Noodgeval
die kliniek is nader maar hulle kyk en dispense net
vir ‘n dokter moet sy dorp toe met klein Anchoinette
die gaurdie vat haar twintigrand no charge for babies under three
hy kyk na haar toegeswelde oog only the truth shall set you free
is jy en die baby okay vra die antie op die sitplek styf teen haar
mens praat nie uit nie knik net ek dink so bietjie koorsig en naar
twintigrand vat haar tot by die taxirank langs die ou stadsaal
ses blokke met die baba wat al stiller word tot by die hospitaal
sy tel die mense in die ry maak somme in haar kop druk verby
pleit asseblief my kind is baie siek kan julle die dokter kry
iemand haas haar bondel in by ‘n dubbeldeur NOOD / EMERGENCY
sy gaan sit op die vloer rug teen die muur the truth shall set me free
© Hannes Visser, 2024