’n Ander wêreld
Eunice Basson

Eunice Basson se derde bundel staan in die liriese en suggestieryke tradisie van haar twee vorige bundels: Leiboom (2014, Queillerie) en By die dag (2020, Protea Boekhuis). In ’n Ander wêreld fokus sy op die skoonheid en besondersheid van die alledaagse bestaan, die wonder van die kleine moment en die ander wêrelde wat hierdeur geaktiveer word:
Klein koninkryk
In ’n droë blomsteel van ’n agapant
is ’n wêreld in die kleine versteur
toe verkenners soos ’n oop kraan
oor die tuinier se snoeiskêr spoel:
Verskans teen die koue skuil
’n nes swart miertjies wat paraat
oor hordes larwes waak tot die eerste
tekens van lente hier en daar
in klein botsels aanmeld, dopluise
vol heuningdou hulself vir die kolonie
aanbied, en ’n nuwe geslag afstig
met ’n bloedeie koningin.
Vir die tuinier: ook ’n nuwe seisoen
van snoei en bot, van bloei en verwelk.
Prof. Alwyn Roux skryf die volgende oor die bogenoemde gedig: “[Hierdie gedig] illustreer pragtig hoe ’n mikrokosmos binne ’n agapant-blom vasgevang word. Nie alleenlik fokus die inhoudelike aspekte op hierdie fantastiese element van die blom en die ander wêreld wat dit huisves nie, maar dit zoem ook uit na die tuinier wat die blom snoei. Die digter is dus ook ’n samesteller van ’n bloemlesing, wat hierdie ander wêrelde van die natuur nader aan die mens se realiteit bring, maar self ook aan dieselfde natuur, van lewe, groei en doodgaan, onderdanig is.”
Basson se woordskilderye is klankryk, organies en intuïtief, maar is ontdaan van sentimentaliteit. Sy skryf oor die natuur en wêreldgebeure, asook treffende gedigte oor haar familiegeskiedenis en die dood van haar broer. Baie lesers sal hulle met die temas in die bundel kan vereenselwig.
Oor die outeur
Eunice Basson is ’n kunshistorikus en voormalige dosent aan UP en Unisa. In 2011 behaal sy die MA-graad in Kreatiewe Skryfkuns aan UP. Sy debuteer einde 2014 met die digbundel Leiboom en in 2015 behaal dié bundel die kortlys vir die Ingrid Jonkerprys. In 2018 is haar gedig getiteld Almanak een van die drie wenners in Litnet se Tyd- Skryfkompetisie.
[Protea Boekhuis 2024. PRYS: R220.00 (BTW ingesluit). FORMAAT: 137 x 213 mm. HARDEBAND/SAGTEBAND: Sagteband. AANTAL BLADSYE: 72. ISBN: 978-1-4853-1580-3.]
A, hier wag (weer) ‘n boeiende leeservaring.
Beste Bernard,
Dankie, sjoe…!