noudat die amandelboom wit blom
en die jare kom
waarvan ons sê dat dit ons nie behaag
noudat die tand van die tyd
die vet van ons lyf
en die murg uit ons pype knaag
noudat ons soos winterpopuliere
langs klipperige spruite staan
sien ek Pa
‘n Van Gogh-skildery
in die sagsissende lig
van die Coleman gebuig
oor ‘n laat appel uit sy boord
versigtig krul die sinlike rooi
skil onder die Joseph Rogers
behoedsam verlos hy
die saadhuisies met hul saad
sy bruingevlekte hand
sny omsigtig die bruin stukkies
uit
offer die murfwit essensie
aan haar oor wie se gelaat
die vlinder van ‘n glimlag daag:
soet is die najaarsliefde
en seldsaam
van bysaak gestroop
© Liza Petersen, 2024
Wat ‘n pragvers!