pasmaak
my kind is al sewe
sy dra nou skoolklere
die moue is klaar weer te kort die pype ook
wat uitsteek is dun
soos ‘n steenbok se agterpootjie
sy sit voor die klavier soos ‘n meerkat
twee duime op middel c
wagtend op bevele haar voete
bengelend
en soms is sy sewe en
sy messel modderkoeke
en snuif en vee ‘n streep
tot by haar oor dan
brul sy vir haar broer soos
Maurice Sendak se Max
jaag hom en skree
nes ‘n hadida
ek kyk na haar
en sy klim terug in my lyf
terug deur die geboortekanaal
krul op soos ‘n ietermagog
probeer haar lê kry trap
my heupe uitmekaar
draai om kussing haar kop op my blaas
gaap en strek uit teen my diafragma
kloof my ribbekas
wyer
boor soos ‘n erdwurm deur
die grond van my hart so
probeer ek haar pasmaak
my bekkenbeen pyn
©Marieta McGrath, 2024

Dankie, Jannie.
Ek soek woorde, maar ek sukkel omdat dit so vreeslik mooi is.
Dankie, Jannie.
Uitstekende gedig, Marieta.
Dankie, Alwyn.