Vincent Oliphant is op 8 April 1954 op Alicedale naby Grahamstad gebore. Hy het in die vroeë sewentiger jare sowel ’n B.Sc.-graad met Wiskunde en Fisika as hoofvakke as ’n Sekondêre Onderwysdiploma aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal. Gedurende hierdie tyd het hy gedigte in die kampusblad begin publiseer. Die persoonlike aard van sy gedigte het ’n polemiek laat ontstaan oor die aanvaarbaarheid van sulke werk te midde van ’n politieke stryd. Die gedigte van hierdie periode is in 1982 in sy debuutbundel Bloed vloei in stilte deur Tafelberg uitgegee.
Na ’n lang stilte het hy in 1994, kort na die eerste demokratiese verkiesing, weer begin dig. Hierdie gedigte verskyn in die bundel Die sagte vlees wat in 1998 deur Tafelberg uitgegee is.
Sy gedigte word opgeneem in verskeie bloemlesings insluitende Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Versindaba 2005 en 2006 en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Hy maak bydraes tot rubrieke in Taalgenoot en Die Burger en publiseer ook van sy gedigte op die Internet op webwerwe soos PoësieNet, die poësie afdeling van LitNet, Kletskerk, southendmuseum en in Meander, ’n Nederlandse tydskrif. By verskeie geleenthede lees hy ook van sy gedigte in die openbaar voor, soos by die Wordfest by die Rhodes Universiteit in Grahamstad en die Versindaba op Stellenbosch.
Vincent Oliphant werk vir die Oos-Kaapse Onderwysdepartement as ’n kurrikulumadviseur. Hy is ook besig met navorsing oor die onderrig en leer van Wiskunde.
[Nota van die Versindaba redaksie: Ons wil graag nuwe en ou digters aanmoedig om vir ons opgedateerde profiele aan te stuur na taljard.marlies@gmail.com
Van ‘n digter wat al een of meer solo-bundels by ‘n erkende uitgewer gepubliseer het, versoek ons die volgende:
-
-
- ‘n Redelik onlangse foto in JPG-formaat
- ‘n Lys van publikasies (ook die belangrikste nie-poëtiese publikasies)
- ‘n Kort lewenskets wat inligting bevat oor o.a. waar en wanneer jy gebore is en grootgeword het, waar jy studeer het, watter beroep jy beoefen of waarmee jy jou tans besig hou, waar jy op die oomblik woon, ens.
- Enige ander interessante feite oor jou
-
Skryf asseblief die profiel in narratiewe vorm en nie as ‘n reeks feite ondermekaar nie, ten einde dit meer lesersvriendelik te maak.
Indien jy bereid is om ‘n profiel te skryf oor ‘n gestorwe digter, laat weet my asseblief by taljard.marlies@gmail.com]