Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
8 July 20249 July 2024

Onderhoud: Joan Hambidge gesels met Johann de Lange

 

 

 

Joan Hambidge (JH)

Baie geluk met jou pas verskene bundel Miniatuur. Ek dink altyd dat die moeilikste digvorm die kort, spaars vers is soos hierdie gedig bewys:

 

Kroonden

 

Die kroonden lê omgeval

beenwit grynswit in die son.

(JdL)

 

Of die Stichos wat net uit een reël bestaan.

 

Dan natuurlik Pound se beroemde gedig “In a station of the Metro”.

 

JH

1.Waarom het jy besluit op ‘n bundel met mini-verse?

 

Johann de Lange (JdL)

Ek het gedink ek maak dit ‘n sluitstuk en die ander twee kwatrynbundels, Weerlig van die ongeloof & Duimnaelsketse.  Die drie saam (altesaam 300 verse) vorm ook saam digterlike voëlvlugte oor my skryfwerk op verskillende tye in my lewe. Ek gebruik & bedoel die term kwatryn in die breedste sin van die woord. Ek sou dit eerder wil tipeer as vierreëlige gedigte.

Ek dink al die kwatryne is maar my manier om aan my swaeltjienes te bou.

 

JH

2.Hoe sluit hierdie bundel aan by Duimnaelsketse?  Dit het in 2002 verskyn, ‘n produktiewe tyd vir jou saam met Die meeste sterre is lankal dood by  H&R en Hennie Aucamp se  Oopkardoes, ook by Naledi.

 

JdL

My besige periode het pas begin na die toekenning van die Hertzogprys wat gevolg het na ‘n stilte van 14 jaar. Hoe dit gebeur het sal ek nie kan sê nie. Hoewel ek in daardie tyd nie gepubliseer het nie, het ek strykdeur bly skryf. Die probleem was dat ek nie ‘n stem kon vind vir my ervarings in daardie tyd nie.

My redakteur in daardie stadium het gewonder of ek nie straks weer ‘n bundel gereed had nie, & voorgestel dat Prof Henning Snyman my help uitsoek. Om ‘n lang storie kort te maak het ek hom ‘n drukstuk van ‘n paar honderd verse gegee. Die res, soos die gesegde gaan, is geskiedenis. Ek het soos ’n galeislaaf aan daardie verse gewerk, oor & oor, & het gaandeweg besef die stem waarna ek gesoek het, was al die tyd daar. Dit was ‘n baie bevredigende ervaring.

 

JH

Veral hierdie een word ‘n kommentaar oor Afrikaans:

 

Elisabeth Eybers & Olga Kirsch

Kaapstad 1979, ’n laaste besoek

 

Vriende, én eensame ballings van ’n taal,

het hul ’n laaste keer in die vlees ontmoet

in die Kaap van Storms; oor ’n laaste maal

‘n gedeelde taal gewissel, & gegroet.

 

Voel jy jou ook ‘n balling in eie taal?

 

JdL

Ek sou nie sê dat ek my ‘n balling in eie taal voel nie. Ek dink dis eerder my taal wat ‘n balling binne eie landsgrense is waar daar ‘n berekende strategie is om hom skade te berokken, terwyl hulle by duur hotelle met oë blink soos twee jenewerglasies sit en knoei. En dit is iets wat my 3!!&*$# in maak.

 

JH

3.Jou gesprek met Van Wyk Louw loop regdeur jou digkuns. Maar ook Opperman in Duimnaelsketse:

 

Die weduwee Viljee

by ‘n foto van ‘n windverwaaide kraanvoël

 

Die weduwee Viljee gepluim & in wit geklee

trotseer op stokkiesbene die Sedoos tree vir tree.

In geel kapstewels stap sy, wankel & windverwaai,

ontwyk sy op die loopplank die see se neem-en-gee.

 

Hoe sien jy die gesprek met die kanon en kanonisering?

 

JdL

Ek het ‘n baie doelbewuste verbintenis met die kanon. Ek glo ‘n digter moet die tradisie waarin hy werk deeglik ken. En dan is daar skrywers en boeke met wie ek vir dekades gesprekke gewissel het. Ek is in die eerste plek ‘n leser, & dan ‘n skrywer.

Sheila Cussons skryf so roerend en suiwer oor die dilemma waarin ons onsself bevind:

 

Gebed van die loot aan die wynstok

 

Solank as wat die mens

sy gewaarwordinge in taal bly formuleer

Here, laat my taal leef

en dat U hom nooit van die liggaam

van Afrika sal amputeer nie –

en waar U moet terugsnoei, Heer,

laat ons u hand herken en rustig weet

U sal uit die vurige sap

wat U nou tot besinning kasty

iets wat helder en edel is eindelik distilleer.

 

(Uit: Die sagte sprong, Tafelberg, 1979)

 

JH

4.In jou jongste bundel staan 102 kwatryne: ‘n prestasie. Hoe het jy hulle geskryf? Elke dag?

 

JdL

Ek sou nie sê elke dag nie, maar feitlik elke dag. Terwyl ek ander dinge doen, inkopies gaan doen, in die tuin stap ens., is my kop gedurigdeur besig om te meet & pas, weg te vat of by te las. Mens is nie net skrywer wanneer jy by jou rekenaar of laptop is nie; jy is dit elke oomblik van elke dag. Dit hou my ook skryffiks sodat wanneer ‘n vers hom kom aanmeld ek gereed en toegerus is om die meeste daarvan te maak.

 

JH

5.Jy noem die skryf van hierdie soort vers bonsaikuns. Kommentaar.

 

JdL

Die skep van ‘n bonsai verg groot toewyding, ‘n visie van presies hoe jy hom wil vorm gee (dalk kan mens Hennie se term volmink hier gebruik), sodat die boompie hoewel relatief jonk is, lyk na ‘n boom van ‘n paar honderd jaar. Jy moet weet waar om te snoei, waar om te buig of vleg.

 

JH

6.Jou kennis van die natuur is weer eens opvallend.

 

JdL

Ek is ‘n plaaskind. My laerskooljare het gedeeltelik buite Nylstroom op ‘n plaas afgespeel, & my hoërskooljare in ‘n seunskoshuis aan die hoërskool Hans Strijdom. Ek het baie tyd op my eie deurgebring. Ek was lief vir die natuur, vir plante en diere om my.  Ek is in retrospek spyt dat ek nie in daardie tyd die geleentheid gebruik het om ‘n swart taal op skool te kon neem nie. Maar dit was HNP-wêreld daai.

 

JH

7.Ek sien ook ‘n volgehoue gesprek met I.D. du Plessis. Waarom bekoor ouer digters jou?

 

JdL

Vir my was dit ‘n doelbewuste besluit. Ek het vriendskappe gesluit met ouer figure soos Ernst van Heerden, Sheila Cussons, Lucas Malan & Hennie Aucamp, om ‘n paar te noem. Dit was mense by wie ek die meeste sou kon leer. Die pynlikste is dat jy hulle een vir een gaan verloor. In hierdie stadium is nog net een van daardie groep oor, & dis Wilma Stockenström.

 

JH

8.Hierdie verse is dikwels ars poëties:

 

Ostranenie

 

In die Keizersgracht sink die son,

’n ou huisboot. In die bome

rondom Sentraalstasie sing voëls

snags slaaploos in hulle drome.

 

Waarom hierdie vervreemding (via Sklovskij) vir jou?

 

JdL

Ek het ‘n sagte plek vir ars poëticas, om verskillende maniere te vind om oor skryf te gesels of die skeppingsdaad te probeer verstaan. Met “Ostranenie” het ek op ‘n artikel afgekom oor die effek van ligbesoedeling in ons stede op die voëls wat die landskap met hulle deel. Soos bv. die voëls in die bome rondom Sentraalstasie waar hulle onder meer strykdeur sit en sing snags, hulle sirkadiese ritmes & paringsrituele in hulle maai in.

 

JH

9.Wat beteken die Boeddhisme vir jou in “Ginkgo biloba”? Geplaas teenoor die Protestantse God? En dan weer die Bardo Thodol? Wat spreek die sterkste nou?

 

JdL

Ek vind dat soos ek ouer word ek meer aanklank vind by die Oosterse gelowe, die gelowe en kultuur is net soveel ouer.

 

JH

10.Van Wyk Louw is steeds hier in ‘n implisiete gesprek met “Vroegherfs” – die jaar wat sy oker vrag laat val, by jou. Talle van die gedigte handel oor oudword. Kommentaar.

 

JdL

Ek bevind my in daardie tyd van my lewe waar ek bestek opname maak, waar ek dink oor die tyd wat al vinniger. Die meeste van my vriende & familie is reeds dood en ek bevind my alleen in ‘n wêreld wat al hoe onherbergsamer begin lyk. Oudword is nie vir sissies nie & ek het ontdek dat ek ‘n groot ou sissie is. Ek hoop dat ou NP nog in my laaste woorde sal wees. O, die blye weersiens van my geliefdes, ek hoop dis deel van die plan.

(Ek glo hy sal nog in my laaste woorde wees).

 

JH

11.Die nederige kewer in “Iriserend” word ‘n simbool van transformasie en hergeboorte, aldus die Egiptiese mitologie. Het ek gelyk?

 

JdL

Ja, die kewer op my boekomslag is deur die Duitse kunstenaar & drukker Albrecht Dürer (1471 – 1528).

 

JH

12.In hierdie bundel is daar ook heerlike seksuele, jagse verse. Jy is die meester van die erotiek – soos Aucamp – waar spulsheid onbeskaamd beskryf word. Byvoorbeeld “Gebed van ‘n gate-crasher”. Kommentaar.

 

JdL

My erotiese verse het nog altyd die resepsie van my werk skeef getrek, & heeltemal te veel aandag vir sigself opgeëis. Ek het ‘n renons aan die soort mens wat glo dat mens in jou ouderdom oor stigteliker dinge behoort te skryf. Not going to happen. Beteken die feit dat ek oud is ek nie langer skoonheid kan begeer of waardeer nie.

 

JH

13.En dan weer die donker kant van die liefde en verlating?

 

Liefde as koorddansery

 

Liefde is die hoë leegte

tussen ons, die oplaaiende vreugde,

die afgrondelike vrees –

skrikwekkende geneugte.

 

Hier wys die aandagstreep op iets donker …

 

JdL

As jong kind het ek op ‘n slag in die koerante gelees van ‘n plek waar daar skielik ‘n klomp sinkgate  ingetuimel het en hele gesinne saam dood is. Ek onthou ek het vir baie lank moeite gehad met slaap. Terwyl ek in donker in my bed lê het ek ‘n diep, swart bodemlose skag onder die huis aangevoel wat enige oomblik ineen kon stort. Nou dekades later het ek besef dat die liefde so ‘n sinkgat kan wees as jy dit verkeerd benader.

 

JH

14.Jou verse gee aandag aan tegniek soos die Aubade, verwysings na jambes, metrum, ensomeer met verwysings na Eybers se Die ander dors. (En natuurlik ook na Snyman se studie oor die digkuns Teodoliet.) Jy aktiveer dors as werklike en digterlike dors. Kommentaar.

 

JdL

Ek was van die begin af meer geïntresseerd in die hóé eerder as die wát. Hoe het ‘n digter hierdie of daardie effek bereik. Fabrieksgeheime. Ek het hope studies oor digters se werk gelees voordat ek die werk self aangepak het. Ek doen dit nog steeds, maar laat die twee blikke tegelyk in my gemoed uitspeel. Die ontdekking van Ina Rousseau se manuskripte was ‘n openbaring vir my. Haar werkswyse was ‘n spieëlbeeld van myne! En daar was nog ‘n raakpunt tussen ons: ons liefde vir die taal, vir woorde en klank. Dis ook iets wat Ernst van Heerden beklemtoon het: leer ken jou taal in al sy geledinge, dit is ons pêrel van groot waarde. My liefde vir taal is verder uitgebrei deur Lucas Malan, Sheila Cussons, en natuurlik Hennie Aucamp. Dit was veral sy liefde vir ou woorde of plekname, wat my inspireer het, en die maniere wat hy gevind het om hulle in sirkulasie te hou. By hom was dit ook ‘n manier waardeur hy sy jeugwêreld, sy milieu lewend gehou het. ‘n Digter bestaan nie in limbo nie; hy is deel van ‘n groep.

 

JH

15.Vertel meer van die impak van Auden en Louw (veral Tristia) op jou digkuns.

 

JdL

My eerste kennismaking met Tristia was onopvallend. Ek was nog hopeloos te jonk om die omvang te besef van wat hy met daardie boek vermag het. Ek het besef hier is iemand, hier is ‘n boek, wat in ‘n ander stratosfeer funksioneer. Die werk van ‘n manjifieke digter en beslis die beste digter wat ons in daardie stadium gehad het, en ek meen hy bly dit steeds. Niemand sal hom sommer uit sy polvye lig nie.

Opperman & NP van Wyk Louw staan teenoor mekaar soos Auden & T.S. Eliot. Auden is die verbysterende intellek, met Eliot wat meer fokus op die inhoud, op wát hy wil sê. Met Komas uit ‘n bamboesstok het hy ‘n werk geskep wat in die voetheuwels van Tristia kan beweeg.

 

JH

16.Jy het Judith Mason geken. Die pragvers oor haar “Droomséance” is veelseggend.

 

Droomséance

vir Judith Mason

 

Uit die stilte van die vel papier

soos ’n ouijabord bring jy voort:

elke fabelagtige dier, ook

die gewonde mens, uit die eerste boord.

 

Kommentaar.

 

JdL

Ek het ‘n obsessie begin ontwikkel van die oomblik wat ek haar werk vir die eerste keer gesien het. Ek meen dit was vroeg in my hoërskooljare, en as ek reg onthou was daar ‘n artikel oor haar werk in ‘n uitgawe van Lantern wat ek in die skoolbib raakgeloop het. Dat ek haar later sou leer ken & sy selfs vir ‘n bundel van my ‘n kunswerk sou lewer, dit het ek nooit kon dink nie. Sy was ‘n wonderlike kunstenaar en mens, warm, gulhartig.

 

JH

17.Jou kennis van die mitologie is opvallend. Waarom hierdie gesprek met Aeschylus?

 

JdL

Ek het nie noodwendig ‘n groter waardering vir Aeschylus as vir ander mitologiese figure nie. Die mitologie moet deel uitmaak van die digter se toerusting. Dieselfde met simboolwoordeboeke, & die nooit volprese De Vries simboolwoordeboek, & natuurlik Tom Chetwynd se A dictionary of Symbols. My omgang met dié werk was aanvanklik redelik serebraal. ‘n Mens plak nie ‘n simbool binne ‘n gedig nie, dis eerder iets wat voortkom, loskom, uit die werk self, al skrywende.

 

JH

18.Die pragreeks oor Hennie Aucamp waarmee jy sluit is dalk ‘n erkenning aan ‘n mentorskap? Kommentaar.

 

JdL

Ek het gehoop (heimlik en onheimlik) dat ek by hom in die leer sou kon gaan, maar hy was van meet af aan baie ferm daaroor, maar sonder dat hy óf ek daarvan bewus was, het dit wel gebeur, maar op ‘n baie onkonvensionele, informele manier. Ons het selde oor ons eie of mekaar se werk gesels, veel eerder oor ander s’n. Uit ons gesprekke het sy lewensuitkyk, sy menslikheid en sy kwesbaarheid duidelik geword. Sy liefde vir taal, woorde, plant- & plekname. En hy had ‘n heerlike s’n vir humor. Ons kon gewoon sommer net laf wees, & skater van die lag. Ek het in my lewe altyd my vriende gevind in mense wat my kon laat lag.

˜Een staaltjie: as ek nou op ‘n aand verveeld by die huis sit, sal ek hom bel & met die stem van ‘n klein dogtertjie sê, “Oom, ek is bang! Hier is niemand by die huis nie en ek hoor iemand by die deur lol!”

“My aarde, kind, wat vertel jy my?”

Die meisie sal dan in trane uitbars en vra wat gaan van haar word. “Wil jy hê die oom moet na jou kom kyk (die transformasie in ou Wolf gebeur naatloos, maar ek ken die wolf se grille). En so sal dit dan ‘n rukkie aanhou totdat ons uitgesels is en groet.

Baie jare later het ek in ‘n boek oor Truman Capote gelees dat hy ook dieselfde gedoen het met van sy vriende. Wat Hennie my geleer het, was nie wat mentors gewoonlik doen nie. Hy het my nie leer skryf nie, maar leer hoe om mens te wees.

 

Kaapstad

7 Julie 2024

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: “om my kastele in Spanje te sloop” (jaco barnard-naudé)
  • Resensie: "wanneer woorde asemhaal" (Maritha Broschk) & "swartland" (Rudolph Willemse)
  • Sonja Loots in gesprek met Alwyn Roux oor "Weerskyn"
  • Resensie: "Kinderlê" deur Lynthia Julius

Nuutste bydraes

  • Resensie: “De Ontdekking van het eiland: breytenbachiana” (Yves T’Sjoen)
  • Resensie: “Feesmaalgang” (Dietloff van der Berg)
  • Jacobus Swart. Franz Kafka
  • Gerard Scharn. Abstract portret door Wopko Jensma
  • Marthé McLoud. Gogo

Nuutste kommentaar

  1. Gerard Scharn on Jacobus Swart. Franz Kafka14 May 2025

    Beste Jacobus Swart, het leven van Kafka kort maar compleet weergegeven. Tientallen boeken hoeven nu niet meer gelezen te worden.

  2. Ena on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Mooi, Celeste!

  3. Barbara Steyn on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Soooo mooi beskryf!!!

  4. Anira van der Walt on Floris van Zyl. ‘n tafereel van haat en lus en liefde7 May 2025

    Pragtige gedig Floris.

  5. Anita Van der Walt on Nuwe Versindaba-kompetisie: Skryf ‘n ekfrastiese gedig7 May 2025

    Ekfrasties se moer Eksellent eksekutief Eksklusief eksegeties Eksoties beproef

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d