Resensie: I wish I’d said…Vol. 7 (Johann de Lange & Stanley Madonsela, Reds.). Naledi, 2024
Resensent: Nini Bennett-Moll
I
Die AVBOB Poësieprojek is in 2017 gebore ná die dood van ’n seuntjie en sy oupa se onvermoë om by die oop graf sy gevoelens van rou en verlies te verwoord. Die gedagte om ’n webwerf te skep waar elegiese gedigte ’n tuiste vind, het ontstaan. Digters is al vir eeue lank die spreekwoordelike profete, mitemakers, dromers en sjamaans wat gemeenskappe help heel met die genesende krag van die woord. Die AVBOB Poësieprojek, waarin gedigte die lig in al 11 landstale sou sien, is in 2017 gebore. Vanjaar is hierdie digprojek reeds sewe jaar aan die gang, en op 1 Augustus 2024 het die nuwe kompetisie afgeskop. Digters uit alle taalgroeperinge in Suid-Afrika kan deelneem, in hulle moedertaal. Die temas sluit in liefde, hoop, geboorte en dood; met ’n nuwe toevoeging tot dié register, naamlik “nuwe lewe”. Klik gerus op die volgende skakel om aan te sluit by die webwerf: https://www.avbobpoetry.co.za/?gclid=Cj0KCQjw8eOLBhC1ARIsAOzx5cFgPrUvcQ293T-nEJdixW_iFZVMXNVddkLG5cIq9Ij-D5OZrL_Va88aAuR4EALw_wcB
Met ’n hanteringsfooi van R300 vir elke gedig wat op die webwerf verskyn, asook kontantpryse en trofeë vir die wengedigte is dit lonend vir die digters wat deelneem aan dié projek.
Naledi het as uitgewer die reuse projek onderneem om die sewe I wish I’d said-versamelbundels uit te gee: die onlangs verskene bundel is die 2024-uitgawe, met ander woorde I wish I’d said…Vol. 7.
Die AVBOB Poetry Facebook-blad bied gratis leiding en mentorskap aan digters; AVBOB loods ook minikompetisies wat samehorigheid tussen Suid-Afrikaners bevorder, byvoorbeeld die historiese waarde van nasionale vakansiedae of ander belangwekkende internasionele tendense, soos ’n gesonde ekologiese bewustheid en geletterdheidsprojekte ter plaatse.
Naas die bevordering van skeppende poësie, is die AVBOB Poësieprojek ’n vertaalprojek met ’n antropologiese fokus. Met die vertaling van poësie word die sosiale konteks van die een taal na ’n volgende taal oorgedra en vind ’n multikulturele kruisbestuiwing op linguistiese vlak plaas. Lesers ontwikkel begrip vir ander mense se kultuur deur vertaalde poësie te lees. Die doelwitte van die AVBOB Poësieprojek is, in lyn met die uitgangspunte van die bekende internasionale Creative Europe-vertaalprojek, soos volg: Dit ondersteun en bevorder kulturele en linguistiese diversiteit in Suid-Afrika; dit bevorder die verspreiding en sirkulasie van gekeurde poësie in al 11 tale; dit bevorder die vertaling van tale wat minder gehoor word, of tale wat uitsterwing in die gesig staar; dit bied blootstelling en erkenning aan talentvolle Suid-Afrikaanse digters; die projek bied ’n uitstalvenster vir vertalers; dit skep die moontlikheid van publikasie in die I wish I’d said-bundels, en dit lei tot bekronings in al 11 landstale.
Volgens die hoofredakteur van I wish I’d said….Vol. 7, Johann de Lange, het daar reeds 22 789 gedigte op AVBOB se Poësiewebwerf verskyn sedert 2017; die keur uit ’n rekordgetal gediginskrywings van 204 674 in totaal.
II
“We are like butterflies who flutter for a day and think it is forever.” – Carl Sagan. Dít is die aanhaling en die brose tydelikheidsbesef waaraan ek dink wanneer ek kyk na die treffende omslagkuns met die turkoois vlinders, keurig ontwerp deur Jacques Nel.
Sedert die publikasie van die eerste volume tot met die jongste een, is die oogmerk van die AVBOB-projek om die ongesêde, die pyn en verlies wat dood bring, uit te druk in poësie. Johann de Lange beklemtoon in Volume 7 in sy voorwoord die vermoë van poësie om te troos en verlies uit te druk: “Death often leaves us grappling with feelings that are difficult to express – grief, loss, love, and remembrance. Poetry steps into this emotional void, offering words when our own fail us. A well-chosen poem can encapsulate the essence of a person’s life, capture the collective grief of a community, and provide a shared language for mourning” (XIII).
Carl van der Riet, hoofbestuurder van AVBOB, verwys in sý voorwoord na die simboliese waarde van die getal sewe wat numerologies bekend staan as die voleinding van ’n spirituele reis. “Periods of economic, biological and scriptural transformation and renewal come to mind. In various cultures and contexts, the seven-year cycle emphasises the natural rhythms and revolutionary nature of life. It seems fitting to take stock and reinvent ourselves now” (XVII).
Die bundels bestaan uit twaalf afdelings, wat eerstens die drie opdraggedigte in al elf landstale bevat en die room van die digters in elke taal verteenwoordig; en tweedens, die ses wengedigte in elke taal boekstaaf. Elke gedig word vergesel van ’n Engelse vertaling. Dit is nie ’n literêre vertaling nie; bloot ’n inhoudelike vertaling. In hierdie verband tree Douglas Reid Skinner op as vertaler en redigeerder van die gedigte van Afrikaans na Engels.
Die laaste en twaalfde afdeling van die bundel word gewy aan Khoikhoi, ’n vers, “Goat, of cattle and of sheep” getranskribeer en vertaal deur Toroga Denver.
Soos met vorige AVBOB bundels is daar ’n bemoeienis met ’n Khoisantaal, wat nie deel vorm van die amptelike tale in Suid-Afrika nie, maar nog steeds gepraat word. In Volume 1 verskyn daar ’n N|uu-gedig; en in Volume 2, twee |Xam-gedigte (uit die Bleek en Lloyd-versameling); eweneens, in Volume 3, drie |Xam-gedigte; en in Volume 4, vier gedigte van die digter Lynthia Julius, soos getranskribeer in !Xun Tali, Nama.
Met hierdie “twaalfde” tale, waarvan sommiges op die rand van uitsterwing staan, bemoei die AVBOB-bundels hulle met die idee van “taaldood.” Laasgenoemde tree in wanneer die laaste spreker van so taal uitsterf. In Volume 1 val die soeklig op Katriena Esau, een van enkele mense op aarde wat N|uu praat, ’n antieke San-taal wat na beraming 25 000 jaar oud is. Dit is veral die inheemse tale van die Noordkaap wat kwesbaar is. In hierdie verband bevorder die I wish I’d said-bundels erfenisbewaring van inheemse tale – en skakel die begrip “taaldood” uiteraard met die doods-/elegiese tematiek van die res van die bundels.
Die orale tradisie van Afrika-poësie, met inbegrip die lang en glorieryke geskiedenis van lofdigters (izibongo en imbongi) in die nege swart tale ter plaatse, is bekend om hulle lofpoësie, gebede, tradisionele himnes, fabels en treurdigte wat hulle voordra. Alhoewel die gesproke en gesonge gedigte steeds in hulle orale wortels geanker mag wees, het duisende gedigte reeds hulle weg na die AVBOB-webwerf en gevolglik die versamelbundels gevind.
Die elegiese aard van die versamelbundels vind hulle beslag in verskillende poëtiese vorme, soos dit uitdrukking vind in die onderskeie kulturele begrafnisrites en prosesse van roubeklag. Verlies, dood, vertroosting en verlossing, sommige met en sommige sonder moraliserende ondertone, word gevind in die bundels. Die gemene deler tussen die verse is dat dit op universele vlak handel oor die dood en die liminale prosesse van aflegging, asook verskillende beskouings oor die nalewe en die mitemaking van gode, (met verwysing na Charl-Pierre Naudé se magistrale filosofiewerk, In die rede geval: Waarom die mens mites maak (Naledi, 2023)).
Die oogmerke van die I wish I’d said-bundels is samevattend die volgende: (1) In die AVBOB bundels word daar uitdrukking gegee aan ’n “nuwe” of ongewone taal om pyn en verlies te verwoord; (2) Die bundels se fokus is om samehorigheid en ubuntu te bevorder; (3) Die bundels dra by tot die korpus Suid-Afrikaanse vertaalde poësie. Taljard verwys in haar Versindaba-resensie van die Volume 4-bundel só hierna: “Die gedigte wat op die webwerf lê, tesame met die hardekopieë van die vier bundels wat reeds verskyn het, dra by tot die vestiging van ’n kanon elegiese verse uit die suide van Afrika waarin verskillende tale en kulture naas mekaar lê en teoreties en wetenskaplik gesproke selfs naas mekaar gestel kan word. As sodanig bied dit tans geleentheid tot interessante vergelykende studies en teoretiese navorsing in verskeie akademiese vakgebiede.” (4) Die bundels verryk en verruim die behoud en vertaling van kwesbare tale, ook die wat moontlike taaldood in die gesig staar.
Dat daar reeds ’n sewende bloemlesing gepubliseer is, wys op die relevansie van die onderwerpe en dat digters nog lank nie uitgeskryf is nie. Hierdie projek boekstaaf dus nie alleen die dood nie, maar dit vorm ook ’n tydsdokument van gebeure soos byvoorbeeld COVID-19 en die oorlewendes se beskouings van die pandemie.
III
In hierdie resensie val die fokus op die drie Afrikaanse opdraggedigte, sowel as die ses wengedigte. Elke gedig word vergesel van ’n Engelse vertaling (inhoudelik en nie-literêr, soos genoem), deur Douglas Reid Skinner, en die bundel beslaan ’n 100 gedigte in totaal.
In “Kind” (4) van Betsie van Niekerk word gebruik gemaak van onderbeklemtoning en suggestie om ’n dogter, wat vervreem geraak het van haar ouers (weens ’n swangerskap), se kuier te beskryf. Die eerste en laaste strofes van die gedig:
“die rooi VW Golf
met die Botswana registrasie het uit ons oprit gery
om nie weer terug te kom nie
[…]
die poedel lê op haar pote
in die oprit en wag
Die woord “vrykamer” in strofe 4 word dubbelduidig gebruik en impliseer enersyds die erotiek tussen die verliefdes; andersyds, as sinoniem vir “gastekamer”. Die poedel in die slotstrofe dui op ’n tragiese substitusie vir die swanger dogter wat nie weer terugkeer nie. Met hierdie ontroerende vers bevestig Van Niekerk haar digterskap: Sy was immers deel van Opperman se Letterkundige Laboratorium en het gebebuteer met die geslaagde Ronkedoor (1988). Alhoewel Van Niekerk haar loopbaan voortgesit het as bekroonde jeugverhaalskrywer, was sy onlangs weer in die nuus met haar roman, …so ook op die aarde (Naledi, 2024). In ’n LitNet Akademies-resensie-essay ondersoek ek die Rooms Katolieke motiewe in dié roman:
Die tweede opdraggedig heet “ontruim” en is geskryf deur Gerhard Barkhuizen. Die spreker in die vers soek paradoksaal na tekens dat ’n oorledene nog lewe, maar tevergeefs. Barkhuizen verstaan dat ’n gedig ’n taalkonstruk is en gebruik kruisrym vernuftig om die verlies te verbeeld. Die slotstrofe:
die koffietafel lewer ’n geskenk,
in ’n album kleurryk voorgestel
word jy vir oulaas lewend gedenk:
blad vir blad voor my oog vervel (6)
Die laaste woord in die gedig is “vervel”. Hierdie werkwoord skep die verwagting dat die sin voortgaan, beskou binne die ‘nomale’ woordsoortposisies van die sintaksis. Maar die woord bly, onvoltooid soos die dood self, in die lug hang. Barkhuizen is ’n visuele kunstenaar en afgetrede sielkundige en het gedebuteer met Smee (Turksvy Publikasies, 2021). Die debuut is ’n uitvloeisel van sy MA in Skeppende Skryfkuns wat hy in 2017 onder leiding van prof Joan Hambidge voltooi het.
Met die derde gedig, “Verlatenheid” (8) lewer die literatuurwetenskaplike en digter, Hein Viljoen, ’n verrassende bydrae. Viljoen is bekend as skrywer van talle akademiese vakartikels en -boeke, asook vier digbundels, te wete Waterkristal (1982), Holtrom en groot kabaal (2003), Brisant (2019) en Vyf kleur blou (2023). In “Verlatenheid” beskryf die digter die klein ekosisteem van wilgerbome, plante en voëls wat ná die afsterwe van ’n persoon onverskillig en meedoënloos voortgaan met hulle biologiese prosesse. Die rivier mond uit in die see, metafories vir die dood.
“[…] drie / hadedas vlieg oor, skor en grondig aan die skel […]” (8) herinner aan ’n voorbode van die dood. Dié gedig du, soos die tema, voort in ’n stuwende enjambement.
Die wenner van die eerste plek in die kategorie Afrikaans is Salvia Ockhuis met “Metafoor (Vir Clement” (12). Ockhuis is ’n kortverhaalskrywer en het ook die derde plek verower vir ’n gedig in I wish I’d said…Vol. 4.
In die wengedig maak Ockhuis gebruik van ’n raaisel, of enigma, wat manifesteer as ’n plant en die sentrale metafoor van die vers vorm: “[…] en as ek nou ’n plant / in ’n beton- of rotsskeur / sien beur of blom, / slaan dit my asem weg: / ek dink dis jy wat t’rugkom / om te groet, […]” (12). In hierdie kompakte, minimalistiese vers word die elisie in “t’rugkom” funksioneel gebruik en doen dit nie argaïes aan, soos dikwels die geval met hierdie tegniek is nie.
Die bekende digter en kortverhaalskrywer, Diana Ferrus, verower die tweede plek met haar gedig “Ek is reg” (14).
ek is reg vir die groot trek
wat dit ook al beteken
ek wil die wilde dae
In Babilon systap
en met ’n klein karton
halfgevul vinnig uit by die pas
en aaneen sonder stop
stap
verby die lowergroen wingerd
die afdraai na ’n sagter straat
en my verbeel
ek kan swem in droë beddings
asem skep tussen die geel graslande
vir ’n rukkie rus en deur die nag
onder die sterrehemel stap
die slaap nie mis nie
net stap
my groot trek voltooi
Ferrus het internasionaal lof ingeoes met haar gedig, “Huldeblyk aan Sarah Baartman”. Dié veelvertaalde vers is deur Senator Nicolas About in die Franse Senaat voorgelees, en het ’n rol daarin gespeel dat Baartman se oorskot na honderde jare teruggebring is na Suid-Afrika. Ferrus is aktief as gemeenskapsdigter en die fasiliteerder van poësiewerkswinkels, en in 2022 ontvang sy ’n eredoktorsgraad van US vir haar lewenslange bemoeienis met die poësie. Sy het onder meer drie digbundels die lig laat sien, naamlik Ons kom vandaan (2006), I’ve come to take you home (2010), en Die vrede kom later (2019).
In “Ek is reg” gebruik die digter beeldspraak, kenmerkend van die eskatologie, om die liminale reis waarin sy haar eie dood verbeeld, te beskryf. Die gedig word gekenmerk deur ’n gelatenheid en invloede van ’n pastorale idille.
“Kamer sewe” van Herman Jonker het die derde plek ingeoes. Jonker is die skrywer van jagboeke, kontreiverhale en honderde tydskrifartikels en -rubrieke. Hy bedryf ’n Facebook-digblad genaamd Donker Jonker waarin hy die skryf van poësie inspan in sy stryd teen Hashimoto se outo-immuunsiekte en depressie. “Kamer sewe” sorg vir talle mooi reëls, soos die woorspel “verdut” en “toegedane” om die gang van tyd en nostalgie te verbeeld: “as dae verdut / agter toegedane gordyne / en die nanag leegloop / agter spoke aan” (16).
Die wenners van die vierde, vyfde en sesde plekke is onderskeidelik Annami Simon, Natalie Goetsch en Basil Blom, digters oor wie daar min inligting op die Internet beskikbaar is.
In vorige I wish I’d said-bundels was daar ’n groter konsentraat gevestigde of ‘gekanoniseerde’ digters teenwoordig: In die volume 7-weergawe is dit duidelik dat AVBOB en die redakteur van die afdeling, Daniel Hugo, die keurproses meer demokraties benader het om binne die gees van die Poësieprojek alle digters ’n regverdige kans te gee. Ook diégene wat nog nie solobundels agter hulle name kan skryf nie. Die negetal Afrikaanse gedigte spreek van ’n outentisiteit, verteenwoordigend van ’n wye substrata digters binne die poësiesisteem.
IV
Een van die eerste dinge wat agtergeblewenes vir AVBOB vra, is hulp met die opstel van begrafnisbriewe en -pamflette Want gewone woorde is ontoereikend. ’n Nuwe – of ‘spesiale’ – taal is nodig; soos reeds genoem. En hierdie taal is poësie, die volmaakte uitdrukking van verlies.
Tog was hierdie historiese voorlopers – begrafnisbriewe, troosbriewe (condolence letters), pamfletpoësie en kapboeke – deel van die groter korpus “begrafnisliteratuur”. Elegiese gedigte, hetsy klaagsange, lykdigte, treurverse of huldeblye is via selfpublikasie gedruk en versprei tussen geliefdes ter nagedagtenis aan die oorledene.
Die AVBOB-Poësieprojek en die bundel, I wish I’d said…Vol. 7 vul ook in die sewende bestaanjaar van hierdie projek dié historiese leemte. Of, soos die aangehaalde motto van Toni Morrison in die binneflap bevestig: “There is no time for despair, no place for self-pity, no need for silence, no room for fear. We speak, we write, we do language. That is how civilizations heal.”
Baie mooi projek