Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
10 March 202510 March 2025

Resensie: “Wilma Stockenström: Met my wysvingertop” (Ronel Foster, red.)

 

 

Resensie: Wilma Stockenström: Met my wysvingertop, Ronel Foster (Red.) Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en kuns en Protea Boekhuis. 2024.

 

Resensent: Marlies Taljard

 

Die bundel Wilma Stockenström: Met my wysvingertop is die sewentiende in die reeks wat deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgegee word en waarin skrywers wat met die Hertzogprys vereer is, gehuldig word. Die bundel is deur Ronel Foster saamgestel

Wilma Stockenström is een van drie vroue aan wie die Hertzogprys vir twee verskillende genres toegeken is. In 1977 wen sy dié prys vir poësie (vir Van vergetelheid en van glans) en in 1991 vir prosa (vir Abjater wat so lag).

Om so ’n bundel saam te stel, is ʼn enorme taak en verg jare se beplanning, navorsing, diplomasie en deursettingsvermoë. Daarom moet Ronel Foster gelukgewens word met die taak wat sy op haar geneem en suksesvol deurgevoer het. Die eindproduk spreek vir sigself. Ook die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns moet gelukgewens word met hierdie groot projek wat al heelwat vrugte afgewerp het en wat van onskatbare waarde vir die Afrikaanse Letterkunde is en veral nog sal wees. Die bundel is keurig uitgegee deur Protea Boekhuis. Enkele foto’s is ingesluit.

In die samestelling van die bundel is dit vanselfsprekend dat die hooffokus val op die twee werke waarvoor Stockenström met die Hertzogprys bekroon is.

Die bundel is gestruktureer in ses afdelings, naamlik “Artikels”, “Skrywersprofiel”, “Commendatio’s”, “Essay”, “Gedigte” en “Vertalings”. Ek gaan my in hierdie resensie hoofsaaklik bepaal by uitsette oor Stockenström se poësie.

Die eerste afdeling bevat agt akademiese artikels oor verskillende werke van Wilma Stockenström. Dit is alles artikels wat deur ʼn proses van eweknie-beoordeling gegaan het en bevat dus nuwe en belangrike navorsing wat ʼn bydrae lewer tot die korpus van werke oor Wilma Stockenström se plek binne die (Suid-)Afrikaanse letterkunde. Die wetenskaplike kwaliteit van dié artikels is vanselfsprekend professioneel. Hein Viljoen skryf oor aspekte van die Simbolisme in Van vergetelheid en van glans”, Alettie van den Heever ondersoek enkele klipgedigte in Stockenström se oeuvre, terwyl Marius Crous skryf oor die voorkoms van wat hy noem “die paradoksale grap oor die dood”. Thys Human en Amanda Marais se insigte oor Abjater wat so lag kom vervolgens aan die beurt, terwyl Bibi Burger oor ’n ander prosawerk verslag doen, naamlik Die kremetartekspedisie. Die laaste twee artikels in hierdie afdeling, deur Temple Hauptfleisch en Frederick Botha, belig Stockenström as aktrise en as dramaturg.

Hein Viljoen, ʼn vooraanstaande literêre kritikus en kenner van die Simbolisme, fokus in sy artikel “Van vergetelheid en van glans as voortsetting van die Simbolisme” op drie aspekte van die Simbolisme soos dit in die tersaaklike bundel voorkom, naamlik die raaiselagtigheid, die simboliseringsproses en die Simboliese toonaard. Hy voer aan dat die digter “die instelling en die werkwyse van die internasionale beweging van die Simbolisme [in hierdie bundel] voortsit” (p. 34). Viljoen se stiplees van verskeie Stockenström-gedigte soos “Winterslaap”, “By L’Agulhas ’n wandeling”, “Die kruis van Aviz” en “Die eland” bied inderdaad ’n nuwe invalshoek wat ’n belangrike betekenislaag tot die gedigte in die bundel onder bespreking én die bundels wat dit voorafgegaan het, toevoeg. Dit lyk egter asof Stockenström met haar volgende bundels haarself aansluit by ander internasionale bewegings soos die Modernisme en die Postmodernisme, maar dat haar simbole al hoe meer verankerd raak in Afrika en dat sy haar met dié kontinent vereenselwig.

Ook Alettie van den Heever spekuleer in haar artikel “Wilma Stockenström as donker eko-digter: die flikkering van die arche-litiese in enkele klipgedigte” oor die raaiselagtige aard van Stockenström se simbole en kodes na aanleiding van geselekteerde gedigte uit die keurbundel Die stomme aarde. Van den Heever lees dié bundel vanuit die perspektief van die ekokritiek, met spesifieke verwysing na Timothy Morton se konsep “donker ekologie” – die wyse waarop “die arche-litiese en primordiale verbondenheid van mens en niemens” (p. 39) in Stockenström se bundels deurskemer. Sy ontleed die gedigte “Paleontologie” en “Die klip” volledig en kom tot die gevolgtrekking dat daar uit Stockenström se klip-gedigte ʼn bepaalde nederigheid spreek, asook die gevoel van interverbondenheid met “die klip en die stomme aarde”.

In sy artikel “ʼn Paradoksale grap oor die dood in die poësie van Wilma Stockenström” bekyk Marius Crous die eiesoortige wyse waarop daar in Stockenström se poësie na die dood en die sterwensproses gekyk word. Hy gebruik die studieveld van die tanatologie en die poëtika van Emily Dickinson as invalshoek. Hy voer aan: “By Stockenström word die mens opgestel in sy ydele glorie en dan stelselmatig op ironiese en sardoniese wyse relativeer tot ʼn skedel of skelet – beslis kenmerkend van die paradoksale grap oor die dood.” Crous voer sy argument aan die hand van etlike gedigte uit die Stockenström-oeuvre, onder andere “Die ballade van die bitterarm dood”, “Die ou kerkhof”, dele van “Die heengaanrefrein”, “Hier kom die dik dood” en ander en toon aan hoedat die digter in haar werk die dood, die sterwensproses en die rituele wat deel is van die elegiese tradisie ondermyn en ontluister deur ironie en humor. Die “lag” is in baie gevalle ʼn proses van distansiëring en vernedering ten einde iemand tot orde te roep.

Ook Thys Human ontleed in sy artikel “‘Om sterwend te lag en laggend te sterf’: die nie-humoristiese lag in Abjater wat so lag” Stockenström se doodsbemoeienis en die klaarblyklike teenstydigheid van laggend sterf of sterwend lag. Hy ondersoek die invloed van Abjater se lag op die oujongnooi-hooffiguur en voer aan dat die verhaaltitel sowel na die eerste en tweede lag van Abjater verwys, maar veral ook na ʼn geantisipeerde “allesomvattende, koesterende lag” waarin “die begeerte na ʼn versoening of eenwording met Abjater” as ʼn huwelikseremonie in haar sterwensoomblik in die vooruitsig gestel word (p. 118).

“Abjater wat so lag” is ook die onderwerp van Amanda Marais se ondersoek. Haar hipotese is “dat die naamlose verteller en hoofkarakter vanuit ʼn marginale posisie as nienormatiewe vrou ʼn groeiproses ondergaan om uiteindelik as persoon in eie reg in die gemeenskap te staan, maar ook haar identiteit te vestig en te eien.” Sy gebruik die konsepte liminaliteit en heterotropie in haar ondersoek “ʼn Vroumens met betekenis”: identiteitskonstruksie via die liminale en heterotropiese ruimtes in Abjater wat so lag (1991)”.

Bibi Burger se artikel handel oor Stockenström se ander bekende roman: “Die kremetartekspedisie se sypeling verby die grense van Afrikanernasionalistiese en koloniale reisnarratiewe”. Sy toon, in aansluiting by van den Heever, aan hoe die niemenslike ʼn belangrike rol speel in die identiteitskeppingsproses van die verteller.

Temple Hauptfleisch toon aan dat, hoewel Wilma Stockenström dikwels sogenaamde kleiner rolle vertolk het en as aktrise minder opvallend was, sy haar rolle meesterlik vertolk het en inderdaad “talle oomblikke van wonderbaarlike diepte en ontroering geskep [het]” (p. 190). Sy “Bylaag” is ʼn besonder belangrike dokument waarin die outeur in tabelvorm ʼn oorsig gee van Stockenström se bydrae tot die Suid-Afrikaanse teater-, film- en mediabedryf, ingedeel volgens die rolle wat sy vertolk het, tekste wat sy geskryf of vertaal het en verhoogverwerkings van haar romans.

Die laaste artikel in die eerste afdeling is “Laaste middagmaal (1978) as miskende versetdrama en literêre voorganger van betrokke familiedramas” deur Frederick Botha. In hierdie drama word kwessies rondom Afrikaneridentiteit ondersoek gedurende ʼn krisistyd in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hoewel die drama destyds nie na waarde geag is nie, is Botha tog van mening dat dit nou in retrospek anders en meer positief beoordeel behoort te word.

Die eerste afdeling beslaan meer as die helfte van die hele bundel (228 bladsye) en is ʼn belangrike bron van toekomstige navorsing oor Wilma Stockenström.

Die tweede afdeling bevat ʼn besonder volledige skrywersprofiel wat deur Erika Terblanche saamgestel is. Dit bevat ʼn kort lewenskets en ʼn kort oorsig oor haar bydraes ten opsigte van drama en toneelopvoerings. Dan volg ʼn chronologiese bespreking van haar kreatiewe werk en die resepsie van elke werk. Ten slotte kom huldigings en internasionale erkenning aan die bod.

Die derde afdeling bevat die commendatio’s wat T.T. Cloete en J.P. Smuts by die toekenning van die Hertzogprys, Réna Pretorius by die toekenning van die Louis Luytprys en Kerneels Breytenbach by die Afrikaans Onbeperk Kanna vir Lewensbydrae tot Afrikaans 2007 gelewer het. T.T. Cloete sê:

Die verdienstelike van hierdie bundel [Van vergetelheid en van glans] is dat die omsetting in lig, van dinge wat deur die duister bedreig word, nie alleen in die gedagtewêreld of beeld en simbole van die gedigte uitgedruk staan nie, maar dat alle moontlikhede van die taal daarvoor ingespan is, dus ook sy klank en ritme, die sintaksis en ander dinge. Die prag van die bundel lê nie net op ideële of emosionele vlak nie, maar in die vers self wat al die geraffineerde nuanses van voel en dink opgevang het.

(p. 255)

Kerneels Breytenbach beskryf haar werk soos volg:

Serebraal én sensueel, nugter én singend, virtuoos, eiesoortig. Ons lewe in ʼn tyd van eenvlakkige, oppervlakkige taalgebruik. Lees jy Stockenström, vind jy die plesier van die taalspel terug, in inswaai van betekenis na ander standplase, die verskuiwing van woordfunksie in ʼn woelige poging om dinge anders te sien. Ek gebruik “poging” alleen uit gewoonte – Stockenström poog nie, sy doen en kry reg.

(p. 266)

Johann Lodewyk Marais se essay oor sy onthou van Ants Kisipuu en Wilma Stockenström staan alleen in die vierde afdeling van die boek. Soos net Johann-Lodewyk kan vertel, boei hierdie opstel omdat dit iets van die twee figure se private lewe weergee en ʼn interessante staaltjie vertel oor Wilma Stockenström se man Ants Kisipuu, die bekende poliglot en reisiger.

In die afdeling “Gedigte” staan ʼn gedig van Joan Hambidge, vier gedigte van Johann de Lange en een van Petra Müller wat aan Wilma Stockenström of Ants Kirsipuu opgedra is. “Vertalings” bevat vier gedigte wat deur Johann de Lange uit Afrikaans in Engels vertaal is. De Lange is een van die mees begaafde Suid-Afrikaanse vertalers en sy vertalings wat hier opgeneem is, is inderdaad meesterwerke: “The eland” (“Die eland”), “Flight and departure” (Uit “Vlug en aankoms”: II), “The time steps silently (“Die tyd loop katvoet”) en “With the tip of my index finger” (“Met my wysvingertop”).

Die laaste afdeling van die boek, wat waarskynlik vir navorsers die heel belangrikste is, is Ronel Foster se “Uitgesoekte bibliografie”, ʼn uiters volledige stuk navorsing wat oor 29 bladsye (kleindruk) strek. Hierdie is ʼn uitmergelende werk wat met groot sorg en toewyding uitgevoer is. Dit bestaan sowel uit primêre as sekondêre bronne en elke deel bevat ʼn inhoudsopgawe ter oriëntering van die navorser. Die bibliografie word ruimskoots toegelig deur voetnote.

Opsommend: Die huldigingsbundel vir Wilma Stockenström is primêr ʼn ernstige akademiese uitset wat uiters waardevol is vir navorsers. Dit is egter ook ʼn werk wat deur ingeligte lesers en liefhebbers van Stockenström se werk gelees kan word. As koffietafelboek dien dit die doel dat mens van tyd tot tyd daardeur kan blaai en verkennend kan lees. Ek het die foto’s in die middel van die boek meermale besoek. Hierdie bundel hoort in die boekrak van alle ernstige lesers. As vakliteratuur kan dit meeding met die heel beste!

 

Bronnelys

Foster, Ronel (Red.) 2024. Wilma Stockenström: Met my wysvingertop. Pretoria: Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en kuns en Protea Boekhuis.

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Joan Hambidge. Johan van Wyk en Ingres: Die gedig as portret
Joan Hambidge. Johan van Wyk en Johann de Lange: Andy Warhol →

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Joan Hambidge. Kerstyd 2024
  • Maritha Broschk. tafelgebed
  • Stephan du Toit. Namib
  • Joan Hambidge. The upturn palm
  • Albi Prinsloo. Verlossing

Nuutste bydraes

  • Natasha Harmse. Sikade
  • Stephan du Toit. Graaff-Reinet
  • Natasha Harmse. Die weefstoel
  • Margaret Cordier. Wes-kus Desember
  • Sanette Scheepers. Vrykoop

Nuutste kommentaar

  1. Rina Cascione on Nini Bennett. My Octopus Teacher5 December 2025

    'n Allerlieflike gedig oor 'n wonderlike dokumentêr. Dankie Nini! Jy het dit met soveel verbeelding vasgelê.

  2. Johan on Sanette Scheepers. Vrykoop5 December 2025

    Ek hou daarvan en ek verstaan die inhoud.

  3. Ben Nel on Andrea Sieberhagen. Ontsnapping5 December 2025

    Andrea, jy is ‘n rots Baie dankie vir jou bydrae tot die samelewing! Groete Ben

  4. Schalk Botha on Andrea Sieberhagen. Een helder ster4 December 2025

    Dis dalk nie die beste aand om hierdie impakvolle gedig te lees en te bedink nie; veral om uit ‘n…

  5. Marthé McLoud on Johann Lodewyk Marais. Johann de Lange in Sunnyside en Pretoria.3 December 2025

    Ek geniet die artikelreeks oor Johann verskriklik baie. Baie interessant. Dankie daarvoor.

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d