
Vincent Oliphant is hierdie week Versindaba se webwerf-gas.
Marlies Taljard (MT)
Vincent, baie welkom en dankie dat jy bereid is om te gesels!
My eerste vraag aan jou: Waar kom jy vandaan? Vertel asseblief iets van jou jeug en jou kleintyd. Wat het jou gemaak wat jy nou is?
Vincent Oliphant (VO)
Ek is gebore op Alicedale, ‘n klein dorpie naby Grahamstad. My ouers se voorbeeld van verdraagsaamheid was in daardie tyd ‘n groot invloed op my lewe. Die werk van die Sestigers, het my ook gehelp om nuut na die wȇreld te kyk.
Ek verbind my jeug grootliks met die Universiteit van Wes-Kaapland, waar ek in die onstuimige vroeë sewentigs ‘n student was. Ek was gelukkig dat daar op die kampus ‘n skryfgroep was waarby ek kon aansluit. Dit was die tyd van die Swartbewussynsbeweging en daar was elke Vrydag n vurige massavergadering!
MT
Wat doen jy deesdae? Watter beroep beoefen jy, waar woon jy, wat doen jy in jou
vrye tyd?
VO
Ek is ‘n afgetrede wiskunde-onderwyser wat ook vir ‘n aantal jare ‘n dosent by ‘n onderwyskollege was.
Ek woon in Gqeberha, wat maar vir my altyd “Die Baai” sal wees! Ek lees, oefen en skryf wanneer die gogga byt.
MT
Het jou beroep ʼn invloed op jou skryfwerk – die temas, die ondervinding wat jy
opgedoen het, die onderliggende teorie …?
VO
Nee, my beroep het nie ‘n beduidende invloed op my skryfwerk nie.
MT
Wat beskou jy as ʼn “gedig” / hoe definieer jy ʼn “gedig”? Waarom skryf jy gedigte?
VO
‘n Gedig is vir my iets waarin die elemente so gerangskik is dat die woorde sinvol begin sing. Meermale speel beeldspraak en klank ‘n deurslaggewende rol. Gedigte is vir my ‘n gepaste manier om aan my diepste belewenis uiting te gee.
MT
Waar kom jou liefde vir woorde vandaan? Hoe lank skryf jy al en wat skryf jy alles?
VO
My pa was ‘n leser en ‘n versamelaar van boeke. Sy boekrak het my eindeloos gefassineer. Ek skryf vanaf my studentejare maar, moet ek erken, nie soveel as wat ek eintlik moes nie! Die stiltes tussenin was eintlik meermale te lank.
MT
Is jy ʼn leser, en wat lees jy? Watter teks(te) het jou die meeste aangegryp?
VO
Ek lees romans, kortvehale en gedigte. Wat nie-fiksie betref, lees ek graag filosofie en geskiedenis, albei vakke wat ek nie formeel studeer het nie. Daar is so baie boeke wat ek sou kon noem, maar Milan Kundera se “The Unbearable Lightness Of Being” en John Updike se “Rabbit”-romans bly my by.
MT
Hoe skryf jy? Kom jou gedigte volledig by jou aan? Dink jy lank voordat jy iets skryf?
Hoe lank en hoe intensief werk jy aan ʼn gedig?
VO
Ek vat meestal redelik lank om ‘n gedig te voltooi. Ek begin met ‘n pen op papier en keer met tussenposes daarheen terug. Wanneer ek ‘n gangbare weergawe het, druk ek dit uit en werk dan weer van tyd tot met ‘n pen daaraan. Ek druk dan die finale weergawe uit en lees dit hardop vir myself voor. Ek vra myself twee vrae af: Maak dit sin? Klink dit reg?
MT
Watter temas lê jou na aan die hart? Waaroor voel jy sterk? Wat maak jou gelukkig?
Wat stem jou onrustig? Waaroor droom jy?
VO
Ek sou sȇ my tema’s is liefde, medemenslikheid, vrede en versoening. Wat my gelukkig maak is rus en vrede, met my geliefdes of alleen. Wat my onrustig stem is stereotipering, selfsugtigheid en wreedheid. Ek droom oor ‘n einde aan oorloë en dat sommige mense met mag sal ophou om brood uit arm kinders se monde te steel.

MT
In hoeverre steur jy jou aan kritiek?
VO
Ek steur my aan kritiek maar kyk ook krities daarna.
MT
Watter raad sou jy graag aan aspirant-digters gee?
VO
Lees wyd, skryf met jou sintuie, wees selfkrities, moenie bang wees om te herskryf nie en wees geduldig.
MT
Deel asseblief met ons die teks van een gedig in jou oeuvre (of ook meer as een)
waarvan jy baie hou.
VO
Ek kies die titel-gedig van my tweede bundel , “Die Sagte Vlees”.
die sagte vlees
sag is die vlees
in ‘n dun vel naakgeklee
op wag
hoog in sy toring van brokkelbare been
is die allersagste oog
delikaat krul die die fyn soenlyn van die lip
na buite
om te getuig
van die teer binneste
die binneste
waar die bytharde tand die draer is
van die vlymskerpste pyn
in ‘n ommekeer verdwyn die klipharde kneukel
met die oopvou van die vingers
in die hand se koesterkant
met die palms vol warmte
en die vingertoppe vol gevoel
om balsam te vryf
in die pyndeurdrenkte lyf
die lyf
wat die heilige asem
uit die growwe grond moes bloei
tot hierdie sagte vlees

Baie interessant. Oliphant se antwoorde weerspieël sy gesindheid; eenvoudig en medemenslik. Niks meer.