Valhek
“Hier is nie plek vir ‘n muis nie,”
maak die deurwag verskoning by Janbloed.
“My opdrag lui: ‘Nie Afrikaners nie, mof inkluis.’
Selfs ‘n koggelbul speel buite soet.
“Kleintyd is hy dalk Bulperd genoem,
gul uitgespin tot ‘n bul se werk,
maar vir die hoëre roeping gou gedoem
is hy uitgeknip vir trek.
“Dié is ‘n ark, verstaan my goed,
hier is slegs vir ‘n toekoms plek,
hier geld registrasie, hier praat ons stoet,
hier’s waar ons net die beste red.
“Jy voel tog self, die oordeel is gevel.
Eendag, op vaster grond, kom jy weer in tel.”
© Pirow Bekker, 2024