Ons Vader
Ons Vader wat woon in die hemel, U
omspan planeet, komeet en newelster;
dimensies ongetel begrens U nie,
tog is U hand en hart net een uitroep ver.
Laat U naam geheilig word – die EK IS
in vuur gegee. Laat dit dan wees, o Heer,
‘n Vlam wat suiwer op ons lippe rus
en elke dwaas en ydel woord verteer.
Laat U koninkryk kom, laat elke kind
in lande ver geraak word deur U Woord;
laat hul in krip en kruis die Redder vind
en tuiskom aan U boesem waar hul hoort.
Hy wat woon in hoogste hemelkring, Hóm
vra ons: Laat ook in óns U ryk nou kom.
© Stephan du Toit, 2024
