Carina Stander (gebore 1976) was plaaskind in die Waterberge van Limpopo. Ná ’n honneursgraad in Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria, werk sy ’n paar jaar vir beeldhouers in Cambridge en die Skotse Hoogland. Sy neem deel aan talle groepuitstallings (onder andere Sasol Nuwe Handtekeninge) en hou vyf solokunsuitstallings. Sedert 2006 is sy vryskutjoernalis by ’n tiental nasionale tydskrifte en koerante, was twee maal Artikelskrywer van die Jaar by Media24 en finalis vir die AKTV-Mediaveertjie. Sy het ongeveer 300 reisrubrieke op haar kerfstok. Sy publiseer ook in versamelbundels en talle van haar kortverhale en gedigte is voorgeskryf vir skole.
Ná ’n meestersgraad (met lof) in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, verskyn haar digdebuut, die vloedbos sal weer vlieg (Tafelberg 2006). Dit was op die kortlys vir die Universiteit van Johannesburg debuutprys en agt van dié gedigte is in Groot Verseboek opgeneem. ’n Handvol gedigte uit haar tweede bundel, woud van nege en negentig vlerke (Tafelberg, 2009) is getoonset deur die Nederlandse musiekgroep, Souldada vir hul CD’s Oer de grins en Watervolk, asook deur Herman van den Berg vir sy CD, Onthou. Saam die tjellis, die Ha!man (Francois le Roux) bring sy ’n versmusiek-CD uit waarop sy 15 van haar gedigte voorlees.
Wildvreemd, haar debuutroman, verskyn in 2011 by Tafelberg. Dit is in kunsgalerye in Stellenbosch en Pretoria bekendgestel in samehang met haar inksketse van karakters en tonele uit die boek. Wildvreemd is in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens en verskyn in 2013 by Uitgeverij Athenaeum. Dit was ook die voorgeskrewe roman vir gr.12 Afrikaanse privaatskole (IEB) vir 2014 tot 2016. Van Cordis Trust ontvang Carina die Orde van die Goue Pen en sy gebruik dié publikasieprys om haar seun Aden van Niekerk se eie vertellings en sy kinderkuns byeen te bring in Wolkland (2013) – ’n kinderboek deur ’n kleuter. In 2015 is Carina en regisseur Matthys Boshoff se konsep vir ’n kinderfliek gekeur om gementor te word deur Disney-Pixar en Triggerfish Animations.
Carina se nuwe roman Die Bergengel verskyn in 2017 by Protea Boekhuis en word bekendgestel met ’n solokunsuitstalling by Tina Skukan galery in Pretoria en die Breytenbachsentrum in Wellington. Die Bergengel is gekies vir Exclusive Books se Homebru-lys en die hele boek is in 2018 op RSG voorgelees. Die opvolgboek in die trilogie, Die Wonderwese sien die lig in 2019 en word bekendgestel met ’n aand van vuurtoertjies by Kleinkaap boektiekhotel en ’n kunsuitstalling by Knysna Fine Arts Gallery. In 2021 is Die Wonderwese in geheel op RSG voorgelees. Die slotboek in die trilogie, Die Waterplek, sal in September 2022 verskyn.
Carina woon sedert 2008 saam met haar man en twee seuns in die Tsitsikamma.
Besoek gerus haar webwerf:https://www.carinastander.com
[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.
Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com]