Die Dom – Keulen
Met die voorkant van die Dom
kon ek my nog versoen:
Dit is klip
en in ’n klipkerk is ek gedoop
aangeneem en voorgestel.
Die binneruimte sluk my ongeloof –
‘n leërskare eng’le
sou hier deur kon gier
sonder dat ’n vlerk die dak raakveeg
of aan die vloere skraap.
Ek prewel vir genade
onder die voetefluister
van bieglose toeriste.
Die ongenadige lig vereis
’n reiner ek,
fikseer my in sy brandkol vas.
Sou God dan hier wou woon,
in dié onrustige oordadigheid?
ek sien Hom liewer tuis
in ‘n klipkerk op my dorp
gebou uit doleriet
waar een sonstraal
deur die oostevenster
die stofdeeltjies
laat glinster soos
digitale gebedjies opgestuur
om vergiffenis af te pleit.
© Anton Döckel, 2024