Woning
Hy berei vir ons ‘n woning: lig stroom
deur ruim vensters in elke vertrek, teen
die mure skryf Hy woorde van seën,
‘n dogtertjie met ‘n strooihoed, soos in ‘n droom,
speel met ‘n blou bal in die skildery,
op my bed ‘n donskombers, in die kombuis
is koffie, volroommelk, beskuit met anys
teen laatmiddag sal Hy ons kom haal, by
‘n vuurtjie sal ons gesels en afkyk
oor die veld waar gemsbokke vreedsaam wei
in die golwende blinkaargras wat sprei
tot aan die grense van Sy koninkryk,
later sal ons binne kuier, een van gees,
ons sal gaan slaap en ons sal tevrede wees
© Stephan du Toit, 2025