was moeilik. Uiteindelik het beheersing van die betrokke vorm (sonnet en kwatryn) die deurslag gegee. Hieronder is die wenners van die onderskeie afdelings:
WENNER VAN SONNET-AFDELING:
ILSE VAN STADEN
WENNER VAN KWATRYN-AFDELING:
JOAN HAMBIDGE
WENNER VAN VERS EN VROU:
DIETLOFF VAN DER BERG
***
Somer in die Waterberg
(vir Marcella)
Eenmaal het jy gevra dat ek
die somer as ʼn haikoe skryf,
die woorde het jy self verstrek:
wit vlinders wat deur warm dae dryf,
wit vlinders in die Waterbergse somer
asof dít vir jou die essensie was
(jy was maar altyd ʼn dromer!)
wat ek in drie versreëls in moes pas.
Maar nou skryf ek vir jou die donker stroom
met babers en waterlelies, die bang
vir rinkhals en luiperd, ʼn doringboom
waaraan bloeisels geelpers lanterns hang,
droogtes en donderbuie en wye blou lug
in die veertien reëls van ʼn onthou-gedig.
© Ilse van Staden, 2023
Lees by die volgende skakel meer oor die sonnetvorm: https://www.literaryterminology.com/index.php/s/231-sonnet
***
Landskap
In die Hoëveld van ons jeug skyn die helder son:
daardie strale lewegewend oor die groen natuur
met veryste waterdruppels in winters tog verduur;
steeds daardie sonwarmte nog in my Standerton.
© Joan Hambidge
Lees by die volgende skakel meer oor die kwatrynvorm: https://www.literaryterminology.com/index.php/k/103-kwatryn
***
Duzikleigat
Vereensaam in sy somer skeppingsplek
gryp hy met soepel hand eers gou die klei
waarmee deur dit verdig en taai te brei,
hy daagliks soek na nuwe lewe wek.
Hy skep ʼn romp en sit daar bene aan,
en dan die stert en ook sy grote kop,
nie ongerymd met skerpe horings op
tot dan so net die bees op maat daar staan.
In sy verbeelding sien hy helder klaar
hoe hierdie horings alles oop sal skeur
en ritmies, onverbid’lik voort sal beur
tot almal daardie beeld se krag ervaar.
Maar sonder eie nuwe skeppingsgees
bly elke bulvers net vyfvoetig bees.
© Dietloff van der Berg, 2023
Veels geluk aan hierdie waardige wenners.
Pragtig!