I
Die digter en essayis Stephen Watson (6 November 1954 – 10 April 2011) was indertyd hoof van Kreatiewe Skryfwerk aan UCT. Sopas het In These Mountains verskyn.
Uitgegee deur Pentrich Press en versamel deur Hugh Corder, vriend en voormalige dekaan aan die Regsfakulteit aan UCT, met die hulp van die skrywer se vrou Tanya Wilson, is hierdie belangrike boek byeengebring. Op die agterblad word dit deur Damon Galgut aangeprys as die “spiritual geography” van daardie plek. Die digter C. Louis Leipoldt se terrein.
https://www.facebook.com/photo.php?fbid=1884476191739290&id=404948289692095&set=a.405418089645115 Besoek 12 Desember 2024
Die versameling begin met gedigte en dan vind ons kontemplasies en meditasies uit dagboeke.
Watson se bemoeienis met die digkuns en sy wye belesenheid is indrukwekkend. Die digkuns as ‘n ruimte vir helderheid en die soektog na la querencia, oftewel ‘n plek waar jy veilig voel en presies weet wie jy is. (Dit is die term van die Amerikaanse omgewingsbewuste skrywer Barry Lopez.)
In ‘n essay “Bitter Pastoral: A Talk About the Cedarberg” verduidelik hy hoe hierdie ruimte hom reeds bekoor het as kind. Die vader het die kind hiernatoe gebring in die vroeë sestigerjare en deur die jare het hy as volwassene telkens teruggekeer. In hierdie verskillende tekste word die leser deurentyd bewus van “The Baptism of Solitude”, so klinkend beskryf deur Paul Bowles. Dit het niks te make met alleenheid nie, aldus Bowles en Watson, maar met re-integrasie van die self: met ‘n ‘n vermoë om ‘n nuwe roete te volg.
Dit is eweneens iets wat ook na vore kom in die film The Sheltering Sky (1990) met Bernardo Bertolucci as regisseur en Bowles as die kommentator op die gebeure. ‘n Buite-egtelike verhouding en siekte. En die dood wat alles verander.
Debra Winger, John Malkovich en Campbell Scott in Noord-Afrika en die impak van ‘n nuwe ruimte op hul lewens en psiges. Gebaseer op die 1949 roman van Bowles. Hier is die landskap die woestyn.
Uit New York deur die Sahara.
II
Watson beweeg vanuit Kaapstad na die Sederberge. Hugh Corder verwys ook na ‘n tydelike verblyf in Oxford, maar veral Kaapstad en die berge word hier dwingend beskryf. Die metafisika van die atmosfeer, soos ook beskryf in ‘n digbundel.
Stephen Watson – The Light Echo and Other Poems (2007) Besoek 13 Desember 2024
Op die gelade vraag of hy ‘n landskapdigter is, antwoord hy in hierdie teks. Hy skryf oor die liefde, die politiek, hoe hy stem buite Kaapstad en besin oor die rol van die digkuns.
Wat dit alles behels om ‘n digter te wees. Die digkuns as ‘n spirituele reis.
Hy neem sterk standpunt in teen die siening dat die digkuns net ‘n taalspel is. Hy was indertyd in ‘n polemiek betrokke met Andries Oliphant oor struggle-gedigte. Watson se standpunt indertyd was dat ‘n boodskap nog nie van so ‘n uiting ‘n gedig maak nie.
https://journals.co.za/doi/pdf/10.10520/AJA10231757_88 Besoek 13 Desember 2024
Uiteraard is besinnings oor die digkuns altyd gelaai met teenstrydighede. Van uitsprake met “mordant irony” tot diepe dankbaarheid en versoening met die natuur. Hierom is daar vele verwysings na pastorale digkuns. Die teks (ook met foto’s) bevat beskrywings oor sonsondergange en hoe dit in tyd en ruimte beleef word.
“It even creates the illusion that the sunset has been captured by the river that now flows away, bearing the light entangled on its moving surface” (85).
Philip Larkin kom na vore wanneer hy nadink oor die liefde en George Steiner oor spiritualiteit en stilte. Ezra Pound se beroemde reël bekyk hy van naderby: ”The leaves fall early this autumn, in wind” (79). Wat behels “being” nie alles nie? En Pablo Neruda word geaktiveer: “I cannot exist without leaves / flying and falling to earth” (78).
Die vlietendheid van alles, die jaargetye wat telkemale verander met die wete dat enige kunsvorm sonder ‘n postulaat van God (of “a leap of faith”) is minder as kuns wat wel daarmee werk. Ons dink hier aan T.S. Eliot, o.a.
George Steiner se Real Presences (1986) is hier tersaaklik.
Die misterie van die lewe (en die digkuns) word pakkend beskryf via Milosz en Wittgenstein. Die postmoderne bestaan en sogenaamde “language poetry” word gekritiseer.
Die besoeke aan die Sederberge word ‘n herinnering aan die Alpe – met ‘n slaapsak “rimed with frost” (57).
Afrikaanse woorde kry ook hier ‘n lêplek soos perdebos, geelbos, suur riet en lappies brand (54).
En wanneer ‘n kind opmerk “the frost is so frosty” hoor jy Victor Šlovsky, die Russiese Formalis, oor die digkuns (54).
John Berger se siening “the transcendental face of art is always a form of prayer” (52) is die sub-teks.
Hy herlees Camus en sy laaste werk is ‘n triomf – ofskoon onklaar … ‘n Besinning oor sy moeder, Algerië, wat ballingskap behels (indien ek dit reg benader): is ‘n sirkelgang, ‘n terugkeer. Le Premier Homme (The First Man) is die outobiografiese roman gevind in die modder toe Camus gesterf het op 4 Januarie 1960 in ‘n motorongeluk.
Dieselfde geld Stephen Watson se skeppende werk. Weifelend tussen outobiografie (soos Seamus Heaney in The Redress of Poetry), digkuns, joernaal, reisverslag en lesings. Heaney se lesings (tussen 1989 tot 1994 gelewer aan Oxford) besin oor die funksie van die digkuns.
Dit is ‘n ryk geskakeerde boek.
III
Adhortatio
vir Jonty Driver (1939–2023)
Op ’n koue wintersoggend
gevra om iets oor jou te skryf.
Lykdigte, nes opdragverse,
eis retoriese strategieë,
sou jy beter snap as ek.
Hoe sal jou blou oë
kyk na hierdie vers?
Daardie priemende blik
beleef op ’n koue wintersdag
in McGregor eis adhortatio:
jou toestemming as mens
en digter; ’n tyd lank staatloos
weens jou politiek. In Brittanje
kom jy aan, immer verlangend
na jou mense, land en jeug.
Nou is jy weer tussen ruimtes:
“Pack up the moon and dismantle
the sun”, leer Auden ons, en mag
jy uiteindelik ’n nuwe rusplek vind
tussen digters wat jou verstaan
met agtergeblewenes soos ek, Douglas
en vele ander, wat jou lof besing.
Stuur beste wense vir Stephen Watson
en Patrick Cullinan. Steeds verder,
verderaan, sal ons jou sekwensies lees.
© Joan Hambidge
Kaapstad 13 Desember 2024
Een regstelling van Hugh Corder:
Net een klein maar belangrike regstelling; In These Mountains is beslis nie my werk met Tanya se hulp nie; die idee het by Stephen self ontstaan in sy laaste dae, en Tanya het die voortou geneem om die versameling tot stand te bring, met my entoesiastiese samewerking heelpad.