Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
4 March 2024

Joan Hambidge. Portretvers (Eybers)

 

 I

By die Wits Arts Museum, Maandag 26 Februarie, op die geboortedag van Eybers, het Marlene Dumas haar portret van die gevierde digter Elisabeth Eybers oorhandig. Ena Jansen het die gesprek gelei, wat op film vasgelê is, met Engelse onderskrifte. Daarna het Dumas en Eybers insigryk gepraat oor die maak van hierdie portret en Eybers se bestaan in Amsterdam (ook tydens die apartheidsjare).

Jansen se belangrike studie Afstand en verbintenis karteer die paradoksale bestaan van hierdie digter: woonagtig in Nederland; dog verlangend na Johannesburg en haar lewe aldaar.

Dumas wys daarop dat hierdie portret ‘n “stand in” word vir haar moeder wat in dié tyd toe sy dit geskilder het, oorlede is. En die swart oë verwys na haar bababoet se ogies. (Die broer is onlangs oorlede.) Haar studio is haar huis; net soos Eybers se gedigte ‘n soort woning was vir haar.

Jansen wys daarop dat Eybers, ofskoon ook ‘n bekroonde en geroemde digter in Nederland, nooit in Nederlands geskryf het nie.

Johan Myburg gee ‘n uitstekende oorsig van hierdie geleentheid:

Hy verwys na Dumas se oorsig-uitstalling Intimate Relations (2008) en hoe hy toe reeds getref was deur dalk die ekonomiese lyn en kleurgebruik en veral deur die priemende oë van die digter.

(‘n Tersaaklike opmerking: omdat Eybers ekonomies dig.)

Die portret het Eybers net in die katalogus van die uitstalling gesien met ‘n vertaling van ‘n gedig uit Bestand (1982):

We fixed our gaze on another / at a moment unfettered by time …

Myburg beklemtoon dat sy nie “sitters” gebruik haar portrette nie, omdat die binne-wêreld waarskynlik vir haar belangriker is.

En die groen in die agtergrond verwys na die groen rok wat Eybers aangehad by een van hul ontmoetings.

‘n Kleur wat in Dumas se kop vasgesteek het …

https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/kuns/marlene-dumas-skenk-eybers-portret-aan-wits-kunsmuseum-20240227 Besoek 3 Februarie 2024

 

II

Elisabeth Eybers is ‘n besondere digter. Die eerste gepubliseerde Afrikaanse vrouedigter. ‘n Ikoon.

Nie alleen spreek Eybers belangrike temas oor vrouwees aan nie, maar veral haar spel met taal, is besonder tersaaklik. Hein Viljoen het uitgebreid en insigryk oor hierdie kwessie geskryf in ‘n artikel ‘Die choreografie van ontwyking’: Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers.

In die opsomming skryf hy:

Hierdie artikel is ‘n verkenning van die opvallende gebruik van woorde met die voorvoegsels on- en ont-, asook ander negatiewe, negativerende woorde, of terme van afstroping (soos die woord sonder en die agtervoegsel -loos, e.d.m.), in Elisabeth Eybers se poësie. Dit is ‘n hermeneutiese ondersoek van die moontlikhede wat negativerende uitdrukkings bied, en na die rol wat hulle in haar poësie en poëtika speel. Eybers roep dikwels ‘n alternatiewe wêreld deur negativering op. Dit is tekenend van haar digterlike ingesteldheid en haar poëtika.

https://literator.org.za/index.php/literator/article/view/1138/1608  Besoek 5 Februarie 2024

In hierdie bydrae is die fokus op die portret-vers. En hoe ‘n portret altyd ‘n dubbel-spel word van sowel die spreker as die geskryfde.

En waarom is daar verskillende weergawes of portrette van ‘n digter?

In Lykdigte (2000) word hierdie portret van Eybers opgeneem:

 

 

Elisabeth Eybers (1915 – )

 

Die predikantsdogter uit Wes-Transvaal

promoveer van intieme moederskap-

en herinneringsvers tot optekenaar

van verlies: van ver van jou goed

en na aan jou poëtiese wins leef, of na

aan jou vers bly en vér van jou minnaar.

Meet in ‘n liniaalland iets onmeetbaar

soos ingeperktheid, eensaamheid, kilheid.

In die omgekeerde teleskoop van verdriet

registreer jy beelde in ‘n sober tussentaal.

Soms laat die digter die voordeur oop,

‘n lig aan of laat die ketel oorkook: ‘n beeld

glibber in die donker voornag…

Voetjie-vir-voetjie, stadig, langsaamaan

word mens woordimmigrant: tel die woorde jou af,

reguleer die ritme jou lewe soos die tik-tak

van ‘n wekker ‘n slaaplose steur.

Ironie word ‘n bloeiwyse, die kruis

en munt van ‘n bloederige bedryf.

Leer ritmies reflekse van oorlewing aan,

selfs siekte se slopende houvas op rym geplaas.

Iewers staan daar geskryf: die digter leef haar

gedigte soos ‘n slegte gewete of herinnering af.

Flink afgerig vir iets soos kil ironie

word meester van die pynlike prosodie.

 

In Vuurwiel (2009) staan hierdie een:

 

Sê groete vir Elisabeth Eybers 

 

Per palanquin, per palindroom,

per sms, per abuis, iets soos

‘n gedig na ‘poste restante’.

In ‘n somber eindjaar dalk ‘n dizain?

U hande was glo van altyd af onpaar,

tog kon u beelde goed boetseer.

Wie was Kontroleur de Laar?

Hoeveel verse reis ten slotte saam?

Per sms, immer iets soos perdalks,

per palindroom, per palanquin.

 

In Matriks (2015) staan hierdie vers:

 

Elisabeth Eybers

Marlene Dumas

 

Ek staan nie voor jou portret nie,

nee, dit afgetrek van ‘n webwerf

http://www.arttoday.be/dumas3-2.html

waar elke uiting, gedagte, kliek

opgevang en bewaar word:

selfs gedigte, moet jy weet,

word tans blitsig elektronies versend.

Anders as ‘n brief van jou aan my,

met ongebruikte posseëls

– vir hergebruik, maan jy ironies –

in die koevert toegevou

teen ‘n slakkepas

uit ‘n verre Amsterdam.

Nes die skilder wat langsaam

jou portretteer, beskilder en uitstal.

Hierdie is nie ‘n brief nie,

dis ‘n opname van ‘n kyker

wat ‘n gesprek tussen

‘n skilder en digter

opteken en verdraai.

“Stil en helder en apart”

kon jy, predikantsdogter

uit die dorre Wes-Transvaal,

jouself in woordportrette plaas.

Hoe raam ‘n mens tog ‘n vers?

Was die digkuns werklik

‘n onderdak of ‘n blote tussensang?

Hoe voel jy neffens Naomi Campbell

of Amy Winehouse?

In my troebel halfjaar

is dit jou oë

stip, agtervolgend

wat iets verraai:

voetjie-vir-voetjie

word mens woordimmigrant,

bekyk jy die lewe

vanaf ‘n sobere afstand,

is dit kruis of munt,

immer immer ter wille

van die ander dors

se hartritmiek.

 

In Asindeton (manuskrip) hierdie een:

 

Taksnommer 1284412036

 

Geen ode aan Kontroleur de Laar;

eerder ‘n lament dat in hierdie tyd

 

Jan Taks met stelligheid beweer

my opname is helaas nooit gestuur.

 

‘n Boete blyk nou my voorland,

al sou ‘n distigon my nood vertaal.

 

In watter gemerkte boks staan

die oorsig van verlede jaar?

 

Soveel boeke aangekoop, meer

of minder gereis; huis afbetaal,

 

versekering en medies hoër,

vir die afgetredene se uitkeer

 

met beleggings in blou lêers

langs terugbetalings en Eybers.

 

Hoe sal ek my nood bepaal

in die digkuns se desimaal?

 

Geen ode aan Kontroleur de Laar;

eerder ‘n cri de cœur vir hierdie tyd.

 

III

Hierdie gedigte sentreer rondom verandering in style. Die bewondering vir Eybers se stylbeheer is duidelik (die kenner van prosodie: véral die distigon, ironie, die belewenis van die lewe as ‘n kruis en munt …)

Die spreker sien veral die gedig as ‘n poste restante, met ander woorde, pos wat gehou word vir ‘n afgesproke tyd totdat die persoon dit sal kom afhaal. Ironies bedoel uiteraard, want alle digters weet dat gedigte dikwels nie afgehaal word nie (deur die aangesprokene) óf dat ‘n gedig jare later eers gelees of gebloemlees word.

Van lykdig tot ‘n vuurwiel in die matriks en uiteindelik ‘n taalspel of -verwringing: asindeton.

Van palanquin tot lament.

pə-ˈlaŋ-kwən. : a conveyance formerly used especially in eastern Asia usually for one person that consists of an enclosed litter borne on the shoulders of men by means of poles.

Die gedig wat jy dra (op jou skouers) tot pynlike lament.

IV

Hierdie skrywer kyk na Dumas se rejects tydens die skryf van hierdie artikel begin op 4 Februarie 2024:

https://www.tate.org.uk/art/artists/marlene-dumas-2407/marlene-dumas-rejects

https://www.youtube.com/watch?v=6vwwJ4uSreo

Die konsep van transformasie en terugkeer na ‘n portret waaraan verander kan word, omdat dit in haar besit is. Sy verwys na die verskillende style wat ondersoek word.

“Scale also affects the gesture”, bely sy.

Dit was ‘n besondere ervaring om Marlene Dumas en Ena Jansen te hoor oor Eybers.

In ‘n volgende bydrae fokus ons op die digters wat al oor en vir Eybers geskryf het.

 

Bronne:

 

Hambidge, Joan. 2000. Lykdigte. Kaapstad: Human & Roussea

– 2009. Vuurwiel. Kaapstad: Human & Rousseau.

–  2015. Matriks. Kaapstad: Human & Rousseau.

Jansen, Ena. 1996. Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam. Pretoria: J.L. van Schaik.

Van Niekerk, Dolf. 2015. Portrette in my gang. Pretoria: Protea.

https://www.litnet.co.za/elders-gesien-oor-n-onverwagse-meevaller-vir-n-handtekeningjagter/

 

Deel:

  • Share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading…

Lees meer

← Joan Hambidge. Ostranenie (остранение)
Joan Hambidge. Eybers en ander digters →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Anne-Marie Bartie. glasman
  • Anne-Marie Bartie. fake news
  • Anne-Marie Bartie. visum
  • Margaret Cordier. Gestroop
  • Willem de Swyger. bokwagter

Nuutste bydraes

  • ND Cronjé. wiskunde
  • Driekie Grobler. skoffeer
  • Digtersprofiel: Pieter Odendaal
  • Yves T’Sjoen. “’n pêrel stilte”
  • Joan Hambidge. Cussons en “Die knetterende woord”

Nuutste kommentaar

  1. Versindaba on Gunther Pakendorf. hoe dooier hoe mooier16 September 2026

    Dankie Gunther. So op Breyten se verjaarsdag (Pampoendag). - Marlies Taljard

  2. Annora Eksteen on Gerrit Theron. Die vuurhoutjie11 September 2026

    Net so. Ek kan nie sonner my voorraad vuur houtjies nie. Kerse en gasstofie en die Kaap is heerlik Frans…

  3. Annora Eksteen on Vers-en-klank: Joan Hambidge11 September 2026

    Bai geluk professor Joan! Lank leef! ♥

  4. Bernard Odendaal on Resensie: “Van man tot man” (Olive Schreiner, versorg & verwerk deur JM Coetzee, vert. deur Antjie Krog)10 September 2026

    Jy het my nou nog nuuskieriger gemaak. Dankie, Marlies!

  5. Yves T'Sjoen on Joan Hambidge. Sheila Cussons en Dominique Botha: Die ander waarheid8 September 2026

    Bijzonder interessant, Joan. Er valt een boeiende literatuurgeschiedenis te schrijven op basis van dergelijke literaire correspondenties of consonanties. Dat betekent…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • onderhoude
  • Onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d