Mag jy aanhou sterre hengel
skryf vir my ʼn weggaangedig
(dit hoef nie lank te wees nie)
skil my af – Breyten Breytenbach
dat om vorm te verleen aan die vormlose
nou in Afrikaans ʼn hardnekkige knou gekry het
is nie vergesog nie –
jy bewegingloos
onderweg na Kû
daar waar lesers vir engele sit en wink hoop ons dat jy mag sterre hengel
vanaf die nokke van dakke op die kroon van die kosmos se silwer glans
sit (vir nou) en laat jouself toe om ou vader te kul terwyl ons luister na die nag se nuus:
woorde van skok en ongeloof
jou heengaan só onverwags
in die woorde van ʼn volksdigter
die onsterflike sterflike
die een wat gesê het die dood maak weer lewend –
wat vir ʼn paar oomblikke in die wind
woorde kom opsoek het op die kruispaaie van die niet
dit aan ons (en onse soos ons) kom uit blaker het
toe die vier seisoene in verskeie maangelaatstrekke
sou wentel deur die donker oogappel van tyd
die onthou en die afskeid, die dae in die son
wat die maan te pyn is om van te vertel
en daarom dan herhaal moet word:
kom laat ons sing …
dat ons aanneem
dat jy dit sou wou skreeu uit jou uier:
dat hierdie lewe nie verniet was nie
ook die wete: dat jou rooi lied nooit sal sterf nie –
dat jou meditasies in rooi bloed
sal aanhou om ruimtes oop te maak
sodat voëls van eenderse vere
dag in en dag uit, tot in lengte van dae
horisonne oop sal kan kloof
met die vlerkstigmata van woorde –
dit waaraan jy gravitas verleen het
deur jou stem (wat altyd nuut sal bly, sal vernuwe) –
een vlug na die ander van stapel sal stuur
in die hart van Afrikaans
dans dan nou op die partituur van Śūnyatā
wees die nagvoël op reis
na ou-ou lande
waar digters met lappe smous:
Salaam Aalikoem
Aalikoem Salaam
© Bester Meyer, 2024
