Plekke herbeset
Wanneer die wind askoek slaan in my nis
en ek in dwarrels gestalte kry,
sal ek voor die val oor die eskarp
besef hoe hoog ek my ook al kan verbeel
die opgaan sou wees, dit hoër is
daar waar die wolke gedwing word
om my van die rotse los te.woel.
Diep gespin sal die opswiep glad verloop –
dis wanneer dit tot verdeling kom
oor die skeurvalleie tussen broodrugbulte
dat wat nog ingebind was,
van kindsbeen af geheg,
op goeie aanspraak rusplek vind.
‘n Rietbos het my in die sak gehad,
‘n vinkedorp in die Rietrivier
met neste sorgvuldig ingevleg,
het my heel moontlik reeds verwag –
van vloed se modder bleek,
van binne uit gereep, geblus,
met ruimte waarin die lyf wat ek moet kry, sal pas.
Ek, van kop tot tone as,
bietjies-bietjies op die liewe tuistes neergelaat –
op suidoostebanke, draaifonteine,
tot die laaste stoffies toe
op die vlerke van malkoppieskoenlappers
wat hul witgatboom versmaai.
By Wolwas waar die papkuil fuike maak
dryf ‘n allerlaaste snufsel los
in ‘n kokon herkoude bloudakgras.
© Pirow Bekker, 2024
