Resensie: ’n Ander wêreld deur Eunice Basson. Protea Boekhuis, 2024.
Resensent: Marlies Taljard
’n Ander wêreld is Eunice Basson se derde bundel en verskyn 10 jaar na haar debuut, Leiboom (Queillerie, 2014). Vier jaar gelede het By die dag (Protea Boekhuis, 2020) verskyn. Soos in haar vorige bundels fokus die digter in ’n Ander wêreld op die bestaanswyse van die sogenaamde “klein wêrelde” waarby ons in ons alledaagse bestaan dikwels verbykyk. Basson is ’n kunshistorikus en die akkurate waarneming en fynkyk van die kunstenaar speel in al drie haar bundels ‘n belangrike rol in die keuse van onderwerpe én in die beligting van detail.
Oor Leiboom skryf Heilna du Plooy (2014) soos volg:
In hierdie debuutdigbundel word die lewensloop van die mens, ons ellendes en ironieë en veral ons ervaring van kontraste in die natuur en in onsself, soos dié van groei en aftakeling, intens menslik dog gestroop betrag.
https://versindaba.co.za/2014/11/24/resensie-leiboom-eunice-basson/
Janien Linde skryf oor By die dag:
Eunice Basson se tweede bundel staan in die tradisie van haar liriese en suggestieryke debuut Leiboom, in 2014 deur Queillerie publiseer. By die dag handel oor die skoonheid en besondersheid van die alledaagse bestaan en die wonder van die kleine moment.
https://versindaba.co.za/2020/08/04/resensie-by-die-dag-eunice-basson/
Dieselfde uitsprake sou ewe goed op ’n Ander wêreld van toepassing gemaak kon word, alhoewel dié bundel nie ’n blote voortsetting is van die voorafgaande twee nie. ’n Belangrike aspek wat hierdie bundel kenmerk, is die volgehoue narratiewe aard van gedigte. Byna elke gedig is ’n klein, afgeslote verhaal van menslike lyding, opoffering, hoop en vreugde.
Die bundel is struktureel in vier afdelings verdeel. Die motto van Olga Tokarczuk verklap die essensie van die digterlike tegniek en die fynfokus van die bundel: “There is too much world, so it’s better to concentrate on particulars, rather than the whole”. Daar is ook twee mottogedigte waarvan die eerste, “Klein koninkryk”, Tokarczuk se motto illustreer deurdat die digter inzoom op die mikrokosmos “[i]n ’n droë blomsteel van ’n agapant” (p. 7). Die tweede mottogedig, “Die nag” (p. 8) verwys simbolies na die donkerder aspek van die lewe en die mens, na lyding en ontberinge wat ’n belangrike bundeltema is, deur beskrywing van die nag en die naglewe – iets soos die “underbelly” van die stad met sy “gediertes”, slapelose nagte van moeders, die hospitaal wat nooit tot rus kom nie en die trolliestoters van Marabastad. Die nag is “’n wêreld van horende dowes”. Hierdie aspek word veral ontgin in die derde bundelafdeling “Homo homini lupus est”.
Die eerste afdeling, getiteld “Landskap”, is die omvangrykste in die bundel. Daar is 22 gedigte wat almal metafories as pentekening getipeer kan word (vergelyk ook die gedig “Pentekening”, p. 18). Soos in Basson se vorige bundels, val die klem hier sterk op die lot van die vrou – veral binne die stedelike ruimte of landskap van die stad. Die openingsgedig, “Alleman” (p. 10) is, as die plek waar die bundel formeel “betree” word en as eerste indruk, ’n belangrike gedig waarin die kodes en simbole wat die skering en inslag van die bundel vorm, aan bod gestel word. Ek staan dus ’n bietjie langer by dié gedig stil.
Alleman
Na die skilderye van John Koenakeefe Mohl (1903-1985)
Sonop, met kwik in die hart van kapperblare,
Vul sy ’n waterbak vir voëls en rondloperhonde
Voor sy haar deur sluit en ongemerk saam met
’n string in die pad val – kortliks hier en daar
’n geselsie aanknoop vir nuus uit die buurt.
Almal kom of gaan: Nagsusters, teen die stroom in,
Sien uit na rus en stilte, terwyl myners flits en stel
Aan kopligte om nou-nou in git af te tuimel –
Daagliks, elkeen droomwaarts aan’t skarrel.
Die skilder na wie verwys word in die opdrag, John Koenakeefe Mohl (1903–1985), was ’n belangrike figuur in die sogenaamde “Sophiatown Renaissance” in die 1940’s en 1950’s. Hy is bekend vir sy sardoniese uitbeelding van die straatlewe in die townships en die wyse waarop hy die stemming van die township-landskap vasgevang het. Hy was veral lief om vroeë oggendaktiwiteite, reënlandskappe en die skemeruur uit te beeld. Sy fyn en sensitiewe kwaswerk is een van die uitstaande kenmerke van sy kuns. Mohl het tydens die Weimarperiode in Duitsland studeer – waarskynlik onder andere onder Paul Klee en sommige kunskritici beweer dat aspekte van die Neue Sachlichkeit wel in sy kuns bespeur kan word (sien https://www.peffersart.com/artists/99-john-koenakeefe-mohl/).
Iéts van hierdie tegnieke, poëties vergestalt, skemer ook in die poëtiese werkwyse van die bundel ’n Ander wêreld deur: Die digter fokus in die eerste afdeling van die bundel op die alledaagse aktiwiteite van gewone mense (Jan Alleman), maar kyk met ’n fyn oog en skilder met sensitiewe “kwashale” wat sy waarneem. Hierdie gedig lê die grondslag vir interpretasie van die bundel en weerspieël op poëtiese vlak in baie opsigte die minimalistiese en stemmingsvolle uitbeeldings van Mohl se landskappe en figure.
In die gedigte “So lank as wat die lepel … (p. 11) “ en “Geskenke” (p. 12) word spesifiek aktiwiteite van townshipvroue uitgebeeld. Die laaste twee gedigte van die eerste afdeling, “ʼn Dag soos alle ander” (p. 30) en “Meeloper, 2020” (p. 31), sluit tematies by die bogenoemde gedigte aan deur fokus op die lewe van gewone mense. In “ʼn Dag soos alle ander” luister “sy” eers na die verloop van die man se dag en sy probleme met die “skraper wat ‘n rif bo in die [Sani]pas / eers nie kon breek nie.” As ʼn nagedagte word die vrou se dag dan beskryf. Sy konsentreer daarop om diensbaar te wees vir die man:
Háár dag was soos alle ander: afstof
Vadoeke uithang en opslagappelliefies oes,
Sy gunsteling op haar buiteoondbrood”
ʼn Onheilspellende variasie op dié tema kom voor in “Vlek” (p. 54):
Vlek
ʼn Enkelma, moedeloos gespook aan oortyd
en ander se wasgoed, verdien ekstra losiesgeld
van ʼn oorslaapman in die buitekamer.
Drupsgewys, soos ink in water, rig hy
Sy visier op haar kind om ongesiens
En driftig oor dié jong lewe te spoel.
Tot daardie middag toe kinders spot
Oor die meisie se boep en sy met ʼn tou
Oor ʼn balk na haar asem snak.
Hierdie gedig is een van etlike aangrypende gedigte in die bundel waarin die saaklike beskrywing van gebeure onafwendbaar op ʼn ysingwekkende slot afstuur – donker ironies, modernisties, minimalisties. Dié gedig met sy drie tersines, 5-lettergrepige reëls, treffende metaforiek, fyn afwerking en meerduidige dubbelbetekenisse kenmerk Eunice Basson se poësie en het as’t ware haar handelsmerk geword. Die vrou se lot onder ʼn patriargale bestel en die miskenning van geweld teen vroue en kinders in ons land is ʼn aanklag teen die samelewing.
ʼn Ander tema wat deurgaans voorkom, is die teenwoordigheid van diere as deel van ons (voorstedelike) lewe én die dier as bewuste wese. “Besoeker” (p. 14) en “Soos ertjies” (p. 15) staan teenoor mekaar op die bladbeeld en bevat die minimale storie van ʼn besluit wat die spreker moes neem oor ʼn rotplaag. Die sonnet “Besoeker” wroeg oor die besluit:
Gaan sy soos ʼn Pilatus handewringend
anderkant toe kyk of ongeërg en berekend
soos ʼn Eichmann sy doodsvonnis tjap (…)
Die tweede gedig verskaf die skreiende antwoord:
Volmaak gekloon soos ertjies in ʼn peul
Was hulle aan die fyn tepeltjies gestring
Toe die aas haar lyf versteen.
“Waar jy gaan …” (p. 19), “Droomjag” (p. 20) en “Lied vir Saartjie” (p. 21) is gedigte oor honde, terwyl die sonnet “Lewende taksidermie” (p. 24) besoeke aan die Pretoriase dieretuin beskryf met die slotsom:
Algaande het stadsgeruis die diere
Tot lewende taksidermie verstil, met oë starend
Asof hulle die oerwoude en boswêreld kan onthou.
Hierdie gedig roep ʼn onlangse positiewe gebeurtenis op wat as’t ware die spieëlbeeld vorm van die beskrywing in die bostaande gedig. Die gelukkige einde van die olifant Charlie se dieretuinbestaan is naamlik tans hoogs nuuswaardig. Hy is na meer as 40 jaar in die Pretoriase dieretuin vrygelaat en bevind homself nou in ʼn groot natuurreservaat iewers in die Bosveld. Sien https://www.dailymaverick.co.za/article/2024-08-20-charlie-sas-last-zoo-elephant-released-back-into-nature-after-43-years-of-captivity/
Die berig is geskryf nadat die bundel reeds verskyn het, maar getuig daarvan dat gedigte en verhale oor ruimte en tyd na mekaar uitreik, vooruit- en terugverwys.
Die gedigte “Voorstedelike Camino” (p. 29), “ʼn Dag soos alle ander” (p. 30) en “Meelopers” (p. 31) vorm, soos verskeie ander gedigte in die bundel ʼn “familie” deurdat dit soortgelyke gebeure, toestande of personasies uitbeeld. Ongelukkig verhoed die sterk narratiewe aard van gedigte wat op ʼn spesifieke gebeurtenis fokus, asook die sterk onderlinge afhanklikheid van gedigte met mekaar dat die skopus van gedigte wyer as die enkelgeval strek en dat die gedigte universele toepaslikheid verkry. Dit is iets wat Heilna du Plooy reeds in ʼn resensie van “Leiboom” aangetoon het en wat steeds vir hierdie bundel geld.
Sien https://versindaba.co.za/2014/11/24/resensie-leiboom-eunice-basson/
Die tweede afdeling, “Stillewe”, is outobiografies van aard. Die 12 gedigte in hierdie afdeling is almal in mindere of meerdere mate minimale stories deurdat die narratiewe elemente karakters, gebeure, ruimte en tyd ʼn belangrike rol speel in die afloop van elke gedig. Die gedigte handel hoofsaaklik oor familielede en familiegeskiedenisse van die digter/spreker en vorm ʼn sterk omlynde en afgeslote deel binne die bundelgeheel. Hierdie is dié afdeling van die bundel wat die sterkste eienskappe van laatwerk vertoon deurdat identiteitskonstruksie veral plaasvind deur die vertel van kleingeskiedenisse, herinneringe en stories wat individuele familielede en die familie as sodanig definieer.
Karaktersketse van ouers en ander familielede kom voor in gedigte soos “Waterdraer” (p. 36) en “Vrugbegin” (oor die vader); “ʼn Ander wêreld” (p. 37) en “Sluitreël” (p. 40) (oor die moeder); ”ʼn Ander soort dood” (p. 43), “Ek hou jou met albei hande vas” (p. 44) en “Fragmente van onthou” (oor die digter se oorlede broer); en “My oom met ʼn duif in sy hand” (p. 39).
Die dood van ʼn broer is hier, soos ook in By die dag, ʼn belangrike narratiewe gegewe en van die mees aangrypende gedigte in die bundel handel oor hom:
Fragmente van onthou
Knysna, 28 Januarie 2020
ʼn Blouduiker het uit sy lêplek opgeskrik, en vlinders
rustend op die bosvloer het hoog teen boombas
gaan skuil toe jy jouself daardie oggend neerlê.
Die strandmeer het na die koppe se kant toe
Leeggeloop waar weekdiere op rotse verdroog
En krappe skugter in skeure verdwyn. Nou
Strek die dae en maande voor my uit waar
Ek in fragmente van onthou na jou gaan soek.
Die bostaande gedig dien as ʼn verdere illustrasie van hoe vaardig die digter met taal omgaan. Byvoorbeeld: Die skok van die ontvanger van slegte tyding word weerspieël in die skrik van die duiker en die noem van weekdiere en hulle lot, terwyl die leegloop van die strandmeer metafories word vir die dood. Weereens wil ek wys op die konstruksie van die gedig wat in minimale trekke in die bestek van twee rymlose kwatryne deur suggestie, metaforiek, simboliek en die keuse van elke woord se plek binne die reël, die strofe of gedig as geheel fyn uitgewerk en betekenisdraend is. Dié digterlike tegniek wil aangeleer wees en verg tydsame afwerking. Dit is een van die belangrikste kriteria waardeur die poëtiese koring van die kaf geskei word en die kwaliteit van gedigte bepaal word.
“Homo homini lupus est”, (Man tot man is wolf) is ʼn Latynse spreuk wat op die donker kant van die mens slaan. Dit is die titel van die derde bundelafdeling waarin verhale van vroue die botoon voer en situasies waar mense op hulle wreedaardigste en onmenslikste optree, poëties vergestalt word. Die motto van die eerste gedig, “Dagdrome” (p. 48) kan oorkoepelend vir al 17 gedigte in hierdie afdeling geld: “What cannot be said will be wept” – Sappho. Hierdie afdeling sou ook kon staan onder die noemer “Die 17 Duiwels En Wat Hulle Gedoen Het”. Die gedigte herinner ons aan die skrikwekkende werklikheid van ons lewe in ʼn land (en ʼn wêreld) waarin geweld en vooroordele ongebreideld en ongestraf botvier. Hier staan verhale van die marginalisering van gay mense, geweld teenoor vroue en kinders, misogisme, verkragting, die lot van vroue in Islamitiese lande, politieke magsmisbruik en oorloë, sadisme …
Soos in haar vorige bundels, staan geweld teenoor vroue en kinders ook in hierdie bundel uit, soos in “Nul per os” (p. 52) waarvan die slot só lui:
(…)
Deur newels hoor die vrou steeds
Sy dawerende swets oor iets wat hom
Nie geval nie voordat sy terugsteier,
Ineensak, met net ʼn flenter
Van die formulier intakt: die belofte,
Moontlik skei die dood hulle dié keer.
Hoewel hierdie gedigte telkens skok, het ek egter gevind dat – ook in die lig van meerdere gedigte met dieselfde tema wat in die digter se oeuvre voorkom – die gedigte soms aan melodrama grens. Ek dink onder andere aan “Sielevanger” (p. 55) wat handel oor die dood van ʼn Katolieke non – ʼn dokter wat in 1952 in die destydse King Williamstown deur ʼn oproerige skare vermoor is en “Een oggend op Fraai Uitsig” (p. 58). Deur ooraanbod van dergelike gedigte in dieselfde styl word die leser gedesensiteer en verloor die gedigte op die duur hulle impak.
Soos in baie ander digbundels wat die afgelope jare verskyn het, is die wreedheid van oorlog en die mag van politieke leiers om jong seuns na hulle dood te stuur ter wille van sinnelose ideale ook in ʼn Ander wêreld ʼn motief: Nazisme is die tema van “Wannsee, Berlyn, 20 Januarie1942” (p. 56); die Bosoorlog in “Dulce et decorum est pro patria mori” (p. 57); die Turkse inval in Ciprus in “Operasie Atilla, Ciprus, Saterdag 20 Julie 1974” (p. 59); en in “Ou moeders van die townships” die “dankbare tuiskoms” van die beendere van 83 politieke misdadigers wat deur die Apartheidsregering gehang is. Soos die bundeltitel aandui, is besonderhede en nie die wyer agtergrond nie, belangrik. Die verhale van enkelmense wat beïnvloed word deur die boosheid van ander word vertel en sodoende verkry die dade van geweld en oorlog ʼn menslike, individuele gesig.
Die laaste afdeling, “Botsels” bestaan uit drie gedigte – twee oor plante en die slotgedig “Op slot” (p. 68) oor die ouerwordende vrou wat haarself saans in haar huis agter vele slotte toesluit: “ʼn sakwurm toegespin aan haar eie tak.”
Een van die sterkste aspekte van die bundel is die skep van ruimte: sowel die ruimte van Pretoria en enkele ander plekke in Suid-Afrika, as die landskap van die verbeelding en die innerlike landskap van die digter/spreker. Soms is dit inderdaad ʼn “ander wêreld”. Anders as dié wêreld en die landskap waarna ons oppervlakkig kyk sonder om na besonderhede op te let; “anders” is die immer vreemde wêreld van die Ander, die digter, diegene wat die buitewyke van die stad bewoon of andersins gemarginaliseer is, nie inpas in die legkaart van “normaliteit” nie; die wêreld van miskendes, mishandeldes, ontmagtigdes en hulpeloses; die wêreld van die dier, die boom, die plant.
ʼn Ander wêreld is ʼn bundel wat sy plek kan volstaan binne die Afrikaanse poësie as inhoudryke en fyn gekonstrueerde literêre kunswerk. Die gedigte is maklik toeganklik vir lesers wat vir plesier lees, maar bied ook ryke stof tot nadenke en navorsing. ʼn Sensitiewe digterstem tesame met ʼn stilisties streng keurdershand sorg vir goeie balans en ‘n esteties bevredigende eindproduk.