Taal
Hoef ‘n gevoelige web van woorde
skuld en blaam
deur ‘n skeldnaam te ontgeld?
Is duits die taal van holokiste
en engels dié van koloniste?
Of word op kleiner of op groter skaal
elke taal nie maar besmet
deur die mond van die mens nie?
Van land tot land bespat
deur die bloed aan sy hand nie?
Is van alles wat leef
dit dan net stilte
wat in onskuld sweef?
Of het ons almal al te veel
voor onreg geswig
en in alle tale geswyg?
Maar wat bly deur ons lewens ryg?
Altyd maar ons taal
wat ook die taal is
van sugte en gedigte,
van vergifnis en van vergesigte,
al sterf daar telkemaal
iewers op vaal lippe kaal
‘n diep en innige verhaal
op die amen asem
van ‘n taal.
© Vincent Oliphant, 2024
Dank aan maestro Vincent Oliphant vir hierdie vers; n belee filosofiese
besinning oor die wese van taal. Tydig, relevant.
Veels geluk ook met u verjaarsdag hierdie week (‘n grote!).
Aan Joseph Windvogel: Lees weer. Stadig. Daar word gewigtige
vrae in hierdie teks gevra.
Sonder simbool en klankglowe, net een atmosferiese maanleegte. Betekenloos die bestaan met geen denke emosies of betekenis. Nie net tevergeefs nie, maar dood, leweloos, met geen begin of ontstaan nie. Woorde is wakkerwees, skoonheid, onderskeid en lewe! Dit sal die kenmerk van intelligente lewe in onderskeiding van doodgewone materie.
Verstommend, treffend, Vincent!