Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?
Hierdie klassieke en beeldskone vers van Olga Kirsch laat ‘n mens nadink oor die wending (denouement) in ‘n gedig. Volgens Brooks & Warren is die denouement die sogenaamde “unfolding of the plot”. Soms, maar nie altyd nie, kan dit saamval met die klimaks in ‘n verhaal. Dieselfde geld ‘n gedig.
Waar is die wending in hierdie gedig?
Die gedig word geknyptang met die eerste en laaste reëls wat identies is. In die middel (die hart van die vers) is die rympatrone opvallend: stil/gul/kil. Van stilte tot gulheid (oordaad) tot kilte.
Die twee identiese reëls dui op terugskoue: die spreker is bewus van pynlike eindes en ontnugtering.
In ‘n prosateks sou ons verwys na ‘n ouktoriale verteller wat beheer en manipuleer. Hier is die wending opgesluit tussen: die middag ruim en warm en gul en die afdraand van die dag is kil.
Die woorde ruim, warm en gul beklemtoon die geluk en oordaad teenoor die kilte wat volg. Waaroor gaan hierdie gedig? Oor die einde van ‘n liefdesverhouding? Oor ‘n persoon wat terugdink aan ‘n lewe en nou op haar gevorderde leeftyd nadink aan alles wat sy beleef en deurgemaak het?
Elke leser sal waarskynlik iets anders projekteer op hierdie klein, dog manjifieke vers. Die vers se subtiele tydsverloop is eweneens opvallend. Dinge gebeur selde skielik; by nadenke kan ‘n mens dikwels ‘n bepaalde oomblik identifiseer as ‘n keerpunt of wending in jou lewe.
Dieselfde geld ‘n gedig.
In herinnering ontdek ‘n mens momente of oomblikke waar jy iets – by terugkyk – moes raakgesien het. En omdat jy die tekens ignoreer het, het die “gulheid” verander in iets negatiefs?
Die lewe is helaas nie perfek nie.
“Where would the art of fiction be if there were no double meanings? What would life itself be if there were only heads or tails, with nothing in between?” So lees ons in J.M. Coetzee se “As a woman grows older” opgeneem in The Pole and other stories.
Gedigte werk met dubbele ladings en ‘n klein gedig (soos ‘n kwatryn, tanka, haiku, epigram) verbyster en verbaas júis hierom.
Opperman en Eybers het meesterlik hieraan gestalte gegee.
Wat ons terugneem na twee gesprekgenote opgeteken deur Johann de Lange.
Elisabeth Eybers & Olga Kirsch
Kaapstad 1979, ’n laaste besoek
Vriende, én eensame ballings van ’n taal,
het hul ’n laaste keer in die vlees ontmoet
in die Kaap van Storms; oor ’n laaste maal
‘n gedeelde taal gewissel, & gegroet.
‘n Duimnaelskets inderdaad. Maar gepak met implikasie: ballingskap, vriendskap, taal én afskeid.
Die afdraand van die dag is inderdaad kil.
Joan Hambidge
7 Januarie 2023
Bronne:
Brooks, Cleanth & Penn Warren, Robert. 1960. The scope of fiction. New Jersey: Prentice Hall.
Coetzee, J.M. 2023. The Pole and other stories. Kaapstad: Penguin.
De Lange, Johann. Duimnaelsketse. Gansbaai: Naledi.