I
Jacques Derrida is gebore in 1930 in Algerië en sterf in 2002 weens pankreaskanker. Hy is Joods-gebore en die impak van die Vichy-regering het sy skooljare beduiwel. Hy vertrek na WO II na Parys na die beroemde École Normale Supérieure. Sy studies begin in 1952 met ‘n bestudering van Husserl en Hegel.
Dekonstruksie (‘n komplekse term van iets behou en terselfdertyd afbreek of bevraagteken) is sy konsep. Net soos différance, oftewel uitgestelde betekenis.
Of Grammatologie, Writing and Difference is bakens vir literatuurkundiges, net soos Glas (1974): opgebreek in twee tekste wat die leser simultaan lees. Hegel teenoor Jean Genet. In 1980: Postcard from Socrates to Freud and Beyond.
In 1992 was daar ‘n groot polemiek toe Cambridge aan hom ʼn eredoktorsgraad wou toeken en Analitiese filosowe aldaar kapsie gemaak het. Frank Kermode het wel vir hom in die bresse getree en die graad is wel later aan hom toegeken. (In Kermode se onderhoud met Salusinszky word hierdie kwessie opgehaal.)
Sy filosofiese vriendskap met Hélène Cixous het ook tot belangrike werk aanleiding gegee. Portrait of Jacques Derrida as a Young Jewish Saint verskyn in Frankryk in 2001. (Portrait de Jacques Derrida en jeune saint juif.)
Vir ‘n uitstekende oorsig deur Leonard Lawlor: https://plato.stanford.edu/entries/derrida/ Besoek 16 Augustus 2024
II
The unconscious is already a weave of pure traces, difference in which meaning and force are united – a text nowhere present, consisting of archives which are always already transcriptions. Originary prints …
Derrida: Writing and Difference. (1979 : 211).
Derrida is die meester van taalspel waarin die aanvaarding van die teken (signifiant / signifié) voortdurend geproblematiseer word. Ek het ‘n lesing aan UWK in 1998 bygewoon toe hy oor die hele kwessie van vergifnis gepraat het. ‘n Oxford opgeleide filosoof het hom toe gekritiseer.
Hy wou nie oor die WVK praat nie, maar die filosoof en aktivis, Anthony Holiday, het hom gedwing om hieroor sy mening te gee tydens vraetyd. Soos Chris Roper die geleentheid opsom: “a philosophy that sees language in action”.
https://mg.co.za/article/1998-08-14-forgiving-the-unforgivable/ Besoek 16 Augustus 2024
Ek het my roman Die Judaskus by my gehad en gevra vir sy handtekening waar sy naam in die teks verskyn. “I am signing this blindly”, het hy uitgeroep. Duidelik geïrriteerd met die gehoor en die vrae wat hy moes pypkan.
III
Salusinszky se onderhoud met Derrida is die eerste een gevoer in Engels in April 1985. Onderhoudend en openbarend. Dekonstruksie as ‘n “mode of reading” met lees as ‘n suspensie van ‘n finale woord. Daar sal altyd ‘n supplement wees. Die kwessies van fonosentrisme, logosentrisme (die siening van woorde as verwysings na ‘n realiteit) en natuurlik fallosentrisme is bekend aan die werkwyse van dekonstruksie wat problematiseer. Différance is die uitstel van betekenis en die teken wat telkemale differ van ander teks. En hierdie manier-van-lees is “an interrogative style, rather than a propositional one” (1987: 20). Kortom: nie net word die teks se kontradiksies of aporias uitgewys nie, maar die leser ondersoek terselfdertyd eie aannames.
Niks word meer op sigwaarde geneem nie. Daarom is daar studies met titels soos Untying the text. Barbara Johnson wat in haar artikel S/Z met Roland Barthes in gesprek tree, opgeneem in Robert Young se kompendium uit 1981. BartheS teenoor BalZac.
“The Critical Difference: Balzac’s ‘Sarrasine’ and Barthes’s ‘S/Z'”. Die hele verhaal wentel rondom die kwessie van kastrasie en die transgressie van opposisies: dit maak betekenis ongedaan en die skandaal, aldus Johnson, veroorsaak ‘n ontploffing in die teks (Young: 1981, 163).
In hierdie onderhoud word daar beklemtoon hoe belangrik die VSA was (en veral Johnson) vir die werk van Derrida. In sy werk – wat tereg in filosofie begin – neem hom terug na die letterkunde.
Derrida bely ook dat hy graag fiksie sou wou skryf. Hy is nie ‘n kenner van die Engelse letterkunde nie, ofskoon die Engelse Romantiese digters hom aanspreek.
IV
Not Ideas About the Thing But the Thing Itself
At the earliest ending of winter,
In March, a scrawny cry from outside
Seemed like a sound in his mind.
He knew that he heard it,
A bird’s cry, at daylight or before,
In the early March wind.
The sun was rising at six,
No longer a battered panache above snow…
It would have been outside.
It was not from the vast ventriloquism
Of sleep’s faded papier-mâché …
The sun was coming from outside.
That scrawny cry–It was
A chorister whose c preceded the choir.
It was part of the colossal sun,
Surrounded by its choral rings,
Still far away. It was like
A new knowledge of reality.
Hoe sou ‘n mens hierdie gedig dekonstrueer?
Binne versus buite. Klanke (fonosentrisme) wat in die denke afspeel (A new knowledge of reality).
Koud (winter) teenoor die son (hitte).
It was not from the vast ventriloquism
Of sleep’s faded papier-mâché …
The sun was coming from outside.
Die gedig aktiveer die ónmoontlikheid om werklik die emosie (in en van die droom) perfek op te vang: daarom begrippe soos vast ventriloquism en faded papier-mâché.
Hoe die digter (en leser) vasgevang is in fonosentrisme word beklemtoon deur die klanke in die gedig:
That scrawny cry–It was
A chorister whose c preceded the choir.
S/Z.
StevenS/DerriDa.
S/D.
Alles bly uitgestel. Die gedig is différance-in-aksie.
Die winter bring vir die digter (en die leser) ‘n ingewikkelde besef: taal kan nooit die werklikheid presies opvang nie. Daar is geen buiteteks nie, beteken dalk daar is altyd ‘n supplement.
il n‘y a pas de hors-texte.
In die begin was die woord (die logos) en taalverbintenisse tussen toe en nou, o.a. Die Bybel as ‘n kanonieke teks. En die onsigbare verband tussen tekste wat die leser sigbaar maak.
‘n Argivale koors dalk. ‘n Poskaart, ‘n telefoon en die stories van ons lewend en dood. Derrida, soos Johnson, is oorlede, maar hul tekste leef voort.
Net soos die Bybelse vermeerdering van brode en visse, ‘n nuwe be-teken-is kry, wanneer ons Markus 8 nou lees. En wat beteken daardie oorskot van sewe mandjies vol nie alles nie?
De la Grammatologie.
Joan Hambidge
Kaapstad
18 Augustus 2024
Bronne:
Cixous, Hélène. 2001. Portrait de Jacques Derrida en jeune saint juif. Paris: Galilée.
Derrida, Jacques. 1996. Archive Fever. A Freudian Impression. Chicago: University of Chicago Press.
https://monoskop.org/images/e/ef/Derrida_Jacques_Archive_Fever_A_Freudian_Impression_1996.pdf Besoek 1 Junie 2024
– 1979. Writing and Difference. Londen: Routledge & Kegan Paul.
Hambidge, Joan. 1998. Die Judaskus. Johannesburg: Kagiso/Perskor.
Salusinszky, Imre. 1987. Criticism in Society : Interviews with Jacques Derrida, Northrop Frye, Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Frank Kermode, Edward Said, Barbara Johnson, Frank Lentricchia and J. Hillis Miller. London: Methuen.
Young, Robert. 1981. Untying the Text – a Post-structuralist Reader. Londen: Routledge & Kegan Paul.
In die bek geruk
My oom Peter werk by die ou telefoonsentrale;
ek sien hom sit, terwyl hy mense deurskakel.
My vader, argivaris, vertel altyd stories oor ons
familie: my dowe oupa Frank, sy ma, die Snipes:
alles nes die vermeerdering van visse en brode.
Almal werk om den brode: elkeen is én het ‘n storie,
‘n boek van versugtinge, met ‘n ongeleefde droom.
Die lewe is nou ‘n opsaal en afsaal van ‘n perd,
daardie Pegasus, sonder saal of toom, daardie perd,
wat jou ritmies, metries, met óf sonder rym, beheer
met stemme (nommer asseblief) van oorledenes
én lewendes deur ‘n ou, swart telefoonsentrale.
© Joan Hambidge

Bester ek dink ‘n vertaling moet altyd die oorspronklike teks gebruik en dan van ander oorbruggingstale gebruik maak. Barbara Johnson en Spivak werk met die Franse tekste wanneer hulle Derrida vertaal.
Die originary prints (die grammé) is in die oorspronklike teks wat die leser oordra so goed as moontlik na die nuwe teks. In Afrikaans kon Uys Krige sowel Frans as Spaans lees. Hierom is vertalings uit ‘n tweede teks dikwels ver verwyderd van die oorspronklike teks. ‘n Kollega in Spaans het my hierop gewys oor al die vertalings van Neruda in ander tale. Hy staan baie krities teenoor die meeste vertalings, wat volgens hom, nie die tradisie van woorde verstaan nie.
Gaan kyk na Krige se verruklike Spaanse dans. In ‘n kursus in Kreatiewe Skryfwerk was ‘n student wat Russies kon praat en lees. Hy staan ook krities oor die vertalings van Achmatova in Engels.
Die teks is die plek van gesag. Gaan kyk ook na Naòmi Morgan se vertaling van Godot.
Ander word dit soos inluister op die plaastelefoon.
Dankie vir die perspektief en raad Joan. Ek verstaan dat die afstand tussen die oorspronklike teken, en ook dit wat aan die teken kleef, die suiwerheid van die vertaling kan beïnvloed. Ek dink daar is verskil tussen grammé en Spoor (soos deur Derrida se differance daargestel, alhoewel dit in wese nooit dáár is nie). Dit is soos ek dit verstaan, iets buite tyd. Geen konsep van die metafisika kan die trajek ‘daarvan’ na die leser omskryf óf belemmer nie.
Op ʼn plek word dit so omskryf:
“It is, on the contrary, the condition of such a plenitude. Although it does not exist, although it is never a being-present outside of all plenitude, its possibility is by rights anterior to all that one calls sign ( signified/ signifier, content/expression, etc. ), concept or opeartion, motor or sensory.”
Maar soos jy laas gesê het, ʼn mens kan seker maar altyd in Derrida verdwaal.
Baie dankie.
Vraag: Kan die Spore/Traces oorgedra word wanneer daar mbt vertaling van ‘n oorbruggingstaal gebruik gemaak word?
Digter – Leser/vertaler – Leser/vertaler – Leser.
Dit beteken die gedig gaan drie keer deur die sentrale, óf gaan dit eerder oor die ‘originary prints’ van die leser (word dit [- Spoor -] in elk geval só oorgedra)?