Skoonheid
Sy móét daaraan vasklou asof haar lewe
daarvan afhang – want dit doen! Sy moet glo,
onwrikbaar glo, dat dit nie van háár strewe,
háár suksesse afhang nie – nee! Van Bo
is die goeie werk begin en van Bó sal
dit voleindig word. Die lentesaad
sal ontkiem en hoogbloei in die somer, al
die knoppe sal vrug dra, élke goeie daad
sal sy verrig. In haar val, wanneer herfsblare
afdwarrel en verstrooi, sal die lem kundig kap
en kloof, haar stroop van elke onsuiwer
loot – van haarsélf – waar sy in wintersjare
wroeg. Dán sal die lewenssap,
ongehinderd, haar Skoonheid ontsluier.
© Stephan du Toit, 2024

Lieflik.