Tweefontein
maar nou verkoop ons dit, word ons die eerste geslag
sedert 1828 wat nie kan sê: “ons plaas” of “plaas toe” nie
-
- Antjie Krog, “koopkontrak” (Plunder, 2022)
ek was sestien
toe my ouma die plaas verkoop het
my voete vasgerank in die grond
soos die druiweprieel by die stoep
my ore toegespits op die voëls
wat teen die skemer raas
in die populierbos
ek sien nog my ouma uit die kombuis bars
die gaasdeur wat klák klik-klik-klik agter haar
sy versprei oor die werf
roep die honde
kook die seep
ja die hoenders aan
en trek in die verbygaan ʼn bossie uit die roostuin
en ek wonder of sy weet hoe die bloekombome ruik
wanneer jy in die koel laning afstap
en die blare die stilte om jou oopmaak
hoe die uitspoelgate in die rotse op die koppie
glad en warm onder jou tone voel
hoe die spikkels lig in die skuur deur die sandsteen val
en deel word van jou vel
hoe jy stories uitdink vir elkeen van die ou grafte
grafstene wat jy nou net in braille kan lees
hoe die akkedissies skarrel al langs die kraalmuur
wanneer die reuk van die heilige modder onder die varke se voete
aankom op die wind
maar dit sal ek nooit weet nie
sy is nou weg
en saam met haar
my laaste stukkie rooigras en stilte
© Ihette Jacobs, 2023

Uitstekend Ihette!! Love it!!!!♥️ Sien uit na sommer nog baie gedigte….
Fantasties, Ihette!
Ongelooflik, Ihette!
Werklikwaar ‘n aangrypende gedig.