Apokrief
Vir veertig dae het Hy
in die woestyn sondevloed beleef
en die duiwel wil hom verlei:
Red jouself.
Die stormwaters het gesak;
sy ark tot rus gekom.
toe het Hy die kraaie
uit Sy hart verjaag
en die duiwe in laat kom;
besluit Hy
om na sy Vader te luister
en die offerlam te word –
vir ons naas die reënboog
’n teken, nog groter, te gee.
© Anton Döckel, 2024
