Meerkat
Jy hoort in die Karoo
waar die besoedeling
van lug en lig
nie strek bo die hewel
van grond en rante nie,
waar ‘n ster naglank sing.
Kom skoon, Erdman,
kom skoon van die aarde,
hou op teen terriërs blaf
wat agter jou bloed aan grawe.
Spits jou onbevange toe
op ver en verder die oë slaan
sodat wanneer jy oop en toe
na nuwe weiveld soek
jy die omgewing ken,
die sluwe skaduwee
‘n gat voor kan wees.
As vlerke reg bo trillend hang,
maak jy alarm;
die middagtrilling skielik staak,
maak jy alarm,
gevolg deur skarreling na dorp en huis.
Gebeur dit nog so, met stergeselskap
of kyk jy deesdae net daar ver
uit ‘n verglansde toring op die vlak:
Hoor iemand nog jou gespanne gil?
Sal enigeen nog uintjies vir sterre los
of opkyk vir ‘n swerfvalk uit die blou?
Sal jy antwoord op “Wat sien jý?”-
klein stokstertgraatjie
uit die Groot Karoo?
© Pirow Bekker, 2024
