Johann de Lange het op November 18 in 2012 verse vir Eybers opgeneem op sy blog Kaapse paragrawe. Ons vind hier pastiches, palinodes, huldeblyke, gesprekke, selfs kwatryne in hierdie huldigingsverse.
http://johanndelange.blogspot.com/search?q=eybers
Besoek 10 Maart 2024
Lia Laimböck – Elisabeth Eybers. (40 x 40 cm – akriel & goudblaar op paneel – 1997) Versameling van Museum van Letterkunde in Den Haag, Nederland
Inhoud
Hennie Aucamp – Vier kwatryne vir Eybers
Johann de Lange – Nadors
I.L. de Villiers – Hertogin
Antjie Krog – weer eens
Lucas Malan – Afspraak
Fanie Olivier – Roulynolie
Petra Müller – Amsterdam
Joan Hambidge – Elisabeth Eybers (1915 – 2007)
Joan Hambidge – Digteres as huisvrou
D.J. Opperman – Met apologie
Lina Spies – Twee gedigte vir Elisabeth Eybers: Jong dogtertjie
*****
Hennie Aucamp © Alex Emsley
I
Vier kwatryne vir Eybers
Hennie Aucamp
Slagspreuk
Met woorde van ’n redery
het ek dié kompliment berei:
dit was wel daar, maar in jóú spraak
word die sonnet opnuut volmaak.
Tafelrede
“Ek word van ironie verdink,”
het Eybers by ’n fees gesê;
geslepe is haar retoriek:
sy het in dubbelpraat belê.
Kuras
Gestreng en Wes-Transvaals
het haar digtertaal gebly,
al het sy ook van liewerlee
in poldernewels ingegly.
Lied
Hiermaals, namaals, in die niet
klink altyd nog die kokkewiet:
onbreekbaar is die klankverbinding
tussen sangers en hul lied.
3 – 4 Desember 2007
II
Kom ons kyk vervolgens na Hennie Aucamp se kwatryne vir haar.
In hierdie klein verse word Eybers se lewe en digkuns aangespreek:
‘n Slagspreuk, Tafelrede, Kuras en Lied.
Hy besing haar hantering van die sonnet en die ironie of dubbelspraak. Ten spyte van haar Nederlandse verblyf, bly haar digtaal steeds Afrikaans. Die kuras verwys na die gedig “Jong seun” waar die weerbaarheid én weerloosheid van die kind beskryf word.
Jong seun
Elisabeth Eybers
Why were we crucified into sex?
Why were we not left rounded off,
And finished in ourselves?
D.H. Lawrence
Die seun klim druipend uit die bad,
sy hele lyf is gaaf en glad
en heel tot in die holte van
sy nael waaroor ‘n seepbel span,
Strak ledemate, ribbekas
hoekig en hard soos ‘n kuras,
handdoek in hand staan hy bereid,
gerig en toegerus tot stryd.
Tog, onvolkome afgerond,
hoe sal die lewe hom nog wond:
in sy Achilleskern vind
hy geen beskutting – man of kind:
geheg aan die benedebuik
waar blink haarrankies reeds ontluik,
deuraar, teer soos ‘n ooglid, sag
soos murg, hang weerloos die geslag.
Neerslag. 1958. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, Bpk.
Aucamp verwys véral na Eybers se gebruik van woorde met ‘n dubbel-betekenis.
Soos:
Liewerlee beteken gradually op syn Engels.
In die laaste kwatryn word die musiek en musikaliteit van haar verse besing. Die liggaamlose taal van die musiek. Dit verwys na die bloemlesing van Koos Human, haar uitgewer, wat in 1996 verskyn het.
Hiermaals en namaals aktiveer dubbelbetenisse. Hiermaals is hiernamaals.
https://ngkerksomerstrand.co.za/kolossense-26-23-christus-in-ons-verander-ons-hiermaals/
Besoek 11 Maart 2024
namaals
bw., hierna, later: indien deze vijgeboom dan geen vruchten zal voortbrengen, zo zult gij hem namaals uithouwen (Luc. 13 : 9). Die Afrikaanse weergawe:”As hy dan vrug dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap.”
Eybers se vader was predikant en sy sou hierdie teks geken het oor die “Gelykenis van die onvrugbare vyeboom”.
II
Die slagspreuk of aforis as stylfiguur is bekend aan Aucamp:
“Kies jou vyande met groot oorleg. ’n Toegewyde vyand is ’n groot inspirasiebron.”
Pluk die dag, 1994.
Daar is eweneens reëls van Eybers wat ons almal ken en wat klassieke status verower het.
In die tweede vers word die retoriek of prosodie van die digkuns beklemtoon. Die dubbelspraak word dubbelpraat in die bedankingstoespraak van die digter wanneer sy ‘n prys ontvang.
In die derde een word die “afstand en verbintenis” (soos Ena Jansen beklemtoon): die harde Wes-Transvaalse landskap teenoor die aankoms in Nederland: die voetjie-vir-voetjie deel word van ‘n nuwe bestaan.
Die laaste een wys op die sang. Die kokkewiet, ‘n eg Suid-Afrikaanse voël, word hier ‘n simbool van die digkuns. Is die kokkewiet gewoon net hier ingespan die rym ontwille? Of wil hy iets meer impliseer? Dalk die feit dat die naam verwys na die vroulike een se geroep?
Kokkewiet ook genoem die bokmakierie:
Afrikaans
Kokkewiet, more widely known as “bokmakierie”, a species of bushshrike Telophorus zeylonus
Etymology
Onomatopoeic, from the female’s call
Noun
kokkewiet (plural kokkewiete)
A southern African bird Telophorus zeylonus: a bokmakierie, a predominantly yellow and green shrike with a loud, musical, antiphonal song. A narrow black stripe extends from the eye and the base of the beak as a collar across the throat; the breast is a brilliant yellow. The back is a slightly olive green, the head grey.
https://en.wiktionary.org/wiki/kokkewiet Besoek 10 Maart 2024
En kyk hoe speel hy met die verskillende vorme van die kwatryne in sy teleskopering van Elisabeth Eybers. ‘n Fyn en onderskatte digterskap wat terugpraat met Eybers.
Joan Hambidge
11 Maart 2024
Bronne:
Aucamp, Hennie. 1994. Pluk die dag. Kaapstad: Tafelberg.
Human, Koos. 1996. Liggaamlose Taal. Kaapstad: Human & Rousseau.
Jansen, Ena. 1996. Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam. Pretoria: J.L. van Schaik.