Iewers tuis
Dit het my omring,
daardie beklemming
in my geboorteland,
die gegrom wat al nader kom
totdat dit my huis
soos ‘n eierdop vergruis het.
Met net my kosbaarste op my rug,
my dierbaarste aan my hand,
het ek gevlug
tot waar ek die suiderkruis sien brand
bo julle wonder rëenboogland.
Hier wou ek my lot omkeer,
‘n nuwe lewe leer
maar toe ek eers floreer
het ek iets seers in julle oë vermoed
iets bitter in julle bloed
‘n vars haat
‘n sweer
wat op ‘n dag sou bars.
Toe voel ek uit die bloute
julle kloue in die noute,
in die kaal koue
van die bitter winter
my huis se oë in ‘n kristalnacht
versplinter,
in barensnood
my vrou en kind
ontbloot
in hierdie reeds geliefde
steeds gegriefde straat
vir dood gelaat.
© Vincent Oliphant, 2024
Ja, die title is ironies. Pragtige raakvat gedig wat die ontnugtering van ‘n mens se mooiste drome in skrewe laat en ‘n verpletterde mens agterlaat sonder hoop en vertrou in sy medemens. Tog so magteloos en godsverlate op straat. Waarheen nou is die vraag wat terg!
Zenofobie is ‘n euwel wat uitgewis moet word. Dankie vir jou treffende gedig, Vincent Oliphant!