Marlies Taljard (MT):
MT
Nini, baie dankie vir die geleentheid om met jou te gesels. Ek val sommer met die deur in die huis. Sal jy asseblief vertel waar jy vandaan kom, iets van jou jeug en jou kleintyd … Wat het jou gemaak wat jy nou is?
Nini Bennett-Moll (NB-M):
Marlies vir jou ook baie dankie vir die geleentheid om met jou te gesels en vir Versindaba as platform waar ons gesprek verskyn.
Ek het grootgeword in ’n boomryke en dromerige voorstad van Pretoria waar daar ’n sterk militêre teenwoordigheid was gedurende die 80’s. Die strate het name gehad wat kom uit die Noorse mitologie. Nadat ek op eenjarige ouderdom wonderbaarlik herstel het van ’n vernietigende siekte met ’n klein kans op oorlewing, het my ma my intellektueel begin stimuleer. Dit was die 70’s en metafore was geil en het oral rondgelê. My ma was op daardie stadium ’n digter en musikoloog, en met ongelooflike wysheid het sy met haar weergawe van terapie begin: Dit het behels om ooreenkomste en verbande tussen (skynbaar onverwante) dinge raak te sien, met ander woorde, metafore – en om elke dag na klassieke musiek te luister. Sy sou byvoorbeeld vra: “Wat sien jy in die boom? In die vyeblare?” ensovoort. Dit was ’n opwindende speletjie wat sy genoem het “nou gaan ons beelde maak”. Toe ek eendag vir haar sê die maan lyk soos ’n ou Disprin, het sy opgewonde gereageer en my haar “digterskind” genoem. Dié beeld was skynbaar ’n (surrealistiese?) deurbraak!
Sy het my geleer om absoluut onafhanklik en vir myself te dink, en gaandeweg het my liefde vir poësie begin ontwikkel. Ek onthou hoe sy my saamgeneem het na Universitas, ’n musiekwinkel in Pretoria-middestad en hoe ek saam met haar nuwe plate moes uitsoek. Ek het ook my beurt gekry om met oorfone na die plate te luister en my insette te lewer. As gevolg van my opvoeding en skoling in klassieke musiek is ek tot vandag toe ’n puris; ek kan nie anders nie.
Die tweede herinnering wat ek het, is aan Jeanne Goosen, wat sedert ek in st. 9 was, die rol van peetma oorgeneem het. Sy was hard op my en het in ondubbelsinnige taal vir my vertel presies hóé vrot my gedigte is. (Jeanne was nie bloedfamilie nie; maar ’n hegte vriendin van my ma.) Die papiere het by tye in bolle deur die lug getrek, maar ’n kind is mos robuust. Ek het bly herskryf aan die verse en ’n renons in clichés ontwikkel. Ironies genoeg was ek ’n groetekaartjieskrywer terwyl ek ’n student was, en moes ek weer elke liewe cliché in die boek herbesoek. Toe ek die 2000-merk verbysteek, het ek selfs my eie reeks, met my naam onder aan die boodskappies, gehad. Hierdie oefening was ’n vorm van reverse psychology in clichés en wát om in poësie te vermy. Tot vandag toe raak ek mislik as ek versuikerde boodskappe aanskou. Ek het soms in die CNA gestaan en kyk na die konkurrente se groetekaartjies: Wat is ’n skeppende variasie op die tema van ingeburgerde clichés soos “op die donkerste nag skyn die sterre die helderste?”
Danksy die leiding van Jeanne en my ma het ek in my st 9- en matriekjaar die De Kat-poësiekompetisies vir hoërskoolleerlinge in al die kategorieë gewen. Jeanne het wonderlike boeke saamgebring wanneer sy kom kuier het, my bekendgestel aan skrywers soos Mandelstam, Violette Leduc, en soms ook nuwe Afrikaanse digbundels. (Ek het Palinodes in st. 7 as geskenk ontvang, en ’n vriendin van Jeanne het opgemerk dat “die kind nie Joan se bundels sal verstaan nie,” waarop Jeanne bruusk geantwoord het: “Die kind sal alles verstaan wat Joan skryf.”) Nodeloos om te sê: Ek het Palinodes met ’n HAT oop langs my gelees, alhoewel ’n duideliker begrip vir die bundel eers later deurgebreek het.
My derde herinnering is dat ek ’n kranige briefskrywer was sedert ek leer lees en skryf het op 5. Ek het byvoorbeeld deur die loop van my lewe honderde briewe aan my ouma geskryf, wat ek “dagboekbriewe” genoem het, maar wat in retrospeksie eintlik mini-kortverhale was.
MT:
Wat doen jy deesdae? Watter beroep beoefen jy, waar woon jy, wat doen jy in jou vrye tyd? Met wie deel jy jou lewe?
NB-M:
Ek woon in Somerset-Wes en is getroud met die liefde van my lewe, Mellet Moll. Ek beoefen soos menige vryskutter in die Afrikaanse boek- en literêre bedryf, ’n wye repertoire vaardighede om ’n inkomste te verdien. Dit sluit twee maandelikse rubrieke vir LitNet in, waarvan die een ’n satire/algemene meningstuk, en die ander ’n boekrubriek betrek. Laasgenoemde skop volgende week af. Ek skryf ook blogs oor poësie en resenseer vir verskeie hoofstroom platforms. In ons vrye tyd kyk ek en Mellet films, stromingsreekse en tans volg ons die Amerikaanse presidensiële veldtog met groot geesdrif. Die hoogtepunt van my dag is wanneer ek gaan stap met my oorfone en musiek – dit help my om beter te konseptualiseer aan dít wat ek volgende moet skryf.
MT:
Nini, behalwe dat skryfwerk jou beroep is, het dié beroep ʼn spesifieke invloed op jou skryfwerk – die temas, die ondervinding wat jy opgedoen het, die onderliggende teorie …?
NB-M:
Miskien het die beroep wat ek moes gevolg het, maar nooit in studeer het nie, ’n invloed op die poësie wat ek nou skryf, naamlik oor biologiese organismes en verskynsels in die lewenswetenskappe. As ek die horlosie kon terugdraai, sou ek waarskynlik ’n bevredigende loopbaan as ornitoloog of iets in dier voege kon gelei het. Aanvanklik wou ek ’n kriminoloog geword het, tot ’n dosent vir my gesê het ek is te “sag” daarvoor. Ek het egter my belangstelling in profilering en kriminalistiek goed benut toe ek en Mellet onlangs ’n berugte metakritikus ontmasker het. Hulle sê mos ’n verdagte laat altyd ’n vingerafdruk.
Ek onthou die gesprekke oor resensente tussen my ma en Jeanne Goosen baie goed. Ek was nog bitter klein en het spitsoor geluister na wat die een of ander resensent kwansuis kwytgeraak het. En ek het gewonder: Wíé ís hierdie mense? Waarom krap hulle skrywers so om? My ma het my ook saamgeneem na digterskuiertjies (ek was toe seker so 5); ongelukkig min wetend dat ek vandag sommige van hierdie einste digters se doodsberigte moes skryf.
Toe ek algemene literatuurwetenskap aan UP studeer het, het talle uitstekende mentors my denke help vorm. Noem dit Tukkies se old school as jy wil: Proff Réna Pretorius, Piet Roodt, Tom Gouws, Charles Malan, Heinrich Ohlhoff, en so kan ek aangaan. Ná my eerste taak oor ’n digbundel het prof Pretorius my ingeroep en gesê ek toon potensiaal, maar ek moet tog nie so “hardlywig” skryf nie. Ek het dit vreeslik komies gevind, want ek was ’n kind, 18 jaar oud. Ek onthou ook daar was in die Merensky-biblioteek (vlak 6) in die argiefgedeelte ’n klomp kniplêers waarin resensies van skrywers in alfabetiese volgorde geliasseer was. Dit is daardie dae nog gespoeg en geplak met die hand. Die “bib-tannies”, soos ons na hulle verwys het, het baie moeite gedoen om die lêers, uit verskillende gedrukte media, sorgvuldig byeen te hou. Ek het tussen klasse gereeld daar gaan sit en die lêers sistematies deurgelees; my persoonlike Sanhedrin. Tot vandag toe onthou ek grepe uit daardie resensies, inligting waarna ek soms verwys.
Ek is onderskeidelik vyf en ses jaar jonger as my ouer susters, met die gevolg dat ek hulle universiteitshandboeke (geesteswetenskappe) op hoërskool beetgekry en gelees het. My ousus het ook Russies as vak gehad; die Russiese en Duitse letterkunde, maar ook sielkunde, het tot my gespreek. Só het ek in st 7 die kortverhale van Wolfgang Borchert ontdek, ’n skrywer wat my tot vandag toe na aan die hart lê. Wat my interesseer, is verskynsels soos oorlog, waansin, (met inbegrip kreatiwiteit en die kunste), randfigure en -verskynsels, die dood, ensomeer. En uiteraard natuurverskynsels.
MT:
Hoe sien jy jouself as mens en as digter? Het jy in jou lewe en skryfwerk gegroei?
NB-M:
Dis gekompliseerd. Ek is ’n gelukkige kluisenaar wat verskynsels en diere bo sosiale interaksie verkies. Ek verkeer tans in ’n skemerfase ná die afsterwe van my moeder in Junie vanjaar, en ek soek die stilte op. Ek glo dat hierdie hibriede toestand waarin ek verkeer, later mog lei tot ’n skeppende deurbraak (hopelik). Ek speel met idees en vind die filosofie van Emil Cioran boeiend.
Wat my leeslyste betref: Ek staan daagliks verwonderd oor die letterkunde se vermoë om mens attent te maak op die herhalende argetipiese patrone, onderliggend aan menslike gedrag en die lewe self. Die kritiese lees van tekste word ’n terapeutiese instrument op sigself.
MT:
Waar kom jou liefde vir woorde vandaan? Hoe lank skryf jy al en wat skryf jy alles?
NB-M:
Sedert ek klein was, onthou ek my liefde vir woorde; ek het graag woordpeletjies gespeel. My eerste gedig, geskryf in 1977 lui so: “Pappa. / Die huis. / Die see. / Ek het goud. / Ek het die son se goud gevat. / Een twee drie die trein het my doodgery.” Hierdie versie is op die heel laaste bladsy van my kortverhaalbundel, Stoornis (2003) afgedruk, kompleet in die kinderskrif van ’n 5-jarige. Ek kan onthou dat ek sedert ek baie klein was, uitermate bewus was van die dood.
Ek vermoed dat my drang om gedigte te skryf, allereers gesneller word deur ’n diepgewortelde doodsdrang; en om te skryf, skep ’n tydelike transendentasie of verplasing waarin mens vir ’n paar minute enig en heel voel. Of om die gevoel van verlossing en verhewenheid te ervaar. My muse, as daar so iets of iemand bestaan, is melancholie. Dalk iets soortgelyk aan Marais se beskouing van die groot verlange.
Ek het bekronings soos die UJ-debuutprys (kortverhale, 2003) en die internasionale Room to Read-prys (2008) vir ’n jeugverhaal verower. Maar dit is kritiek, en nie lof nie, wat as katalisator dien om beter te skryf.
Ek is nie ’n taalstryder of vegter vir die behoud van Afrikaans nie. Taal is slegs ’n medium, soos wat Microstoft Word ook ’n medium is. Ek dink dit sou absurd wees om te veg vir die behoud van Microsoft Word, en so ook die taal. In hierdie konteks word die woord “veg” of “stryd” ook erg misbruik. ’n Stryder is vandag eintlik niks meers as ’n keyboard warrior wat dapper agter ’n swartspieël skuil nie.
Taalkonstrukte fassineer my, maar sonder die ideologiese borswering daaraan verbonde. Ek is terdeë daarvan bewus hoe woorde wapens kan word; of hoeveel bloedsweet en intellektuele eiendom daar van ’n keurder/redigeerder in ’n voornemende skrywer se werk ingaan. As ’n mens nie ’n vorm van robotiese gedrag in die Afrikaanse vryskutbedryf aanleer nie, gaan jy nie oorleef nie. Alles rakende Afrikaans, haar boek -en literêre bedryf, is relatief en vervlietend. Neem jouself nie te ernstig op nie.
MT:
Is jy ʼn leser, en wat lees jy? Watter teks(te) het jou die meeste aangegryp?
NB-M:
Ek lees enige iets – of alles waarop ek my hande of oë kan lê. Maar voor ek kom by die tekste wat my aangryp wil ek vir Harold Bloom aanhaal: “There are no texts. There are only ourselves.”
Ek sien alles in die lewe as taalkonstrukte, en dít is waar dit interessant raak. Of dit nou outydse fotoverhale, strokiesprente, preke, advertensies, skinderstories, die All Blacks se haka of geelpersjoernalistiek is: alles is teks. Die Amerikaanse presidentsverkiesing steun swaar op taal. Politieke toesprake soos Churchill se bekende kragtoer op 29 Oktober 1941, “We shall never surrender”, waarvoor hy onder meer die Nobelprys vir Letterkunde verower het, kom weer ter sprake. Hierdie toespraak maak mildelik gebruik van digterlike tegnieke en was ’n baken van lig in die mensdom se donkerste uur. Ek luister fyn na die politici se taal en die uitwerking daarvan op hulle gehore. Alle mag beweeg deur die hoofaar van taal – Foucault en Žižek – en aspekte van sosio-linguistiek kom ter sprake. Dit is ’n onderwerp wat wyd en diep loop, maar dít daar gelaat.
Skrywers en digters wat my inspireer, word gevind in poëtiese wetenskaplektuur soos byvoorbeeld die werk van ekoloog en marienebioloog, Rachel Carson met haar blitsverkoper Under the sea wind: A naturalist’s picture of ocean life (1941), die bosboukundige, Peter Wohlleben se wetenskaplik-poëtiese besinning oor bome, The hidden life of trees (2015), en die dokumentêre reekse van David Attenborough. Ek skryf nou juis ’n rubriek oor hoe die tradisionele lesers van poësie ook die (nuwe) kopers van poëtiese wetenskaplektuur word.
Dan is daar die goue oues, of dié wat altyd op my leeslys bly, in geen spesifieke volgorde nie: Breytenbach, Eybers, Kafka, Jeanne Goosen, Louw, Opperman, Joan Hambidge, Arseni Tarkofski, Hermann Hesse, Anna Achmatowa, Mirza Ghalib, Adonis, Francis Webb, Charlotte Mew, Philip Larkin, Seamus Heaney, Paul Éluard, Paul Valéry, Paul Celan, Gerrit Achterberg, Illya Kaminsky, ensovoort. My leeslyste wissel en verander gereeld. Ek het onlangs kennis geneem van Nayyirah Waheed se bundel salt, wat verras in beeldryke minimalisme.
MT:
Hoe skryf jy? Kom jou gedigte volledig by jou aan? Dink jy lank voordat jy iets skryf? Hoe lank en hoe intensief werk jy aan ʼn gedig?
NB-M:
Ek skryf meesal met die hand, en altyd met ’n potlood. Potlode skryf glad en sag en die tekstuur voel in alle gevalle dieselfde, terwyl die grein van penne ‘verskillend’ skryf. In ’n noodgeval skryf ek notas op my foon se Notepad-funksie – ek het tans meer as 1800 notas daar; losweg beelde, woorde, en frases tussen die lysies vir kruideniersware en ander los gedagtes deur. Ek dink nogal lank voor ek halt roep met ’n gedig. Die intensiewe proses is die dinkproses, nie die neerskryf nie. Ek het gemerk dat wanneer gedigte “maklik” kom, dit meesal minderwaardig is. Dis wanneer mens téén weerstand inskryf, dat jy beter vaar. Daarom beskou ek poësieskryf as ’n dwingende en masochistiese aktiwiteit. Wanneer die vers uiteindelik ’n versadigingspunt bereik, daal ’n gevoel van verligting (of verlossing) oor my neer. Ek is ’n detaildenker en die geboorte van ’n gedig is nie maklik nie: Ek moet die verbrokkelde deeltjies bou, amper soos die dpi’s van ’n dot-matrix-drukker, of die kolletjies van ’n saamgestelde oog.
MT:
Watter temas lê jou na aan die hart? Waaroor voel jy sterk? Wat maak jou gelukkig? Wat stem jou onrustig? Wat haat jy? Waaroor droom jy?
NB-M:
Temas wat my na aan die hart lê, is die geheimnisse van die natuur, die konsep van tyd, die dood, en ander spirituele beskouings. Goeie poësie lees soos geheime in die bes gekose taal en trope.
Wat my onrustig stem, is maatskaplike onreg en die oplewing van neokonserwatiewe waardes wêreldwyd (wat afwentel van Amerikaanse presidensiële verkiesing). Die skryf van poësie herinner my aan Rorschach-toetse – dit verklap baie van die digter én leser! Daar is heelwat wat my gelukkig stem aan poësie, maar dit fluktueer. Op die oomblik fokus ek op transendentalisme in poësie – die spirituele of mistieke eenwording met ’n groter mag of krag. Ook: poësie as uitdrukking van stilte. Dalk is ek naïef, maar ek glo dat poësie wel oor die vermoë beskik om ’n salwende uitwerking op haar lesers te hê.
MT:
Is daar iemand wat jou inspireer om te skryf, iemand wie se werk jy bewonder of iemand wat vir jou ʼn klankbord is?
NB-M:
My twee ouer susters en Mellet inspireer my om te skryf. Mellet is my klankbord en ongelooflik objektief. Omdat ek werksaam is in ’n milieu waar kritiek, en nie lof nie, die pas aangee, is ek geredelik ontvanklik vir kritiek. Dankbaar daarvoor! Want die Suid-Afrikaanse boekbedryf gaan gebuk onder ’n kommersialisering en vervlakking waarin die uitspreek van kritiek oorwegend met argwaan bejeën word.
Ek het ontsettend baie by Mellet van ’n breë spektrum onderwerpe geleer die afgelope 12 jaar. Hy is vinniger en meer effektief as enige Wikipedia-blad of ChatGPT, en dis lekker om ’n lewende kletsbot van my eie byderhand te hê. Sy geheue en algemene kennis bly my verbyster.
Mellet is my soulmate, saam het ons een brein in twee liggame.
Ek bewonder digters wat die taal van metaforiek vlot kan praat; en dit is nie beperk tot digkuns nie. Daar is ook romanskrywers soos Anne Michaels, Violette Leduc, Janet Fitch, Jean Echenoz, en Dominique Botha, wat hulle metafore giet in die vloeibare poësie van hulle narratiewe.
MT:
Nini, die literêre wêreld is ‘n harde wêreld waarin kritiek soms makliker uitgespreek word as lof. Dit is, om dit in suiwer Afrikaans te stel, nie ‘n plek vir sissies nie. In hoeverre steur jy jou aan kritiek?
NB-M:
Ek probeer om my nie te steur aan kritiek nie, maar dit gebeur tóg. Dit hang ook af van wie hierdie kritiek kom: As dit ’n gerekende literator is, dan luister ek. Maar as dit ’n klomp oningeligte Facebookers is wat ook ’n “opinie” het, dan lees ek dit glad nie. Almal het mos deesdae die een of ander “opinie” vanwaar ’n mening op ’n seepkis uitgeblaker word.
Ek is voorts nuuskierig wáárom daar kritiek op my werk gelewer word: Hopelik is dit ’n sinvolle betoog van ’n keurder of letterkundige wat my noop om aan my mankemente te werk.
MT:
Watter raad sou jy graag aan aspirant-digters gee?
NB-M:
As jy beter wil skryf, skryf oor ‘objektiewe’ of neutrale onderwerpe – dié wat nie ’n emotiewe respons by jou ontlok nie. Vermy die sugar traps en clichés: dit kom met ’n verstekinstelling by álle digters. Jou diepste, egste emosie gaan jou nie help met jou poësie nie. Wees neutraal, dan fokus jy beter op poësie as taalkonstruk. En leer soveel jy kan oor digterlike tegniek en vakmanskap. Later, wanneer jy tegnies beter vaar, kan jy die emotiewe onderwerpe herbesoek.
MT:
Deel asseblief met ons een gedig in jou oeuvre (of ook meer as een) waarvan jy baie hou.
NB-M:
Vir Sheila
In weerwil van genade
wat so beenmin vra,
die blote bruikleen van ’n lyf ―
maar ou been vermurwe,
minder beendig
word ou been murg
en sag, ’n kalkdun lewe
van uitgespaarde krag.
Dalk word ons fossiele
as die see oor sy afgrond stoot
eendag, na groter hoogtes hel ―
ouerwordend
die verwording, die skulpe,
die verlooptes
teruggegee aan land en see.
(C) Donkerwerk, 2019, Naledi.
Donkerwerk
(Vir Mellet)
dat ek jou liefhet, ’n mededeling in die skemer
opreg, ’n kind wat op sy erewoord sweer
en dwingend, ’n ou mens wat in hoofletters skrywe
dat ek jou liefhet, vertroulik soos ’n vuurhoutjie
wat bakhand vonk en die vlam verdeel tot ek jou
gesig herroep in die maagdelike gloed van ’n kers
dat ek ’n alleenloper is soos jy
en dat ek jou liefhet, sodat ons saam
alleen kan wees
dat ek jou weggaan vrees, die meervoudige
eensaamheid van spieëls, die stil uitroep
van rimpelings in water
dat ek jou liefhet
my skaduwee, my donker kameraad
my beskermer en my bedreiger
dat ek jou liefhet soos die getuie van ’n visioen
of die geheim van ‘n telefoonhokkie, die rugkant
van gesprekke skugter vorentoe gebuig:
om na jou te verlang
is om na die verlange self te verlang
(C) Donkerwerk, 2019, Naledi
Alles baie interessant. Net een kommetaarkie. Waar taal ‘n medium is, is MsWord ‘n gereedskapstuk. Die gelykstelling van die twee as mediums, nee wat. En om te sê dit sou absurd wees om vir die behoud van Afrikaan te veg, nee wat. Taal is die kognitiewe medium waarin ons gedagtes uitdruk, waarmee ons die tapisserie van teks vorm. ‘n Taal is kultuurgoed, dit definieer kultuur. Natuurlik moet mens veg vir jou kultuur en, dus jou taal, jou identiteit, verlede en jou toekoms, en dié van jou nageslag. ‘n Sleutelbord, monitor en rekenaartoepassing is kommersiële stukke gereedskap, slegs hulpmiddele om taal uit te druk, vas te vang en te deel. Soos pen en papier.
Ek onthou met fondness, die Grande Dame, Rena Pretorius. Altyd pragtig uitgevat, wit sakdoekie onder die polshorlosieband. Sy het ‘n blywende indruk gemaak op almal wat by haar klasgeloop het.
Réna Pretorius se artikels en lesings van die digkuns bly vir my ‘n baken. Oor Van Wyk Louw en Cloete veral.
Dankie vir hierdie herinneringsreis.
Ek het die onderhoud vreeslik geniet! Nini, jy weet nie hóé spesiaal jy is nie. Jy is ‘n gebore skrywer en digter, wie se fontein van woorde nooit opraak nie. Dis ‘n fees om jou in my lewe te hê!