Doodsvonnis
Haar lêer lê skuins en moeg
op ‘n kartondoos
en wag vir die onkoloog
se ervare hande.
Mevrou, ons het slegte nuus:
Die kanker het versprei
en dit is nou in die finale fase.
Verstaan jy, mevrou?
Haar gedagtes is egter
ver van hier –
sy dink haar terug in Kimberley,
‘n tyd soos nou
op ‘n plek soos hier,
onderbreek deur haar ma se diagnose:
Fase vier.
En daar, net daar,
dertig jaar gelede,
deel die dood twee vonnisse uit
en veroorsaak ‘n dubbele verlies:
Die een onmiddellik,
die ander geneties.
© Jacques Boshoff, 2024
The AVBOB Poetry Competition reopens its doors on 1 August 2024. Please visit www.avbobpoetry.co.za to familiarise yourself with the competition rules and to read some winning poems from previous years.