There is a moment
Vir my verjaardag bring my dokter
met die dramaties-veranderde hare
vir my Leonard Cohen se digbundel,
Book of Longing, wat haar “geleer het
van musikante, oftewel kunstenaars”.
“Ek weet alles van jou af,” sê sy.
“O nè? Weet jy wat my bloedgroep is?”
Sy huiwer en ek skuif oor die tafel
vir haar ’n botteltjie stamvrugkonfyt.
© Johann Lodewyk Marais, 2024