Asem
Op pad van die huis
na die hospitaal
herlaai my hoop
dié keer ry ek op ’n lentedag
wat langs die strate wakker word,
opstaan en nuwe blare maak
Langs jou bed
flakker my hoop
soos ’n kers
voor jou asem
deur die masjien namens jou geblaas
om al twee van ons aan’t lewe te hou
Met jou hand in myne
voel jy die oortapping van my woorde?
– Dat jou tuin alreeds uitloop
en die rose wil blom
© Anton Dockel, 2024