Anouk Aimée
(1932 -2024)
Nicole Françoise Florence Dreyfus,
half-Joods, half-Katoliek,
glo veral op haar gelukkigste
tussen verhoudings soekend
na ‘n nuwe uitdaging: entre nous.
Omar Shariff, Albert Finney,
dalk ook Jean-Louis Trintignant
in Un homme et une femme.
As Lola of Carla of Valeria of Eva
versinnebeeld sy die seksgodin
as gedistansieerd of sommer uit die hoogte.
Dalk ‘n truuk om afstand te skep
tussen self, filmpersona en bespiegeling?
As Luisa Anselmi draai sy haar rug
op Guido/Marcello in Otto e mezzo:
die volledige eensaamheid
van haar skoonheid
uit- en afgelag.
© Joan Hambidge
