broer
laataand bel hy
kan ek by jou kom bly
my huwelik is verby
ek maak my spaarkamer reg
he ain’t heavy he’s my brother
met ʼn verbleikte toksak daag hy op
ek het vir jou ʼn rak leeggemaak
jy kan jou klere uitpak
wees tuis
dae later in sy kamer
sukkel ek die lessenaarlaai oop
my broer se broeke en hemde
ʼn paar ou onderbroeke
tot barstens toe vol
ek huil nou nog oor daardie laai
is dit wat van jou oorbly
ingeprop in die kleinste laai
terwyl die groot rak in die klerekas
leeg staan
© Ihette Jacobs, 2024
‘n Pynlike vers. Cutting down to size, hierdie ervaring. Mooi en aangrypend beskryf.