brief aan breyten
(16 September 1939 – 24 November 2024)
“iewers raak ’n taal se laaste tonge op, sterwe uit.”
– Clinton V. du Plessis
die taal se gebalde trots
is uit haar moederskoot geskeur
en wat nou in die keelgat
van tyd se uurglas roggel
kan nie meer vasgevang word nie
ag, ál was die doodskus sag
was dit die oerknal wat finaal die taal
se tong uit ons volksmond kom ruk het
skeurklankwoorde trek nou tongbloed
en ’n treurlied bloei brandend
op die verdorde bossie bergblomme
in jou verwronge hande
ja, ons is uitgebloei aan gewonde woorde
want ou ysterkoei het finaal huis toe gedraai
© Selwyn Milborrow, 2024
