Dr. Petronella van Heerden (1887–1975) was die eerste Suid-Afrikaans gebore vroulike dokter en ’n oudinwoner van Harrismith en die Harrismith-distrik waar sy onder meer tydens die Groot Griep van 1918 gepraktiseer het. Sy was ook ’n skrywer, genealoog en plaasboer op die plaas Grootfontein naby Harrismith is.
Die skrywer, historikus en bekende boer van Harrismith, Leon Strachan, bied op Saterdag 16 November 2024 van 11:00 tot ongeveer 13:00 die tweede Dr. Petronella van Heerden-gedenklesing by die saal van The Houd & Hare op Swinburne, ’n nedersetting op die N3-roete naby Harrismith, aan.
Leon Strachan het sedert die einde van die 1980’s ’n aantal publikasies die lig laat sien, wat van ’n diepgaande belangstelling in die geskiedenis van en verhale uit Harrismith en die distrik getuig.
Deelnemers sal die geleentheid kry om ná die lesing saam met Strachan die laaste rusplek van dr. Van Heerden op Grootfontein, enkele kilometers van Swinburne af, te besoek.
Die historikus en skrywer, dr. Johann Lodewyk Marais, ’n navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Erfenisstudies van die Universiteit van Pretoria, het op 14 Oktober 2023 die eerste Dr. Petronella van Heerden-gedenklesing op Harrismith aangebied. Sy monografie, Fair and bloody: ’n Blik op dr. Petronella van Heerden (1887–1975), het by die Pretoriase uitgewer Imprimatur verskyn en word by die geleentheid bekend gestel.
Soortgelyke gedenklesings oor dr. Van Heerden word in die vooruitsig gestel elke jaar rondom hierdie tyd. Ingeligte sprekers uit Suid-Afrika en die Lae Lande sal elke keer genooi word om hulle navorsing en insigte oor dr. Van Heerden te deel.
Bywoning van die lesing en die besoek aan die plaas Grootfontein (opsioneel) is gratis en almal is welkom. Koffie en tee sal beskikbaar wees tydens die geleentheid.
Uitgereik deur dr. Johann Lodewyk Marais (montpelaan@gmail.com).
8 November 2024
