Parkinson
In die huis vol foto’s en borduurwerk,
die gelese boeke in die rakke,
die skilderye van baie reise,
die breë TV-skerm met programme
oor verre plekke, kookavonture
en beelde van vervloë platteland
het haar woorde min geraak, die bure
opgehou om te kom, die dominee
verdwyn en die versorgers gedwee
hulle stille gang gekom en gegaan.
Uit ’n bottel Tassenberg en broodtjies
van Pick n Pay is ’n Nagmaal
oor haar lippe gesmeer en vir laas
het sy geglimlag, haar vingers geroer
en in die vergeteldheid weggeraak.
Toe het sy soos ’n lamp uitgeflikker
en die blomme geel en rooi geskryn.
Geagte bure, nou kan julle weer,
sonder om te vra, die soet, ryp vrugte,
die suurlemoene, die jaarlemoene
en die spierwit winterrose kom pluk,
want almal weet die huis is nou weer oop
© Johann Lodewyk Marais, 2024