Petrus
Langs die meer het ons ontmoet: Sy hande grof
soos myne, Sy hart oneindig sagter;
waar ander wil stenig skryf Hy in stof;
vir ‘n lam wat dwaal is Hy die Wagter.
Helder in Sy oë was ‘n belofte
van dinge ver bo vissermansbegrip;
Sy dade dring my tot ‘n gelofte:
aan Hom ewige trou van hart en lip.
Sy Wese het ek gesien op die berg,
maar in die binnehof, vóór die oggendkraai,
het feilbaarheid my geloof verdwerg
toe ek in skande Hom drie keer verraai.
Ek sal Hom smeek om ook vir my – as Hy kan –
die nege-en-negentig te laat staan.
© Stephan du Toit, 2024
